Vervreemding – stryd – konfrontasie

SONDAG 13 FEBRUARIE 2005

07:20

Blou stoel, groen boom, groen grasperk, spinnerakke wat glinster in die môre-son, ’n blou Bic pen en dieselfde notaboek wat soos ’n paspoort altyd saam met my reis.

Rondte Een van Vervreemding van Mense Wat Ek Liefhet het laat gistermiddag plaasgevind. Die onderwerp was mense se huishoudelike probleme, verhoudings, sogenaamde genetiese neigings, en so meer. Ek wou ietwat dieper ingaan as die oppervlakkige uitruil van menings (gegrond, dit weet en gee ek toe, in ware, opregte emosie), maar koppies is in ’n skinkbord gelaai, koppe is eenkant toe gegooi en “Aag!” is uitgeroep. Ek het dit toe opgevolg met ’n 90-sekonde uitbarsting oor hoe probleme nie opgelos kan word as daar nie behoorlike kommunikasie, en ’n redelike mate van redevoering is nie – en watse probleem kan opgelos word, of dan veral, watse probleem wat nie eenvoudig verstaan kan word nie, kan opgelos word as koppe eenkant toe gegooi word en “Aag!” uitgeroep word sodra een party vrae begin vra wat dalk ’n behoorlike bespreking nodig sal hê om te beantwoord?

Nietemin, dis regtig lekker om vyf en halwe maande na ek hier weggery het, weer terug te wees, onder ’n boom, op ’n kleinhoewe buite Bronkhorstspruit. Dit voel ook goed dat hierdie nie my Groot Jaarlikse Besoek is nie, maar slegs ’n twee-week blitsbesoek. Dit voel amper normaal, asof ek in werklikheid op dieselfde planeet as my familie woon.

Het ook gister ’n gedagte gehad oor die omgewing, en die lewens, wat ek waarneem. Die oorwegende indruk was ’n lewe van stryd – om oorlewing, om hoop vir klein gelukkies soos blomme wat groei waar niemand geglo het dit sal groei nie, vir spesiale tye soos ’n langnaweek, of ’n korterige vakansie, en om Groter Dinge Wat Gelukkig Maak soos swangerskappe, en ’n kind van jou eie.

Ek weet baie mense, intelligente, opgevoede mense wat hulleself onderskei van die “res”, asook mense wat nie te veel tyd spandeer in kontemplasie oor die dieper vrae van die lewe nie, sal effens terugtrek, met agterdog na my kyk en vra: “Ja? Is dit nie maar ons almal se lewens nie? Is dit nie maar waarvoor almal hoop nie? Ek meen, nie almal wil noodwendig trou-en-kinders nie, maar hulle doen weer ander dinge om op te maak daarvoor. Waar val jy dan uit die bus uit? Is hierdie dinge dan nie ook vir jou belangrik nie? Is die lewe dan nie ’n stryd nie?”

20:52

Konfrontasie met die werklikheid. Aanvaar wat jy nie kan verander nie. Implementeer maatreëls ter wille van selfbehoud en oorlewing. Ek sal nie weer met my familie praat oor my werk, my denke, my oortuigings of my opinies nie, tot hulle in opregtheid daarna vra. In werklike verskyning beteken dit dat ek nie in samesyn met hulle kan wees wie en wat ek geword het, en derhalwe wie en wat ek is nie. Hierdie stand van sake sal voortduur totdat hulle, met oop koppe, weer na my soek. Dan en dan alleen, kan ek weer verskyn as wie en wat ek werklik is.

Ek is lief vir my ouers en vir my twee susters. Ek weet hulle is lief vir my. My hoop is dat my verskynings áán hulle, en my verhoudings mét hulle, gekenmerk sal word deur waardigheid, respek, en ander dinge waarop “liefde” neerkom in die praktyk.

Dit het egter duidelik geword dat, weens hulle beskouings, en hulle oortuigings, asook hul eie tekortkominge, ek nie kan verskyn aan hulle as die persoon wat ek geword het, en wie ek is op hierdie oomblik van ons lewens nie.

Dit is die realiteit. Dit is wat ek nie kan verander nie. Dit is wat ek aanvaar. Dit is die maatreël wat ek implementeer ter wille van selfbehoud en oorlewing.

[03/06/15: My familie soek steeds nie na my nie. Hulle is wel bly om my te sien wanneer ek hulle besoek, en ons is almal altyd hartseer as ons paaie weer moet skei. Maar hulle soek nie na my nie.

Soek ek na hulle? Vra ek hulle waaraan húlle glo? Vra ek vir hulle wat vir húlle belangrik is?

Dit behoort nie ’n verskoning te wees om te antwoord dat ek weet waarin hulle glo, en wat vir hulle belangrik is nie. Dalk is ek verkeerd. Dalk het hul antwoorde verander oor die jare. Dalk moet ek meer belangstel in wat vir húlle belangrik is, en waarin húlle glo. In opregtheid, en met ’n oop kop, moet mens natuurlik bysê.]

______________________