Korea: Broeikas vir my griewe?

VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004

As ’n mens deur die 1996-1998 materiaal lees, kry jy maklik die idee dat Korea ’n broeimasjien was vir my griewe, en vir my onsekerhede en vrese. Ek was ietwat verbaas toe ek sien hoeveel gif ek in daai tyd gespoeg het oor “suburbia” – dinge soos “die vloek van suburbia”, “ek haat suburbia nou meer as ooit” en “kultuur en kuns vrek in suburbia” (om net ’n paar van my gunstelinge te noem).

Wat presies was my probleem met lewe in ’n middelklas voorstad? Die argitektuur van die plek is nie vergelykbaar met ou Europese stede nie, maar genade, wat verwag ’n mens? Die gemiddelde voorstedelike tuin is ook nie Kirstenbosch nie, maar die gemiddelde voorstedelike burger is nie Cecil John Rhodes nie! En wat is ’n braai op ’n Saterdagaand, Kersetes, verjaarsdagpartytjies, rugby op TV, en laatmiddagstappies met die hond as dit nie kultuur is nie? En “kuns vrek in suburbia”? Komaan!

Nietemin, ek voel verplig om vir myself op te kom. Suburbia het vir my oor meer gegaan as net die spesifieke argitektuur van drie slaapkamer huise – of enige ander weergawe van ’n voorstedelike huis, of die hoeveelheid blomme in die voortuin of hondedrolle in die agterplaas. Dit was ’n simbool van ’n breër verskynsel in die samelewing, waar mense die heeltyd oor die spreekwoordelike heining loer om te sien hoe die bure daarna uitsien, in watse klere hulle rondloop, in watse model motorkar hulle rondry, en hoe gereeld en waarheen hulle op vakansie gaan. Status in hierdie gemeenskap is soos ’n duiwel wat mense jaag om dinge te doen wat hulle nooit voorheen gedink het hulle ’n hele lewe aan kan wy nie. Aan wát word sukses en mislukking gemeet in die middelklas? Aan geld, en professionele status. Die man slaan sy vrou? Erg, maar dis veel erger as hy nog ’n finansiële mislukking ook is. Die Prinsloo kinders doen so goed op skool? Goed en wel, maar het jy gehoor dat die pa alweer van werk verander? ’n Man of vrou wat nie weet hoe om moraliteit te spel nie, maar “het jy gesien hulle ry nou ’n nuwe BMW?”

Natuurlik het dit ’n verskil gemaak dat my eie familie stof aan die verkeerde kant van die lyn geproe het. Natuurlik sal mens ’n bietjie sukkel met griewe wanneer jy van die grond af opstaan. Ek kon nietemin nie anders as om myself te konfronteer met die vraag of “hulle” reg is, en of “iets” dalk verkeerd is met die “hele storie” nie.

Hoe voel ek deesdae oor die sosio-kulturele verskynsel wat die middelklas voorstad is?

Ek het op ’n kol genoem dat ek nie meer ’n probleem het met die idee van ’n aangename drie slaapkamer huis, ’n netjiese tuin, ’n grassnyer, twee honde en ’n kar nie (en ek weet die middelklas gaan oor meer as net dit). Ek kan hierdie posisie inneem want ek het die konsep van lewe in ’n middelklas voorstad wat so by my gespook het in Korea, die afgelope paar jaar ’n bietjie uitmekaargetrek, en mooi gekyk presies wat dit is wat my so pla aan die plek, en watter aspekte eintlik maar onskuldig is – soos die arme honde, en die grassnyer. Ek het uiteindelik besef dat dit nie gaan oor die huis of die tuin of die bure nie, maar oor wat jy doen om ’n lewe in die middelklas te kan bekostig.

______________________