Die SELF word gebore (en ander notas van ’n partikulêre dag)

DONDERDAG 8 APRIL 2004

Ons fisiese geboorte arriveer maande na ’n mikroskopiese begin. Kort na ons geboorte raak ons bewus van dinge om ons. Ons raak bewus van die verskillendheid van objekte, en van die onderskeid tussen lewende en nie-lewende dinge. Nog later raak ons bewus van die kategorie “mens” – en dat hierdie etiket ook, by wyse van spreke, teen ons voorkoppe geplak word.

Enkele ander insigte penetreer ook ons bewussyn: elke mens is fisies verwyderbaar van sy omgewing, en ook van ander mense (dus, ’n vrye entiteit, nie verbind aan iets soos wat ’n tafelpoot verbind is aan ’n tafel nie); sommige objekte is belangriker as ander (’n TV is belangriker as ’n teelepel); en daar is ’n hiërargie tussen verskillende lewende wesens (’n mens is belangriker as ’n hond), en ook onderling tussen mense (’n sterk man word met meer agting behandel as ’n klein dogtertjie, en almal is belangriker as ’n boemelaar).

Met die verloop van tyd intensiveer ons bewussyn van onsself. Ons besef dat ons soos ander mense beskik oor spesifieke gelaatstrekke en karaktereienskappe, en ook oor die vermoë om keuses uit te oefen in ons spraak, voorkoms en gedrag. Ons leer ook dat al hierdie dinge beïnvloed hoe ander mense in die omgewing reageer op ons teenwoordigheid. Ons leer verder dat name belangrik is, en dat ons onsself voortdurend moet identifiseer aan ander.

Dit raak ook weldra duidelik dat ons onsself moet kan identifiseer áán onsself: “Ek bestaan, maar ek bestaan nie as die grassnyer nie; ek is ’n mens, maar ek is nie die buurman nie.” Omdat hierdie stellings nooit voldoende is nie, moet die partikulariteite verduidelik word, by wyse van spreke, in fyner detail.

Ons leer ook om ons eie identiteit te definieer (of te omskryf), om sodoende die proses waardeur ons onsself identifiseer aan ander, te vergemaklik. Laasgenoemde moet gedoen word met twee oorwegings in gedagte: 1) ons behoefte om ons eie partikulariteit te bevestig, en 2) ons moet terselfdertyd seker maak ons is nie té uniek nie, want dan ondermyn dit dalk die bevrediging van ’n ander diepliggende behoefte, naamlik die een aan samesyn en lidmaatskap.

Jy het nodig om oortuig te wees van jou eie naam en persoonlike identiteit sodat jy kan funksioneer as die aparte entiteit wat jy is. Tog het ons ook nodig om “een” te wees met ander “soos ons”, wat weer die definieer-en-identifiseer-proses beïnvloed.

Dus, ten einde te kan funksioneer as die aparte entiteit waarvan jy bewus is jy is, het jy nodig om jouself te definieer in terme van jou omgewing – tot ’n groot mate in negatiewe terme: “Ek is nie ’n tafel nie, ek is nie ’n hond nie, ek is nie ’n boemelaar nie.” Jy’t ook nodig om jouself te identifiseer aan ander en ook aan jouself – weereens is daar beide positiewe en negatiewe elemente van identifikasie: “Ek is vet, nie maer nie; ek is ‘akademies’, nie ‘sportief’ nie, ek hou van harde rock, nie ligte pop nie.”

Uiteindelik, na jare van funksioneer en definieer en identifikasie van ons persoon aan ander en aan onsself, bly net die resultate agter van wat en wie ons was – ons handewerk, by wyse van spreke, nadat ons weer een vir een deel geword het van die Groot Onsigbaarheid.

Ek het 45 minute gelede opgestaan met die gedagte dat ons uit niks verskyn, bewus raak van die feit dat ons iets is tussen ander ietse en dat ons onsself mettertyd moet definieer as ’n spesifieke iemand sodat ons, soos ek tussen swart koffie en ontbytpap deur geskryf het, kan funksioneer as ’n afsonderlike iets-en-iemand.

[En net om seker te maak ek verstaan dit reg, hier kom dit weer.]

Ons word gebore, raak bewus van die feit dat ons iets is tussen ander ietse en iemand tussen ander iemande, en dat daar van ons verwag word om te funksioneer as die iets wat ons is (moenie optree asof jy ’n tafel of ’n troeteldier is nie) en ook om te funksioneer as iemand.

Oppervlakkig beskou, is dit moeiliker om te definieer wié ons is as om te definieer wát ons is, en die proses neem heelwat langer. Uiteindelik moet ons ’n aparte iemand wees net soos ons ’n aparte iets is, en omdat ons nie elke dag ’n ander iemand kan wees nie, het ons redelike konstante identiteit nodig.

Dis nou 10:56. Ek kan nou met my dag begin. Heelwat van hierdie dinge was reeds vroeër gesê, maar dat dit op hierdie manier gesê is, vandag, gee aan vandag ’n partikulêre kwaliteit. Dit gee ook aan my nog ’n bietjie resultaat om agter te laat …

* * *

Terloops, resultaat is baie belangrik vir “evangeliese” Christene. Hulle verwag om beloon te word vir hulle “geloof” in die lewe wat volg ná hierdie aardse bestaan.

Ek wonder hoeveel mense sal steeds elke week kerk toe gaan en die dinge sê wat hulle sê, as hulle moet verneem van ’n bron wat húlle as geloofwaardig ag, dat die resultate van hulle lewens agterbly in hierdie wêreld, dat hulle dit nie kan saamvat as getuigskrifte vir ’n wêreld en ’n lewe wat kom ná hierdie een nie.

“Evangeliese” Christene is eintlik goeie besigheidsmense (daar is, terloops, ’n interessante historiese verbintenis tussen kapitalisme en Protestantisme). Hulle sê, “Ek gee dit, glo dat, doen hierdie, en kry dan daai, reg?” en die dominees en pastore knik gretig hulle koppe (nog meer “gelowiges”). As die potensiële “Christen” dan tevrede is hy of sy verstaan die saak reg, dan eers sê hulle, “’raait, count me in. Waar moet ek teken? Wat moet ek doen of sê?”

Dit sal interessant wees om te weet hoeveel mense se houding teenoor hulle religie sal verander as hulle van ’n betroubare bron moet hoor dat hulle dit al die tyd verkeerd verstaan het: dat ’n aardse lewe wat God verheerlik die begin en die einde is; dat dit doodgewoon beter is as ’n aardse bestaan wat God nié verheerlik nie; dat dit aan jou ’n meer vervullende lewe gee terwyl jy op hierdie kosmiese stofspikkel is; dat as jy fisies tot afsterwe kom, jy dood is, en dat daar geen verdere beloning op jou wag nie.

Self kan ek nie vaste stellings maak dié kant toe of daai kant toe oor wat gebeur na jou fisiese dood nie. Ek wonder maar net oor die motiverings van sekere mense, en hulle moontlike reaksies as dit sou blyk dat dinge anders is as wat hulle nog altyd vermoed, of geglo het.

* * *

Een laaste opmerking: jy moet funksioneer as die iets wat jy is – dit gaan nie werk as jy probeer funksioneer as ’n broodrooster of ’n yskas nie. Jy moet ook funksioneer as die iemand wat jy is … maar hier raak dit kompleks, want wie is jy? Jy moet dus aanvanklik nié probeer om te funksioneer as iemand wat jy nié is nie. In die vroegste fase van jou lewe weet jy net jy’s nie jou pa of jou ouma of jou suster nie, so jy weet dit sal nie werk om een van hierdie ander iemande te probeer wees nie (al probeer jy dalk om hulle gedrag of hulle manier van praat of hulle manier om dinge te doen, na te aap).

Anders gestel, aanvanklik weet jy net jy’s nie iemand anders nie. Jy weet miskien jy verkies honde bo katte of dat jy hou van sjokolade geur ontbytpap, maar ons soek voortdurend meer inligting oor onsself, om onsself beter te kan identifiseer, en dan verkieslik in die positiewe sin, “Ek is …” eerder as die negatiewe, “Ek is nie …”

Baie keer sê mens dinge oor en oor, en jy besoek weer en weer sekere temas. Aan die einde is dit nie net wát gesê of geskryf word nie, maar hóé. Baie van die dinge wat ek vanoggend geskryf het, het ek vroeër al aangeraak, maar vanoggend se formulering het ’n besonderse eenvoud.

Twee punte in ons lewens: Wat-Voor-Ons-Was, en Wat-Na-Ons-Sal-Wees, en dan’s daar natuurlik die tussen in Wat-En-Wie-Ons-Is. Wat agterbly is die resultate van laasgenoemde.

Is hierdie resultate goed, of is dit sleg? Hoekom is dit belangrik?

______________________