WOENSDAG 18 MAART 2015
Die woord epifanie kan nie sommer enige tyd rondgegooi word nie. As ek derhalwe sê Vrydag 13 Maart 2015 se “Enkele aangename en onaangename waarhede” begin toenemend soos ’n epifanie te lyk, is ek duidelik in ’n ernstige bui.
Dit laat my voel asof ek in die moeilikheid is. Ek het oor die jare dosyne kere toegelaat dat ek verlei word deur optimisme en geloof in my eie vermoëns. “Haai, dit lyk soos iets wat ek kan doen!” is gewoonlik sonder om langer daaroor te dink, opgevolg met aksie. En voor ek myself van die rand van die afgrond kon red, het ek nog ’n projek begin, myself verbind aan nog ’n taak – nog interessante boeke in ’n spreekwoordelike sak gepak wat ek lankal nie meer oor my skouer kon gooi nie.
Ek sien hoe ander mense wat soortgelyke projekte as ek onderneem verby my stap. “Sterkte!” sal hulle oor hul skouers roep soos ek hulle stof proe op ’n droë tong. “Jou boot sal een van die dae inkom!” sal een dalk byvoeg as ’n nagedagte.
Ek is my eie grootste hulpbron. Ek is ook die grootste struikelblok in my pad na sukses.
______________________