Ek kyk ’n program getiteld Heart of Taiko, oor die tradisionele Japannese drom. Die program volg drie Maleisies-Japannese tienermeisies wat ’n taiko-groep gestig het in Penang. Hulle word genooi om ’n werkswinkel by te woon by ’n legendariese vervaardiger van taiko-dromme in Japan. Hulle ontmoet drie van die land se top vroulike spelers, wat hulle een na die ander onder hande kry om hulle te leer van tegniek en korrekte optrede. Aan die einde van die paar dae word daar verwag van die groep tieners om saam met die Japannese dromspelers ’n vertoning te lewer voor ’n uitgesoekte gehoor.
Die jonger van die drie Japannese meesters neem die voortou met die opleiding. Sy is krities van die begin af. Die meisies speel nie saam nie. Hulle vertoon ’n gebrek aan toewyding. Sy gee vir hulle pakke tydskrifte toegedraai in papier om op te oefen, en sy wonder die volgende dag hoekom die pakke nog nie stukkend geslaan is nie. Sy kyk na hulle handpalms. Hoekom is dit nie stukkend nie? Hoekom is daar geen blase nie? Sy vat hulle na ’n winderige strand toe waar hulle wydsbeen moet staan en swaar dromstokke bo hulle koppe moet hou terwyl hulle iets gil. Dit terwyl ’n sterk wind dreig om hulle om te waai. Hulle doen oukei, maar steeds is hulle leermeester nie beïndruk nie.
Die volgende dag gaan hulle na ’n klooster toe om te mediteer – hulle sit stil op kussings en staar na ’n wit muur. Aan die einde daarvan beskryf die een meisie dit as ’n baie leersame ervaring. Sy sê sy het geleer dat mens ten volle teenwoordig moet wees in die oomblik.
Hulle gaan terug na die opleidingsentrum toe. Hulle oefen harder.
Die dag daarna moet hulle weer dromme speel vir hul leermeester – die jong, professionele taiko-speler. Hierdie keer glimlag sy. Hulle maak nog baie foute, sê sy. Daar’s nog baie wat hulle moet leer. Maar, en dit sê sy met groot tevredenheid – sy sien meer toewyding in hulle oë. Sy sien dit ook in hulle armbewegings: die arms word hoog opgelig, en hard afgebring op die dromvel. En hulle skree lekker hard.
En hulle leer: Tegniese foute is een ding; ons werk daaraan. Almal maak foute aan die begin. Foute is vergeeflik. Wat onvergeeflik is, wat om die waarheid te sê ’n groot verleentheid is vir almal, is gebrek aan toewyding.
As ek gelukkig was in Stellenbosch in 1994 en ’95, gelukkig was in Korea in 1996 maar veral ’97 en ’98, gelukkig was in Johannesburg in 1998, en gelukkig was in Taiwan die eerste paar jare – en met geluk bedoel ek aanvanklik geld, en later ook gereelde vroulike geselskap, sou ek nie soveel teks geproduseer het soos wat uiteindelik die geval was nie.
Om te skryf, was vir lank vir my ’n meganisme om eensaamheid, stres, en verveling te hanteer. Dit was eers sedert 2003 wat ek aan myself begin dink het as ’n skrywer wat dalk iets het om te sê. Ek het wel voor 2003 gepraat en geskryf oor my ambisie om te skryf, maar ek glo as ek meer sintuiglike geluk ervaar het in die middel tot laat-negentigs, en die vroeë jare van die nuwe dekade, sou my ambisies om te skryf, vervaag het.
Ek het die laaste paar weke weer tyd gespandeer aan die redigering en vertaling van materiaal wat ek geskryf het in die middel- tot laat-negentigs en die vroeë nulle. Soos ek toe vanmiddag terugry van die werk af, dink ek aan van die temas wat keer op keer kop uitgesteek het in die materiaal. Ek dink toe daaraan dat ek ietwat verleë is oor die hele storie dat ek in my laat-twintigs en selfs nog vroeë-dertigs nie geweet het wat om te doen met my lewe nie. Ek het nie ’n ordentlike plan van aksie gehad nie; ek het nie geweet watse tipe sukses ek veronderstel was om na te jaag nie; en ek het nie ’n behoorlike begrip gehad van die lewe waarvolgens ek kon uitwerk watse besluite ek moes maak nie.
Soos ek verder huis toe ry, maak een gedagte toe plek vir die volgende. Ek dink eers aan my plegtige voorneme van gister dat ek vanmiddag, na my gewone take op die rekenaar, ’n middagslapie sal vat, en dan die nuwe boek gaan begin lees wat ek onlangs gekoop het vir my Kindle (oor die onopgeloste moord op ’n 20-jarige Britse vrou in Peking in 1937). Dit herinner my toe aan die lang artikel wat ek besig is om deur te werk op my leestoestel, en ek wonder vir ’n oomblik of ek dit eers klaar sal lees voor ek sal begin met die nuwe boek. Dis meestal teorie, dink ek toe, en dis moeilik om te volg en ’n bietjie vervelig.
Die artikel – eintlik ’n lesing wat gegee is jare gelede by ’n kongres – handel oor Leon Trotsky, rewolusionêr, skrywer en politieke teoretikus van die vroeë twintigste eeu. Ek dink toe hoe Trotsky, Lenin en ander Bolsjewiste soos Nikolai Bukharin “next level” slim was. Tussen konferensies wat hulle moes beplan en bywoon en wegkruip vir polisie en argumenteer oor die fyn punte van ideologie, het hulle ook nog ellelange artikels geskryf oor die teorie van politieke rewolusie. En omdat daar heelwat kompetisie was in die veld van politieke rewolusie teorie in die laaste dekades van die negentiende eeu en die eerste twee of drie dekades van die twintigste eeu, kon jy nie wegkom met strooi nie. Sodra iemand ’n nuwe stuk werk die lig laat sien het, is dit gefynkam vir historiese foute, teenstrydighede, en swak argumente. Net partyleiers en politieke aktiviste wat intellektueel besonders begaafd was, en boonop goed kon skryf, se materiaal is ernstig opgeneem wanneer besluite geneem is oor beleid en planne van aksie.
Boem! tref dit my: Daai rewolusionêre wat die politieke beheer van die ou Russiese Ryk wou oorneem, daarin geslaag het, en toe sit met die gebakte pere, het nie regtig geweet wat hulle doen nie! Nie net het hulle planne van aksie verander soos omstandighede dit vereis het nie, daar was ook ernstige meningsverskille onder die leierskorps oor watter teorieë gevolg moes word wanneer besluit moes word op politieke, ekonomiese, en maatskaplike beleid. Die wêreldbeeld en die begrip van hoe menslike bestaan veronderstel was om te verloop wat gegeld het vir eeue, is ook opsy geskuif. Die nuwe leiers in die Kremlin het ’n radikaal verskillende idee aangehang waarvolgens hulle geglo het mense se lewens bestuur moes word. Om beleid te kon bepaal, besluite te kon maak, planne van aksie te formuleer en planne van aksie uit te voer, het hulle egter meer as ’n radikale idee nodig gehad – hulle het teorieë benodig wat ’n bepaalde begrip oor menslike natuur in ’n koherente geheel kon saambind met politiek en ekonomiese beginsels en nog ’n paar ander dinge.
’n Oorsigtelike beskouing van politieke teorie in die tyd voor, gedurende, en na die 1917-rewolusie is genoeg om óf ’n mens se kop te laat spin, óf jou aan die slaap te verveel. Die ou Sosiaal-Rewolusionêre Party het byvoorbeeld geglo in die sosialisering van grond, oftewel dat plaasgrond verdeel moes word onder die kleinboere, terwyl Lenin en die Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty (uit wie se range die Bolsjewiste gekom het) geglo het in die kollektivisering van landbougrond – om dit onder staatsbeheer te plaas. Die SDAP het klaslidmaatskap gedefinieer in terme van eienaarskap van produksiemiddele, terwyl die Sosiaal-Rewolusionêre klaslidmaatskap gedefinieer het volgens die surplus waarde wat uit arbeid getrek word. Volgens die eerste definisie was kleinboere wat bestaansboerdery beoefen het, nie van enige loonarbeid gebruik gemaak het nie, en die grond besit het wat hulle bearbei het, lede van die kleinburgerklas. Volgens die tweede definisie kon hulle gegroepeer word saam met ander mense wat arbeid voorsien het eerder as mense wat arbeid gekoop het, en kon derhalwe saam met industriële arbeiders gesien word as deel van die werkersklas. (Hierdie verskil mag dalk vandag vir sommige mense lyk na ’n akademiese punt, maar veral in die 1920’s en 1930’s was dit ’n saak van lewe en dood.) Die skeuring van die Sosiaal-Demokratiese Arbeidersparty in 1903 was grootliks te wyte aan ’n verskil van mening oor beginsels en teorie. Een van die belangrikste punte waaroor die twee faksies verskil het, was oor die definisie van “partylid”. Lenin en sy ondersteuners (die latere Bolsjewiste) het aangedring daarop dat kandidate lid moes wees van een van die party se organisasies, terwyl hul opponente gereken het dit was goed genoeg as die persoon slegs gewerk het onder die leiding van ’n party-organisasie. Laastens was daar ook die verskil tussen Leon Trotsky en sy ondersteuners in die 1920’s wat geglo het dat die rewolusie ten alle koste uitgevoer moes word na ander lande, en sy aartsvyand in die party, Josef Stalin, wat van mening was dat sosialisme eers opgebou moes word in een land. (Weereens lyk dit dalk vandag na ’n debat tussen bleeksiele, maar Stalin het sterk genoeg daaroor gevoel dat hy ’n sluipmoordenaar gestuur het om ’n yspik in Trotsky se skedel in te kap om die argument te wen.) Trotsky het ook die idee aangehang van Permanente Rewolusie, wat volgens Wikipedia soos volg gedefinieer word: “Permanent Revolution is the theory that the bourgeois democratic tasks in countries with delayed bourgeois democratic development can only be accomplished through the establishment of a workers’ state, and that the creation of a workers’ state would inevitably involve inroads against capitalist property. Thus, the accomplishment of bourgeois democratic tasks passes over into proletarian tasks.” (En om te dink daar is mense wat reken om ’n rewolusie suksesvol deur te voer, het jóú kant net meer gewere nodig as die ander kant.)
Terug na my eie beskeie struwelinge in my twintiger- en vroeë dertigerjare. Ek het nie ’n land gehad wat soos ’n ryp perske in my skoot geval het nie, maar ek het my eie lewe gehad wat voor my uitgestrek het. Net soos die Bolsjewiste in die twintigerjare (en natuurlik die dekades daarna, maar dis ’n ander storie) moes uitwerk hoe hulle te werk moes gaan om ’n regering te vorm, beleid te bepaal, en infrastruktuur en dienste te behartig wat miljoene mense se lewens sou raak, moes ek ook besluit hoe ek te werk sou gaan om my eie lewe in ’n bepaalde rigting in te stuur, en dalk iets te doen waarop ek later kon terugkyk met meer trots as skaamte. En net soos die Bolsjewiste die maniere van dink en dinge doen verwerp het van wat die gevestigde politieke, ekonomiese en maatskaplike orde was in Rusland tot en met 1917, so het ek ook besef dat ek eers sou moes uitwerk hoekom ek een ding moes doen en nie ’n ander nie, hoekom ek nie net kon volg in die spore van ander mense nie, hoekom wat goed gewerk het vir vele van my tydgenote, nie noodwendig vir my kon werk nie. Ek kon nie net wegspring en my lewe begin “regeer” nie. Ek moes eers uitwerk hoekom dinge is soos dit is. Ek moes planne van aksie uitwerk wat sou strook met wat ek uitgewerk het, en met die “beleid” waarop ek besluit het.
Enige een wat ’n bietjie kennis het van twintigste-eeuse geskiedenis sal weet die Bolsjewiste se eksperiment het uiteindelik nie uitgewerk nie. Slim mense kan verduidelik waar die teorie soos ontwikkel deur Marx, Trotsky, Lenin en ander verkeerd was, en waar dit dalk kon gewerk het as dit nie was vir die destruktiewe beleid en sinnelose geweld van bloeddorstige helhonde soos Josef Stalin nie.
Na ek al daai tyd gespandeer het om te probeer uitwerk hoe ek my lewe wil leef en hoekom op so ’n manier, waar ek vandaan kom in die breër sin as net om na my pa en ma te kyk, en hoe ek inpas in die massa van stimulus buite my vel, moet ek sê dat my eie lewe tot dusver redelik goed uitgewerk het. Ek weet ook watse veranderinge ek nog kan aanbring om dit beter te maak. En as ek moet, kan ek alles verduidelik aan iemand wat die regte vrae vra. Wat, as ek so daaraan dink, nie sleg is nie, siende dat ek baie ver van “next level” slim af is.
Terwyl ek my tande borsel, dink ek aan ’n episode van ’n reeks op die misdaadkanaal oor ’n man wat op sy wittebroodreis op ’n passasierskip op misterieuse wyse na sy dood geval het. Dalk was dit ’n ongeluk. Of dalk was dit ’n groep Russies-Amerikaanse mans wat hom vieruur die oggend bed toe gehelp het in sy dronkenskap, besluit het om hom te beroof van die $17 000 in kontant waaroor hy gespog het, en hom oor die balkon gegooi het toe hy probeer het om weerstand te bied.
Wat ook al gebeur het, een ding is seker: Die man het ongelukkig dinge gedoen wat die waarskynlikheid dat iets sleg sou gebeur, verhoog het. Hy was immers stormdronk teen die tyd wat hy na sy kajuit toe gesteier het, alleen – behalwe vir die groep mans wat beslis nie sy vriende was nie.
Ek dink toe daaraan dat hy een na die ander rooi-vlag situasie verbygegaan het, en ongelukkig vir hom nie die regte teenstappe geneem het nie.
Die gedagte aan rooi-vlag situasies herinner my toe aan my reëls vir pryshandel op die Britse perderesiesmark. Ek besef toe dat hierdie stel reëls ook toegepas kan word op mens se breë bestaan.
Die reëls is soos volg: 1) kyk ’n situasie goed uit voor jy dit betree; 2) beheer rooi-vlag situasies op kalm en beheerste wyse; 3) as dinge nie goed lyk nie, maak dat jy so gou as moontlik wegkom; 4) moenie gretig wees nie (dit wil sê, moenie onnodige kanse waag as jy reeds sit met ’n skaflike resultaat van jou arbeid nie).
In die genoemde geval, indien die man inderdaad ’n slagoffer was van vuilspel, kan dit gesê word dat daar ’n paar aspekte van sy finale, noodlottige nag was waaroor hy waarskynlik nie mooi gedink het nie; toe hy homself in rooi-vlag situasies bevind het, het hy óf geen teenstappe geneem nie, óf hy was nie in staat om enigiets daaraan te doen nie; op ’n sekere punt het dinge beslis nie goed gelyk vir hom nie, maar hy kon homself om verskeie redes nie (meer) onttrek uit die situasie nie; en siende dat hy in ’n baie gunstige situasie was voor die reeks gebeure – op sy wittebrood op ’n luukse passasierskip, kan dit voorgestel word dat dit onnodig was vir hom om oormatig te drink op die betrokke aand.
Reëls maak sekerlik soms die lewe vervelig, maar dit kan nie ontken word dat om ’n paar eenvoudige reëls na te kom, jou dalk net van finansiële ondergang kan red nie, en so nou en dan van ’n situasie waarin jy dalk te laat sou besef jy jouself nooit moes bevind nie.