DINSDAG 2 NOVEMBER 2004
Skrywers stuur die materiaal wat hulle in privaatheid produseer die wêreld in om verskeie redes. Hulle verwoord ook die gedagtes wat uiteindelik manifesteer as die leesstof wat in boekwinkels en op bedkassies opeindig, in verskeie genres waarmee lesers min of meer bekend is. Gedigte, romans, kortverhale, artikels, essays, en meningskolomme in plaaslike koerante is enkele voorbeelde van hierdie literêre tipes.
Ek, as beide leser van ander se materiaal en verwoorder van my eie gedagtes op papier, is bekend met bogenoemde genres. Die gedig, kan ek seker in eerlikheid erken, is ’n literêre tipe waarvoor ek heelwat sentiment koester. Die (gewoonlik) kort lengte van die gedig, die manier hoe elke woord en elke reël saak maak, die uitdaging om wat jy wil sê, te sê terwyl jy tred hou met ritme en rym, maak die gedig ’n uitsonderlike uitdaging. Ander skrywers verkies die roman – die langer verhaal, met sy karakters, sy milieu, sy dramatiese insidente, begin, middel, ontknoping en dies meer. Kortverhale is ’n medium wat ek meer aanloklik vind. Een van die aspekte van die kortverhaal wat my immers die meeste aantrek, is die kort aard daarvan – jy begin, jy skryf nog ’n paar bladsye, jy eindig, en jy begin die volgende een (om dit eenvoudig te stel). Meningskolomme het ek nog nooit geskryf nie. Artikels het ek al probeer skryf, maar ek het nog nie verder gevorder as die tweede opdrag van ’n skryfkursus waarvoor ek ingeskryf het drie jaar gelede omdat ek steeds sukkel om met vyf onderwerpe vorendag te kom waaroor ek artikels wil skryf. Die essay is ’n genre waarmee ek gemaklik geraak het die afgelope paar jaar. Essays kan kort wees – so min as 500 woorde, of dit kan aangaan vir bladsy na bladsy sonder om noodwendig ’n bevredigende konklusie te bereik (bietjie jammer vir die leser, maar nou ja).
Die literêre uitdrukkingsvorm wat my die meeste aanstaan, is die geskrewe nota. Die nota is onmiddellik. Titels is luukshede waaroor mens veel later eers besin. Die klem is op vars uitgedrukte idees. Soms sal enkele ure verbygaan voordat ’n gedagte dit maak tot op papier. Soms word die vertraging tussen gedagtevorming en gekrap in potlood of ink getel in sekondes. Natuurlik sal die soms rowwe bewoording van gedagtes en emosies later ’n bietjie gepolitoer word. Paragrawe, opskrifte en ander formaliteite van literatuur stuur uiteindelik die voormalig rowwe gekrap die wêreld binne soos ’n boemelaar wat skoongeskeer, en in nuwe klere gereed is om vir die kameras te glimlag.
Mens word gereeld herinner daaraan dat ander mense nie juis belangstel in jou persoonlike wroegings en dagboeknotas nie. As boekentrepreneur moet ek ook die verskil in verkope oorweeg tussen genres waarmee meeste lesers bekend is, en die meer obskure tipes. Die nota mag dalk ’n handige formaat wees wanneer jy onmiddellik uitdrukking wil gee aan gedagtes wat hulleself aan jou voordoen, maar die genres wat blykbaar deur meeste lesers verkies word, is romans en kortverhale. As jy dan meen jy’t iets om te sê wat jy nie soos ’n H.G. Wells of ’n George Orwell kan verwoord in ’n verhaal nie, is die essay gewoonlik die voorkeur keuse.
Wat my by ’n tegniese kruispad bring: Gaan ek die geskribbel in my laaste paar notaboeke hergiet in die vorm van opstelle, wat die boek waarvan dit deel gaan uitmaak, ’n beter kans sal gee om daai droom verkoopsyfer van ’n hele dosyn kopieë te haal, of gaan ek bloot die notas politoer tot ’n meer verteerbare styl, en dit die buitewêreld instuur naastenby soos dit oorspronklik my binnewêreld betree het – wat moontlik die verkoopsyfer sal afbring na ’n meer beskeie twee of drie kopieë?
Ek sê, laat die woorde vir eers staan soos dit is.
______________________