IDEALISTE en hul konflik

Maandag 24 November 1997

Ek is ’n idealis, maar ek leef in ’n wêreld vol korrupsie, onreg, en ongelykheid, met on-ideale verhoudings tussen mens en mens, mens en natuur, en selfs die mens met hom- of haarself. In hierdie wêreld wil ek streef na volmaakte geluk, volmaakte liefde, ’n volmaakte lewe, selfs die perfekte beroep vir myself. Hierdie strewe na volmaaktheid in ’n wêreld wat ver van volmaak af is, lei noodwendig tot innerlike konflik – ontnugtering versus hardnekkige geloof in die goeie, in die moontlikheid van iets beters.

Is volmaakte geluk moontlik? Is volmaakte liefde moontlik? Is dit moontlik om altyd die tipe indrukke te maak op mense wat jy sonder uitsondering agterna kan bestempel as akkuraat, volgens die beskouing wat jy het van jouself? Is perfekte geloof ’n bereikbare teiken waarna ons moet streef? Is volmaakte verhoudings moontlik? Is dit altyd moontlik om tot jou volle potensiaal te leef?

Ek – die persoon wat hierdie vrae vra – is ’n idealis, so ek sal graag “ja” wil antwoord op bogenoemde vrae. Wat moet ek anders doen – opgee op dit waarna ek streef, en maar net aanvaar dat volmaaktheid ’n onbereikbare ideaal is? Moet ek maar altyd tevrede wees met wat ook al aangebied word, of wat ek ook al op daai oomblik het?

Die probleem, of ek dit wil aanvaar en of ek wil voortgaan om in ontkenning stroom-op te bly swem, is dat die wêreld tot oorlopens toe gevul is met onvolmaaktheid. Dit forseer my om ’n onaangename feit in die gesig te staar: Hierdie posisie van ’n idealis in ’n on-ideale wêreld lei in vele gevalle tot verwarring, eensaamheid, isolasie en depressie. Dat so ’n persoon ’n sekere onvermoë sal vertoon om te “deal” met die on-ideale wêreld, ’n onvermoë om in ’n produktiewe, kreatiewe, en wedersyds voordelige verhouding te verkeer met die wêreld, is geen verrassing nie.

Een opsie vir die idealis is om terug te trek – te retireer – na ’n “kleiner”, makliker manipuleerbare wêreld waar hy meer op sy gemak sal voel omdat sy sensitiewe natuur nie so maklik ontstel sal word deur die kruheid, die onreg, die oënskynlik gereelde en herhalende afwesigheid van geregtigheid nie; waar die vuil, melaatse hande van die on-ideale wêreld nie sal gryp na hom nie – waar hy veilig sal voel.

Sommige idealiste neem die persona aan van die sogenaamde “Loner” – die Alleenloper, maar ek reken dit is tot ’n groot mate net deel van ’n kosmetiese oplossing. Die oorspronklike probleem is steeds daar: die innerlike konflik wat die persoon ervaar vanweë die kloof tussen sy of haar verwagtinge van hoe dinge behoort te wees, en hoe dit werklik is.

* * *

Hoe gaan mens te werk met so ’n ontstellend onvolmaakte wêreld? Aanvaar jy dit maar net? Vlug jy na die boesem en wagtende arms van fundamentalistiese godsdiens waar al die antwoorde vir jou gedikteer word, en as die vooraf verpakte antwoorde nie goed genoeg is nie, word daar maar net gesê, “God het ’n plan met alles” of “God is in beheer”? Word jy ’n voortvlugtende pleger van geweld as ’n bewustelike of onbewustelike reaksie op al die onvolmaaktheid, en om die spot te dryf met die feilbare pogings van mense om dit te hanteer op die enigste manier wat hulle ken? Of trek jy jou kar in die garage in na ’n lang dag en raak gemaklik op die rusbank vir ’n aand voor die TV? Word jy Stalin of Gandhi? Jesus Christus of Julius Caesar? Quit jy, of commit jy? Commit tot wat? Ek gaan myself mal maak! Tyd vir tee en ’n sigaret …

———————

[Vir die idealis om die persona aan te neem van die “Alleenloper”, is in werklikheid meer as net ’n kosmetiese oplossing.

Om ’n “Alleenloper” te wees, bied in vele gevalle aan die persoon ’n tydelike toevlug. Dit is ’n maatreël wat die persoon in staat kan stel om te doen wat hy of sy móét doen – om ’n verhouding uit te werk met die wêreld wat sinvol, produktief en hopelik wedersyds voordelig sal wees.]

______________________