Nie desperaat genoeg om ryk te word nie

DINSDAG 28 OKTOBER 2003

Ek is nie desperaat genoeg om ryk te word nie. En ek bedoel nie om te sê dat hierdie verlangde toestand moet arriveer op die oomblik wat ek die laaste kleingeld uit my broeksak trek nie. Nee, hierdie desperaatheid moet kom wanneer mens sit met ’n hele lys vol aksies wat jy kan neem, items wat jy kan koop, en ’n aantal verbeteringe wat ’n mens net kan aanbring wanneer jy sit met werklike harde valuta in die bank.

Daar is geen twyfel daaroor dat nóú die tyd is om ryk te wees nie. As jy nie ’n terroris is nie, het jy bykans onbeperkte geleenthede om oral in die wêreld te reis. Die welgestelde man of vrou kan ook op eindelose inkopietogte gaan om ’n verskeidenheid produkte te versamel wat elke behoefte waaraan hulle kan dink, kan bevredig. Hulle kan natuurlik ook lede van die teenoorgestelde geslag, of watse geslag hulle ook al verkies, na hulle toe aantrek.

Ekself volg nie juis mode nie, en ek is geen toegewyde dissipel van die verbruikerskultuur nie. Maar indien welstand onverwags op my moes neerdaal, sou ek wel vir myself koop ’n paar nuwe hemde en miskien ’n nuwe langbroek (my enigste ordentlike broek is versier met veelkleurige spatsels verf). Ek sal ook vir my ’n nuwe rekenaar koop, en ’n nuwe fiets. En dan sal ek Japan toe vlieg, ekonomiese klas, ten spyte van die feit dat ek ’n meer gesogte sitplek sal kan bekostig. Om op so ’n vakansie te kan gaan sal beteken dat ek inderdaad ’n mate van vryheid van beweging bereik het wat tot nou toe net verbeel is tydens periodes van intense rus. Ek sou ook Suid-Afrika toe kon gaan vir ’n paar dae om my voorrade van ordentlike toiletpapier aan te vul, ’n paar bottels Steers knoffelsous te koop, en ’n paar tydskrifte waar ek nie twee Engels-Chinese woordeboeke hoef te raadpleeg net om die titel te verstaan nie.

Nou is nie net die tyd om ryk te wees nie, dit is ook die tyd om ryk te word. Tegnologie wat voorheen buite die bereik van gewone mense was, is in vele gevalle nou so maklik verkrygbaar as ’n nuwe hemp, en nie noodwendig veel duurder nie. Dit het ’n mantra geword wat ek gereeld resiteer vir almal binne hoorafstand dat dit nou minder nodig is as ooit tevore om jou arbeid aan die hoogste bieër te verkoop, asook om jou keuses van kleredrag en jou vryheid van spraak, denke en beweging aan korporatiewe goedkeuring te onderwerp. Inligting oor spesifieke metodes, vaardighede en truuks is oral beskikbaar vir die korporatiewe lyfeiene wat ’n entrepreneuriese ontsnapping beplan, of vir die rebel wat tot dusver onaangeraak is deur die fascistiese kloue van korporatiewe instellings.

Om te soek na hierdie inligting en dit te vind is een ding. Die maagdelike entrepreneur moet ook sy of haar manier van dink oor dinge sorgvuldig analiseer, heroorweeg, en verander waar nodig. Hulle moet verstaan dat om vrye, skeppende werk te doen onder ’n mens se eie beheer selfdissipline vereis, en ambisie, en vertroue in jou vermoëns en talente – en ’n eerlike beskouing van jou swakhede. Dit vereis dat die aspirant-suksesvolle entrepreneur lang ure sal moet werk – amper soos in ’n korporatiewe omgewing, maar hopelik by die huis, in klere tien keer gemakliker as ’n langbroek-das-en-baadjie of ’n stywe rompie, met musiek van sy of haar keuse wat die luggolwe vul wat voorheen besoedel was deur die gille en getjank van korporatiewe gesagsfigure.

Al hierdie nuttige brokkies advies is nie wat ek bedoel het om te sê in hierdie spesifieke stuk nie. Ek wou bloot ’n platform skep om my opinie te lug dat ek nog nie desperaat genoeg is om ryk te word nie. Ek is goed bewus van beide swakhede en sterkpunte wat ek as entrepreneur sal vertoon. Ek is ook baie stoïes – in geval dit handig te pas kom (ek eet ontbytpap selfs wanneer ek geblikte tuna het in my kosboks), en die feit dat ek onwillig is om met mense te sosialiseer, beteken nie dat ek dit nie selfdissipline kan noem nie.

Wat ek egter nodig het, is die begeerte wat brand in ’n man wat pas teruggekeer het na die stad ná jare in die woestyn, wetende dat hy enigiets en alles wat hy gemis het die laaste dekade kan kry as hy net sy hande kan lê op genoeg van die plaaslike geldeenheid. Dit – is wat ek nodig het.

______________________