Los gedagtes gedurende die 41e week van 2004

Die 41e Maandag (11 Oktober 2004)

Vraag (net voor die water kook, en net voor ek verder speel aan FreeCell Game #4025): watse werk sou ek graag, ideaal gesproke, wou afhandel voor die laaste dag van hierdie maand?

[…]

Goed, die water het gekook, ek het my tande geborsel, die helfte van my tee gedrink, nog ’n sigaret gerook, FreeCell game #4025 verloor en tans besig om ook #5039 in die water te gooi, ABBA sing, “Does your mother know?”, en siende dat dit ’n Maandag is, in ’n herfs op pad na nog ’n Taiwannese winter, wonder ek: Sê nou maar iemand, ’n “vriend” van my as ek meer spesifiek moet wees, wil aanbeweeg op hierdie bestaansvlak (menende nie op ’n meer spirituele vlak soos verstaan word in die populêre begrip van verdwyn-en-word-deel-van-die-Groot-Niks nie), wat sou hy nodig hê om te doen om ’n … sal ons maar sê, ’n Supermens te word?

Vrae oor hoekom ’n mens wil aanbeweeg na “Super” vlak toe tersyde, glo ek die volgende bestanddele is noodsaaklik: geld, gesondheid, vroulike geselskap (siende dat my “vriend” ’n heteroseksuele man is), en maksimum tyd vir sy eie agenda.

Die 41e Donderdag (14 Oktober 2004)

Liefde is ’n saak waaroor al veel gesê is; liefde is ’n saak waaroor nie veel gesê hoef te word nie.

’n Karakter het homself onlangs aan my geopenbaar: ’n man wat sover in sy lewe nie ’n deelnemer aan ’n oormaat liefde was nie. Dit moet dan ook genoem word dat ook die huidige periode in sy lewe tel onder die tye wat hy nie soveel as eens ’n tikkie daarvan smaak nie.

Nodeloos om te sê word liefde in hierdie teks gedefinieer nie as die soort wat jy ontvang van vriende en naaste familie nie, maar as die soort wat jy voel aan jou vel, voor jy gaan slaap in die aande, net voor jy opstaan in die oggend, as jy laat in die aand vir jouself nog ’n koppie tee maak, as jy TV sit en kyk, as jy van die werk af kom, en as jy op vakansie gaan en vir elf ure lank in transit is tussen vlugte.

Natuurlik, soos meeste karakters, het hierdie man ’n familie, en sekerlik het hy enkele goeie vriende. Dit kan gesê word dat hierdie mense hom liefhet, soos hy ook vir hulle. Maar hierdie tipe liefde, soos ek reeds uitgewys het, is nie die tipe wat jy voel aan jou vel op ’n wyse wat jy dit soms die nodigste het nie.

Grawe ons ’n bietjie dieper, sal ons sien in sy vroeë twintigs het hy wel liefde van hierdie soort ervaar. Hierdie periode was egter gevolg deur ’n totaal onbeplande sewe jaar van selibaatheid. (“Verbysterend hoe tyd verby gaan,” sal hy gereeld opmerk.) Toe, vir ’n paar maande, was die onmiskenbare reuk van liefde weer in die lug, en op sy klere, en op lakens, en kussingslope, selfs in die badkamer en in die kombuis. Maar nou het meer as twee jaar al weer in die niet verdwyn.

Dit is ook belangrik om uit te stip dat hierdie liefde waarna ek verwys nie beperk is tot dit wat tradisioneel gesien word as seksuele omgang nie. Dit sluit in die allerbelangrike element van aanraking – om hande vas te hou terwyl die twee mense in die fliek is, of TV kyk. Dit sluit in ’n ligte aanraking aan die skouers, laat in die aand as een besig is om … tee te maak. En dit sluit in die paar oomblikke vroeg in die oggend wanneer jy die warm teenwoordigheid van iemand anders naby jou voel, kort nadat jy besef het nog ’n dag is op hande.

Dit is dan, kortliks, ’n beskrywing van ’n karakter wat homself onlangs aan my geopenbaar het – op ’n goeie dag, die 41e Donderdag van die jaar.

____________________