VRYDAG 30 NOVEMBER 2012
As kind weet jy aanvanklik nie hoe om skaak te speel nie. Jy weet nie hoe om fiets te ry, of hoe om ballet te doen of rugby te speel nie. Jy weet nie hoe om ’n rekenaar te gebruik nie. Jy weet nie eens hoe om te lees of te skryf nie.
As kind het jy gewoonlik nie getwyfel wanneer dit by iets nuuts gekom het wat jy moes bemeester nie. Jy’t net gedoen wat vir jou gesê is. Jy het aanhou probeer, en na ’n paar maande of ’n paar jaar kon jy skaak speel, fietsry, rugby speel, of ballet doen. Jy het leer lees en leer skryf, en uiteindelik geleer om ’n rekenaar te gebruik.
Hoekom dan, as volwassenes, twyfel soveel mense in hulle vermoëns om iets nuuts te kan leer?
“Ek weet nie hoe nie,” sal die man of vrou prewel.
“Ek is te oud om iets nuuts te leer,” sal die dertig- of veertig- of vyftigjarige man of vrou sê.
“Nee, goeie genade! Daar’s geen kans dat ek dit sal kan doen nie!” sal een persoon uitroep, veilig in die wete dat daar ten minste ’n handvol ander volwassenes in die omgewing is wat hulle sal ondersteun in hulle oortuiging dat hulle nie in staat is om iets te kan doen nie.
Kan jy jouself dit voorstel as kinders moes lei aan dieselfde droefenis?
“Agge nee, Pappa, daai fiets is so groot. Ek gaan afval en my toon stamp,” sal klein Sarel sê, en wegstap om onder die boom te gaan sit.
“Daai dansies lyk te moeilik, Mamma! Ek kan dit nie doen nie!” sal klein Juanita sê, en weier om uit die kar te klim by die balletskool.
“Skaak lyk so ingewikkeld …”
“Ek weet nie hoe om daai krulletjies en lyntjies te trek soos die ander seuns en meisies in die klas nie …”
“Ek is bang vir muise, en die rekenaar maak altyd sulke snaakse geluide …”
Die einde van beskaafde gemeenskap soos ons dit ken. Die begin van Zombieland.
“As jy dink jy kan iets doen, of as jy dink jy kan nie iets doen nie, is jy reg,” het Henry Ford gemeen.
Watse voorbeeld dink mense stel hulle vir die volgende geslag as hulle op 25 of 40 of 50 ophou glo hulle kan iets nuuts bemeester, wil ek weet.
______________________