Om geld te maak, is ’n noodsaaklike onaangenaamheid

DONDERDAG 28 APRIL 2016

Daar is mense wat regtig daarvan hou om geld te maak. Hierdie mense weet hoekom hulle geld maak. Dit laat hulle goed voel om geld te hê; hulle hou daarvan om geld te spandeer, en hulle hou daarvan om goed te besit.

Ander mense dink nie veel aan die rede hoekom hulle geld maak nie. Hulle weet alte goed as hulle nie geld inbring elke maand nie, gaan nie net húlle swaarkry nie, maar ook geliefdes wat afhanklik is van hulle, of wat op hulle finansiële bydrae staatmaak.

Ek het die nare gewoonte om sake soos hierdie te kompliseer. Ek vind dit nodig om aan spesifieke redes te dink hoekom ek wil geld maak, of hoekom ek reken ek nie ’n keuse het anders as om geld te maak nie.

Een van die redes hoekom ek tans meer geld wil maak as wat ek nodig het, is omdat ek in ’n posisie wil wees binne die volgende tien of vyftien jaar waar ek minder aktief kan wees in die proses van geldmaak. Dit sal verder besonders goed wees as my lewensmaat ook in staat kan wees om minder van háár tyd te spandeer daaraan om geld te maak.

Wat die geldmaak-storie vir my kompliseer is dat ek nie die aktiwiteite waarmee ek tans geld verdien, beskou as my werklike professie nie. Ek skryf, en ek publiseer wat ek skryf – dit is my werklike beroep, en ek is goed bewus daarvan dat dit heel waarskynlik nooit veel geld sal inbring nie.

Het ek dus nie nodig gehad om geld te maak nie, sou ek heel waarskynlik nie veel daaraan gedink het nie. My produktiewe ure elke dag sou gevul gewees het met werk wat ek as belangriker ag as enige arbeid waarmee ek vergoed word met harde kontant of geld in my bankrekening. Ek sou besig gewees het om met my hande woorde en sinne te produseer in ’n notaboek of op ’n rekenaar, en as ek nie besig sou wees daarmee nie, sou ek besig gewees het om te dink aan dinge wat waarskynlik sou opeindig op papier of in een of ander digitale formaat.

Om geld te maak, is derhalwe vir my ’n noodsaaklike en onvermydelike onaangenaamheid.

______________________