DONDERDAG 13 AUGUSTUS 2015
Ek leer steeds hoe om my toekomstige brood en botter te verdien deur te spekuleer met pryse op die wêreld se grootste sportweddenskapruilhandelmark – in my geval Britse perderesies, voor die resies begin. Ek wil nie nou en hier verslag lewer oor hoe ek doen nie. Ek wil wel noem dat ek teen hierdie tyd ontdek het hoe ek reageer op verliese, en wanneer iets wat ek verwag het gaan gebeur, nie gebeur nie – met die resultaat dat ek nog ’n paar sent of ’n paar dollar moet afstaan aan iemand anders.
Ek vind dit interessant hoe moeilik dit kan wees vir my om geld te verloor – meeste van die tyd klein, onbeduidende bedrae. En dan is daar die hoop, en die veronderstellings. Ek hoor nou die dag iemand sê in ’n film op TV: “I can take the pain, but the hope is killing me.” Ek kon net wrang glimlag. Ek is ’n redelik optimistiese ou. Ek wil glo môre gaan beter wees as vandag. As die eerste tekens wys dat dinge goed lyk met ’n transaksie, is my vuis reeds gebal en gereed om triomfantlik die lug in te skiet. Dan blyk dit dinge het net op die eerste blik goed gelyk. En my vuis verslap. My skouers sak. Gebeur dit ’n paar keer in een week, wonder ek weereens of ek nie moet opgee nie (ek verwoord dit net anders, want praatjies van opgee kan maklik alledaags raak).
Ek kan nie onthou wat ek veronderstel het toe ek begin het met hierdie projek nie, maar ek reken ek het gedink dit sal ’n maand of so vat voor my rekening sal begin groei. Uiteindelik het ek meer realisties geraak en begin praat van agtien maande tot twee jaar. Op ’n kleiner skaal maak ek gereeld die veronderstelling dat dit al beter gaan, dat ek nader aan daai ontwykende punt van sukses kom. Dan ontwyk dit my weer. Dan slaan die teleurstelling weer.
Dit, aan die einde van die dag, is interessant – vir die deel van my wat belangstel in dinge van hierdie aard, en minder gepla is met hoeveel geld ek maak … of nie maak nie. Ek wil amper so ver gaan om te beweer dat hierdie sterk emosionele reaksie daarop om te verloor, of om verkeerd te wees, of om teleurgesteld te wees wanneer ek gehoop het op iets beter, die geld werd is wat ek sover daarop spandeer het.
VRYDAG 21 AUGUSTUS 2015
Verskil tussen 30 en 44, vir my: ’n ekstra dekade en ’n paar jaar om myself waar te neem in situasies, en met sekere uitdagings, en te sien waar ek oukei is, en waar my ontblote hakskeen is.
______________________