DINSDAG 22 OKTOBER 2013
Net voor ek intrek by een van slegs twee oop parkeerspasies by die supermark (dink spasies breed genoeg vir fietse, bromponies en motorfietse), parkeer ’n vrou en haar seun in die ruimte langsaan. Maar sy parkeer skeef, oor die ruimte waar ek my fiets moet staanmaak. Soos sy wegstap, kyk sy oor haar skouer. Sy sien sy’t skeef geparkeer. Sy sien ek moet by die spasie ingaan waar die voorste ent van haar bromponie staan. Sy draai haar kop weg, en stap by die supermark in.
My beskouing van haar is eenvoudig: Sy’s ’n barbaar.
Hoe anders? Sy verwag heel waarskynlik dat ander mense redelik sal optree teenoor haar in ’n parkeerarea, maar sy doen presies die teenoorgestelde. Ook, as almal moet doen wat sy gedoen het, sal daar chaos en konstante konflik wees. Nie net is sy nie ’n redelike mens nie, sy tree nie rasioneel op nie.
Ek het haar ’n vuil kyk probeer gee by die groente-afdeling, maar sy het weggekyk.
Hoe anders? (Of dink ek te veel?)
In ander nuus, ek het ’n noue ontkoming gehad kort voor my ontmoeting met die barbaarse vrou. Ek was besig om deur die tonnel te ry wat onderdeur die treinspoor gaan naby ons woonstel. Voor my was ’n ander fietsryer. Ek hou altyd regs in die nou tonnel sodat mense op bromponies my kan verbygaan, maar in hierdie geval kon ek sien dat ek die ander fietsryer sou moes verbysteek. Net soos ek toe verby hom skuur, hoor ek ’n helse knal. Ek kyk toe om en sien dat die ander ou oor iets gery het wat sy agterwiel se band laat bars het.
As hy nie daar was nie, het ék oor die skerp voorwerp gery. Wat beteken ek sou nie supermark toe gegaan het nie, en derhalwe nie die barbaar teëgekom het nie. Wat verder beteken dat ek nie rede sou gehad het om hierdie kort stukkie teks te skryf nie, wat beteken dat jy nou iets anders sou gelees het.
Snaaks hoe dinge uitwerk.
______________________