DONDERDAG 11 NOVEMBER 2021
Ons het gistermiddag, Woensdag 10 November 2021, die laaste keer vir Ou Vet veearts toe gevat.
Hy’t in Augustus erg opgegooi. Ons het gedink dis die einde. Hy’s hierdie jaar vyftien jaar oud, so ons dink al vir ’n geruime tyd hy sal dalk nie nog ’n jaar saam met ons wees nie.
Hy’t egter vinnig herstel, weer op die meubels gespring, sy gewone hoeveelheid kos geëet, en so aan.
Sondag 3 Oktober gooi hy weer op. Dié keer is dit erger. Ons het nie gedink hy gaan die aand uitsien nie. Die volgende oggend sien ek ’n dooie duif op die sypaadjie. “Death is in the air,” dink ek.
Ons het hom die middag veearts toe gevat, en die veearts het na ’n vlugtige fisiese ondersoek en ’n bloedtoets verklaar dat hy nierontsteking het, en dat hy net ’n twintig persent kans het om te herstel daarvan. Ons het hom vir drie dae by die kliniek gelos terwyl hy vloeistowwe gekry het. Daar was geen sekerheid of hy weer huis toe sou kom nie.
Drie dae later het ons hom teruggebring. Hy was onseker op sy bene, en het na ’n paar rondtes deur die woonstel besluit op die vloer aan die linkerkant van die bed in die hoofslaapkamer as sy laaste domein.
Dis waar hy gebly het vir die volgende vyf weke.
Ons het hom elke twee dae teruggeneem veearts toe vir vloeistowwe en so nou en dan ’n vitamieninspuiting.
Sommige dae het hy goed geëet en water gedrink; sommige dae het hy net gelê en voor hom uitgestaar. Die eerste week van November het ek aan die veearts se assistent gesê hy’s stabiel, loop ’n bietjie rond, en dat ek hom ’n paar keer sien eet en drink het. Hy’t dit wel nie altyd gemaak tot by die katsand nie, en hy’t ’n bietjie gelek, so sy lêplek moes gereeld skoongemaak word.
Sondag 7 November 2021 was die eerste keer wat ons bloed in sy ontlasting gesien het. En nie ’n bietjie nie. Dit was sleg.
Teen Dinsdag het hy nie meer geëet nie. Die weer het ook koeler geraak, en gelukkig het hy nie opgestaan en op die koue teëls gaan lê as ons hom op ’n handdoekie gesit het vir gemak met handdoekrol vir higiëne nie.
Ons het hom weer veearts toe gevat, en weer die onderwerp aangeroer van genadedood.
Ons het besluit óf Woensdag, óf Vrydag. ’n Artikel op die Internet het ’n veearts aangehaal wat sê om ’n dier sy finale inspuiting te gee, is een van die maklikste aspekte van sy werk, want hy bring aan ’n terminale siek dier verligting. Hy’t ook gesê dis een van die laaste uitdrukkings van barmhartigheid wat die eienaar kan gee aan ’n geliefde troeteldier.
Teen Dinsdagaand het ek gereken dat ons nie meer moet uitstel nie. Natasja het die volgende oggend vroeg die veearts laat weet.
Ek is bietjie van ’n swakkeling met hierdie sake. Toe ons besluit die uur het gekom, het ek hom van die vloer af opgetel en hom vir oulaas in sy kat-draer gesit. Hy’t net ’n bietjie gemurmureer.
By die veearts het ons hom uitgehaal en op die tafel neergeplaas. Ek het sy kop ’n paar keer gestreel … en toe besluit om weg te staan.
Die veearts het hom ’n slaapmiddel ingegee, en seker drie sekondes daarna toe dip sy kop af. Toe, met ’n groter inspuiting met vloeistof met ’n geel-oranje skynsel in sy hand, vra die veearts ons of ons seker is ons wil voortgaan. Ons het geknik. Toe spuit hy hom in. Ek het weggestap na die wasbak toe.
Ons het rondgestaan vir ’n paar minute. Die personeel het gepraat. Natasja het gepraat. Die veearts het gepraat. Ek het gevra hoe lank dit sal vat voor dit verby is. Natasja het meer spesifiek gevra hoe lank dit sal vat tot sy hart stop. Die vrou met wie ons die meeste gepraat het, sê toe dat dit reeds verby is. Sy hart het reeds gestop.
Ons het een van sy gunsteling komberse oor hom gedrapeer. Die personeel het sy liggaam oorgeplaas in ’n nuwe kartondoos, en verduidelik wat die proses is met die verassing.
Ons het betaal wat ons moes betaal, en almal bedank vir hulle hulp.
En huis toe gery met die leë kat-draer.
’n Troeteldier is een van daai dinge wat die lewe die moeite werd maak – spesifiek die hartseer, en die alleenheid, en die bekommernisse wat soms deel is van ’n mens se alledaagse bestaan.
Nou ja, dis dan dit.
______________________