DONDERDAG 18 APRIL 2013
Situasie 1:
Persoon A sê Charles Manson het nooit ’n kans gehad nie. Sy kinderdae was gevul met alkoholisme, verwaarlosing, en ’n gebrek aan koestering en liefde. Dat hy ’n misdadiger geword het, en uiteindelik aandadig was aan brutale moorde, is nie juis ’n verrassing nie.
Persoon B vra of Persoon A regverdig wat Charles Manson gedoen het.
“Nee,” antwoord Persoon A. “Dis wel vir my belangrik om te probeer verstaan hoekom iemand iets gedoen het eerder as om net my kop te skud vir al die onbegryplike boosheid in die wêreld.”
“Wat sou jy gedoen het as jy in 1969 geweet het van Charles Manson,” vra Persoon B, “as jy geweet het van sy mishandeling en verwaarlosing, en jy sien dan hy’s besig om iemand wreed aan te rand?”
“Ek sou probeer het om hom te stop, met geweld, indien nodig.”
“Sou jy so ver gegaan het om hom dood te maak as jy gedink het die ander persoon se lewe is in gevaar?”
“As dit daarop sou neerkom, ja.”
“Selfs al het jy begrip gehad van sy jeug en hoe dit gelei het tot hierdie aanval?”
“Ja. Sy jeug verduidelik tot ’n groot mate sy gedrag. Maar sy jeug en hierdie persoon se lewe wat in gevaar sou wees, is twee verskillende sake. Hy mag nie die persoon aangerand het nie. Hy mag nie hierdie persoon se lewe bedreig het nie. Sou hy dit wel doen, moes hy die gevolge dra. Dat ek verstaan wat sou gelei het tot hierdie gedrag, neem niks weg van my morele verantwoordelikheid om die ander persoon se lewe te probeer beskerm nie.”
Situasie 2:
Persoon A sê hy verstaan dat die Rooi Leër soldaat in Berlyn in April 1945 kwaad is vir alle Duitsers, omdat húlle die oorlog na hóm en sy land gebring het. Hy is vol woede en energie, en vrees vir sy eie lewe. En hy mis sy vrou. Hy het haar maande laas gesien. Hy hoor ander Sowjet-soldate sal sommer ’n vrou gryp in die straat en hulleself afdwing op haar. Hy mis die nabyheid van ’n vrou. Hy voel niks anders as haat vir die Duitsers nie. En hy is seksueel gefrustreer, vol adrenalien, en die testosteroon in sy bloed laat hom op ’n manier aan dinge dink wat nie strook met sy morele waardes nie.
Dan, een middag, sien hy ’n jong vrou by ’n gebou instap. Hy agtervolg haar. Teen die tyd dat sy op die tweede vloer kom, is hy agter haar. Hy roep na haar. Sy loop vinniger. Hy haal haar in, pen haar vas teen die muur.
Persoon B: As jy daar was, en jy verstaan hoekom hy so optree, wat sou jy gedoen het? Of, wat sou jy gereken het is die regte ding om te doen?
Persoon A: Ek sou alles in my vermoë gedoen het om hom te stop, selfs al sou dit beteken ek moes hom doodmaak.
Persoon B: Al verstaan jy hoekom hy dit doen? Al verstaan jy die omstandighede, die oorlog, die feit dat hy maande laas sy eie vrou gesien het, sy woede, die adrenalien, die testosteroon, die feit dat hy weet hy dalk die volgende dag dood kan wees? Sou jy hom steeds doodgemaak het?
Persoon A: Ek sou enige iets gedoen het om hom te stop. Die redes hoekom hy in daai situasie was, wat rasioneel verduidelik kan word, en die vrou se lewe, is twee verskillende sake. Hy mag hom nie op die vrou afgedwing het nie. Dis immoreel. Dis verkeerd – selfs as die redes agter sy aksies verduidelik kan word. My morele plig sou wees om die vrou te beskerm. Al sou dit beteken het dat ek dalk die soldaat moes doodmaak. Selfs al sou ek begrip gehad het vir sy situasie.
Konklusie: Begrip vir immorele gedrag neem niks weg van jou morele verantwoordelikheid teenoor jou medemens in gevaar nie. In ’n situasie waar ’n onskuldige persoon in gevaar is, is dit al wat saak maak. Om jou voorneme te kompromitteer op daai oomblik deur die motivering te oorweeg vir die gedrag van die pleger van geweld, is ’n luukse wat die persoon in gevaar nie kan bekostig nie.
______________________