DINSDAG 6 MAART 2012
Soos ek deur my Julie 2004 notas oor die SELF lees, word ek herinner daaraan dat die konsep van die “persoon” moeilik is om vas te vat.
Fisies is ’n persoon ’n versameling selle (meer as tien triljoen van hulle), wat op hulle beurt bestaan uit proteïne en nukleïnesure en ander biomolekules, wat op hulle beurt bestaan uit nog kleiner dele genaamd atome, wat weer bestaan uit subatomiese deeltjies. Meeste van die selle waaruit die mens bestaan, wat hare vorm, en vel, en naels en bloed en geraamte, word vervang teen wisselende spoed – van elke paar dae tot elke paar jaar. Fisies is ’n betekenisvolle persentasie van jou dus nie werklik ouer as ’n paar jaar nie. Jy is tot ’n groot mate nie dieselfde versameling selle wat jy was tien jaar gelede nie!
As jy dink die fisieke aard van die mens is moeilik om vas te vat, gaan die psigiese aard van die mens jou nog meer laat gryp na iets om aan vas te hou. Hoe presies werk geheue? Hoe weet jy wie jy is? Hoe vorm persoonlikheid, en hoe verander dit? Hoe maak jy keuses? Hoe besluit jy op jou voorkeure en jou afkeure? Hoekom hou jy van sekere dinge of van sekere mense of plekke, en jy haat ander dinge of plekke, en vermy sekere mense soos die pes? Hoeveel besluit jy, en hoeveel ontdek jy? Tot watter mate is sogenaamde vrye wil ’n illusie?
WOENSDAG 7 MAART 2012
Moontlikhede vir die onstaan van die SELF:
Moontlikheid een: Binne enkele oomblikke nadat die kind gebore word, is daar ’n “wind” wat deur die vertrek waai. Die pasgebore kind se bewussyn van self word kort daarna geaktiveer, as’t ware. In hierdie geval sal dit sin maak om te vra, “Wie of wat het dit veroorsaak?” Dit maak verder sin dat mens by hierdie bewussyn-aktiveerder (of Bewussyn-Aktiveerder) antwoorde, of dan ten minste leidrade, sal soek oor die doel en betekenis van jou bestaan.
Moontlikheid twee: Dit is ’n stadige proses wat in klein inkremente gebeur: aanvanklik niks, of amper niks; later sal ’n mens kan sê dat “êrens tussen Maart en Junie” die kind ’n bewussyn van homself ontwikkel het. Dit sal dalk verduidelik hoekom ’n pasgebore baba soveel skree. As hulle die woorde geken het, sou hulle heel moontlik wou gil: “Wat de hel?! … was die een oomblik nog deel van iets … en die volgende oomblik … Wat gaan hier aan? Wat is ek?!” In hierdie geval is daar geen dramatiese oomblik waar die bewussyn geaktiveer is nie, so daar is niemand of niks om te probeer kontak vir antwoorde nie.
______________________