Nie ’n ballingskap essay nie selfs al lyk dit so

DINSDAG 13 APRIL 2004

Sommige dinge dink ’n mens, ander weet jy net.

Ek het in Februarie gepraat van toewyding aan ’n geldprojek soos ek net gewoonlik toegewyd is aan ’n literêre projek. Dit was presies waaraan ek myself skuldig gemaak het vir ses van die laaste sewe weke van my aardse bestaan.

Dit het egter toenemend duidelik geraak dat die projek waarmee ek tans besig is, heel moontlik nie net enkele weke weg is van positiewe kontantvloei nie. Ek kan derhalwe nie voortgaan om soos ’n besetene daaraan te werk ten koste van enige iets anders nie.

Ek het dus nie gedink ek moet weer aandag gee aan van my ander projekte nie, ek het dit geweet.

Vir die rekord moet dit genoem word dat die idee van huis behou in Taiwan tans ’n periode van hernude verdraagsaamheid onder die “volk” ervaar. (Ons weet egter hoe vinnig die atmosfeer vir verdraagsaamheid op hierdie gebied kan verander – die een oomblik strompel die Hoofadvokaat vir Bly in Taiwan nog fluit-fluit met sakke vol ontbytpap na sy fiets, en die volgende oomblik trap hy vir al wat hy werd is om weg te kom van ’n klein, maar dodelik antagonistiese skare gewapend met klippe en gebreekte bottels.) Om repatriasie op langtermyn ys te plaas, sal egter van vooraf ongeduld, frustrasie en moedeloosheid laat opvlam … so by so dat mens begin wonder of totaal verskillende toekomsplanne ’n enkele psigiese wortel deel!

Is daar alternatiewe tussen hierdie twee ekstreme opsies? Is daar ’n alternatiewe idee-logika om aan die burgers van my interne republiek te bied anders as Gaan Terug Ongeag Die Gevolge aan die een kant, of Te Veel Onsekerheid En Moeite So Kom Ons Bly Maar In Taiwan aan die ander? Is dit tyd vir die Skrywer, die Student, en daai ander ou (die een wat geld moet maak) om met die manifes van ’n Nuwe Idee die dorpe, stede, vlaktes, en koffiewinkels in te vaar? Is dit tyd vir ’n Derde Mag?

______________________