MAANDAG 22 DESEMBER 2014
’n Naam, dit weet almal, is meer as ’n klank wat geuiter word wanneer iemand spesifiek jóú aandag wil trek. Dis meer as ’n trek van lyntjies en krulle op papier vir administratiewe doeleindes. ’n Naam koppel jou aan mense, en aan verhoudings. Ek is nie net “Brand Smit” nie – ek is “Brand”, seun van “Barend” en “Adriana”.
Hierdie verbintenis gee vir jou ’n aanduiding van hóé en moontlik selfs wáár jy jouself moet posisioneer. Byvoorbeeld, is “Barend” en “Adriana” figure in die Russiese kriminele onderwêreld? Is hulle Inuïete wat woon in ’n nedersetting in die noorde van Kanada? Is hulle wynboere in Chili?
Soos dit uitgewerk het, is my ouers pottebakkers en besigheidsmense van meestal Europese afkoms, wat Afrikaans praat en grootgeword het in hoofsaaklik Afrikaanse gemeenskappe in Suidelike Afrika. Dit gee vir my iets om mee te werk, of dit het vir my iets gegee om mee te werk beginnende ’n bietjie meer as veertig jaar gelede.
Daar is een belangrike punt wat ek vermoed baie mense miskyk, of misverstaan. Hierdie inligting oor my kulturele, etniese en linguistiese herkoms het nie vir my gesê wié om te wees of wát om te doen nie, dit het bloot vir my gesê wáár om te kyk vir idees oor wat om te doen en wie om te wees. Dit sê dus nie, wéés dit nie. Dit sê: Soek hier.
______________________