Storm voort met ’n brandende viool

SATERDAG 11 OKTOBER 2003

Daar is ’n gewilde gesegde wat lui dat ons begin om te sterf die oomblik wat ons gebore is. Ons selle begin verouder soos hulle groei, en selfs al herstel beskadigde selle tot min of meer volle funksionering, en vernietigde selle word vervang, is die pas van hernuwing en kwaliteit van nuwe selle nooit voldoende om ons vir ewig aan die lewe te hou nie. Dan is daar die feit dat ons lewens beëindig kan word deur onnatuurlike oorsake sodra ons dit waag buite ons kotte. Kan enige iemand geblameer word as hulle ernstige eksistensiële angs vertoon elke keer wat hulle uitgaan?

’n Paar jaar gelede, in daardie heerlike jaar net toe ek veronderstel was om aan te sluit by die hoofstroom van lewe, was ek gelukkig genoeg om ’n klassieke film te sien op my geleende swart-en-wit TV. Ek was nog nooit entoesiasties oor cowboy films, of films oor Wilde Weste boewe nie, maar hierdie spesifieke fliek het my gegee ’n bepaalde perspektief op die lewe en ’n houding wat geblyk het uiters bruikbaar te wees.

Die fliek, Butch Cassidy and the Sundance Kid, vertel die verhaal van twee skurke in die Ou Weste. Nadat die twee hulleself in die moeilikheid in gesteel het, vlug hulle Suid-Amerika toe. Teen die einde van die film is hulle vasgekeer in ’n klein dorpie in die Boliviaanse platteland, met op hulle spoor ’n paar plaaslike geregsdienaars. Waarvan hulle salig onbewus is, is van ’n peloton soldate wat ook toevallig in die buurt is. Butch en die Kid sit toe in ’n gebou, rûe teen ’n muur, en bespreek die kanse dat hulle lewendig uit die situasie kan kom. Omsingel deur die plaaslike burgermag, onbewus van dosyne soldate wat ook reeds stelling ingeneem het, reken hulle hul kanse is skraal. Tog, besluit hulle uitdagend, sal hulle probeer om weg te kom. Buite, op die dorpsmure, wag dosyne gelaaide gewere op hul poging. Die twee rampokkers gaan hulle rewolwers na, prewel ’n laaste paar woorde, en storm uit al koestend vir honderde koeëls. Hoewel dit net gesuggereer word deur slim kamerawerk, weet almal wat die enigste moontlike resultaat is: Hulle het gesneuwel, maar – met hul eie rewolwers al skietende in alle rigtings.

Toe die fliek verby is, staar ek eers woordeloos na die naamrol, betower deur die diepgaande implikasie vir my eie lewe. Ek onthou toe van ’n skermgreep in die koerant wat geadverteer het dat die fliek op TV sou wys daai aand. Ek het die koerant opgespoor, die prent uitgeknip met ’n stomp skêr, en besluit om dit prominent te vertoon in elke plek wat ek van toe af sou bewoon. Dit was geplak teen die badkamerdeur in die munisipaliteitswoonstel wat ek met my jonger suster gedeel het op daai tydstip, teen ’n kasdeur in Suid-Korea, en teen meer as een muur nadat ek teruggekeer het na Suid-Afrika. Dit was ook die eerste prent waarvoor ek plek gevind het in die sitkamer van my eerste woonplek in Taiwan, en op hierdie oomblik is dit geplak langs die voordeur van my tweede woonstel in hierdie stad, om te verhoed dat ek vergeet waar ek vandaan kom, of waarheen ek op pad is.

Dit het geword die naaste aan ’n persoonlike slagspreuk, ’n lewensfilosofie buiten “leef en laat leef” waarmee ek redelik tevrede kan wees.

Soos ek vanmiddag my woonkamer betree na my Chinese klas, trek die prentjie weereens my aandag. Ek was besig om te dink aan my onlangse planne om Taiwan te verlaat – ’n belangrike gedagtegang wat gewoonlik voorrang geniet bo enige ander vrag idees, maar die prentjie het my aandag daarvan afgelei. Ek het gedink oor hoe die prent verduidelik wat ek gedoen het die afgelope dekade, en veral gedurende my tyd in Taiwan. My voortdurende pogings om myself besig te hou, is my eie manier om na die spreekwoordelike stof terug te keer met wapens wat vuur in alle rigtings. Dis nie juis heldhaftig of dapper nie, maar dit is my manier om te sê, “As ons in elk geval die stof gaan byt maak nie saak wat ons doen nie, dan gaan ek liewer uit terwyl ek myself produktief besig hou tot die finale asemteug.”

Ek het wel begin dink dat my siening van hierdie slagspreuk en die gepaardgaande houding teenoor lewe op aarde dalk pessimisties kan voorkom, miskien selfs ’n bietjie morbied, en nogal redelik vervelig. “Is daar nie plek vir ’n bietjie sinnelose vermaak nie?” vra ek myself. Ek het peinsend by die kombuisvenster uitgestaar, en toe besef ek: Nero het viool gespeel terwyl Rome gebrand het. Hy – of ten minste die mitiese Nero – het die verskriklike feite op die grond geïgnoreer, en homself eerder vermaak met ’n bietjie musiek.

Veel kan ook gesê word oor hierdie houding, maar dit het beslis ’n sekere mate van styl – uitdagend op die rand van waansin. Om jouself te vergryp aan vermaak in die tyd waarin óns leef, is nie soveel anders as dronk Nero se flambojantheid terwyl vlamme die marmerpilare van sy stad swart gelek het nie. Om ’n sepie op TV te kyk terwyl mense doodgaan van die honger kwalifiseer dalk nie as uitdagend in baie mense se gedagtes nie, maar dit beteken nie dat daar geen regverdiging is vir ’n bietjie pret en plesier nie.

Elkeen van ons se lewens sal uiteindelik sy konklusie bereik. Om uit te gaan met al jou wapens wat vuur, ongeag presies wat dit beteken vir elke persoon wat hierdie slagspreuk aanhang, is een manier om te gaan. As jy daarin kan slaag om ’n bietjie pret te hê terwyl jy op pad is na die uitgang, dan soveel beter.

Butch en The Kid het ’n stortvloed van ’n duisend koeëls binnegestorm, hul eie wapens vurend tot die stilte op hulle neergesak het soos ’n swaar gordyn, totdat hulle lewelose vingers van die snellers afgegly het. Nero het probeer om die gille van brandende burgers stil te maak deur te pluk aan sy viool. Ek doen my huishoudelike take, leer ’n paar Chinese karakters, skryf ’n paar reëls poësie, maak my fiets reg wanneer dit nodig is, verf my mure en deure effens verskillende variëteite eierdopwit, en beplan my repatriasie uit ballingskap. En ek is redelik seker daarvan as ek hard genoeg soek daarvoor, ek weer daai middel “C” op my goedkoop elektroniese klawerbord sal kan vind.

______________________