SONDAG 6 FEBRUARIE 2000
“Wat wil jy met jou lewe doen?”
“Ek wil skryf.”
“Wat het jy nodig om meeste van jou tyd te kan spandeer aan skryfwerk?”
“’n Woonplek, ’n goeie rekenaar, en werk wat my sal dwing om so nou en dan vars lug te kry, wat my van genoeg geld sal voorsien om al my uitgawes te dek, maar wat ook nie te veel van my tyd sal opneem nie. Ek sou sê, so drie of vier ure per dag.”
“Wanneer, en wáár meen jy om hierdie lewe jou eie te maak?”
“Ek sal dit doen oor twee of drie jaar wanneer ek al my studieskuld afbetaal het en ek myself kan vestig in die Boland, of êrens langs die see.”
“Beskryf jou huidige situasie.”
“’n Woonstel in ’n stad in die suide van Taiwan. Ek het ’n TV en ’n videomasjien, ’n rekenaar, ’n goeie radio, heelwat musiek, boeke en so aan. Ek hoef net omtrent tien ure per week te werk vir die skool waar ek ’n kontrak het, maar ek doen heelwat ekstra klasse by ander skole. Ek het eintlik net nodig om drie of vier ure per dag klas te gee om my verpligtinge na te kom en my basiese uitgawes te dek.”
“Wat sou jy sê stimuleer jou kreatiwiteit?”
“Die tye wat ek nog die meeste geskryf het, en die tipe materiaal geproduseer het waarvan ek hou, was tye wat ek verveeld was – wanneer ek nie net ure elke dag gehad het om te dink en te skryf nie, maar dae en weke van doen net wat ek wou. Dit was ongelukkig ook tye wat ek die minste geld gehad het, wat ek nie eers behoorlike sigarette kon bekostig nie.”
“So, jy’t die woonstel, die rekenaar, die klein luxuries wat die lewe makliker maak, en jou werksituasie is van so ’n aard dat jy oor heelwat meer vrye tyd kan beskik as jy die risiko wil neem om minder van jou ure te ruil vir kontant, terwyl jy steeds genoeg sal verdien om jou skuld elke maand te kan betaal en goed te kan leef. Wat verhoed jou dus om nóú die lewe te lei wat jy hoop om miskien oor twee of drie jaar ’n werklikheid te maak?”
“Wel, die feit dat ek skuld het, en dit eers wil afbetaal. En dan wil ek genoeg geld hê om myself te kan vestig êrens.”
“Ek kan nie met jou stry dat dit belangrik is om jou skuld af te betaal nie. Maar hierdie storie dat jy jouself eers wil vestig en eers dán wil besig raak met die skrywery, jy weet soos wat klink dit vir my? Dit klink soos iemand wat ’n verskoning soek sodat hy nie nou al die sprong hoef te vat om vandag reeds die lewe te begin waarvan hy droom nie.
“Hoekom sal so ’n mens verskoning soek om nie reeds vandag stappe te neem om sy ideale lewe te begin leef nie, selfs al is dit so duidelik binne sy bereik? Ek sal jou sê hoekom: Omdat hy bang is. Hy’s bang hy misluk. Hy’s bang hy vind uit dat hy nie rêrig ’n skrywer kan wees nie. Hy’s bang dat hy dalk aan homself moet erken dat hy fake is, ’n pretender by die hekke van die Gemeenskap van Skrywers en Denkende Mense. Hy’s bang om aan hierdie hekke te ruk, net om te sien hoe sy pogings teruggegooi word in sy gesig as te onbeduidend vir ernstige oorweging. Dat hy gevra sal word om op ’n ander plek ’n tuiste te gaan soek. Dat hy nie moet voorgee om te wees wat hy nooit kan wees nie.
“Hy’s bang hy vind dalk uit dat hy niks meer as net ’n gewone ou is nie. Dat hy uiteindelik met sy stert tussen sy bene sy pad sal moet vind na the real world toe, waar hy ’n ‘regte werk’ sal moet kry ‘soos almal’. Hy is bang as hy die sprong moet vat en homself moet toewy tot die lewe van ’n voltydse skrywer, hy dalk sal vind dat sy geloof in sy vermoëns net ’n illusie was.
“Hy’s bang hy besef dalk dat alles wat hy nog altyd gehoop het hy is, en wat hy kan doen en vermag in die lewe, bokant sy vuurmaakplek is. Dat hy homself oorskat het. En as hy misluk in hierdie groot ideaal, dan sal hy moet erken dat hy sonder sy illusies soveel minder is as wat hy altyd gehoop het die geval sou wees.
So, nou stel hy dit uit. ‘Môre,’ sê hy. ‘Oor twee of drie jaar as ek myself êrens kan vestig,’ sê hy.
“Maar wat van as hy risiko’s neem – soos om minder van sy ure te ruil vir kontant en meer elke dag te skryf, en hy ontdek dat daar tog substansie is, dat sy hoop nie op illusies gebou was nie? Wat van as hy vind dat hy nie net die uitlewing van hierdie ambisie as genotvol en vervullend ervaar nie, maar dat ook die finansiële risiko’s wat hy nou sal moet neem, op die langtermyn finansiële belonings mag bring? Sal hy nie dan die dag herdenk wat ook hý uiteindelik gesê het ‘môre is te laat vir my’ nie?
“Wat het so ’n man … wat het jý om te verloor anders as enige illusies wat jy dalk mag hê? En het jy nie soveel meer om te wen as jy hierdie risiko neem nie?
“Ek hoef nie vir jou te sê die lewe is kosbaar, en soms korter as wat jy verwag nie. Dat ’n mens geleenthede, soos die situasie waarin jy nou is, moet aangryp; dat jy nog relatief jonk is, en as jy illusies het oor jouself om te verloor, jy net ’n beter mens sal wees sonder dit.”
______________________