SATERDAG 13 OKTOBER 2012
Wanneer iemand my raad vra oor beroep of werk of maniere om geld te maak – of wanneer ek dit in elk geval gee, baseer ek altyd my opinie op ’n sekere model wat ek in my kop het. Hierdie model sê: moenie te veel gewig gee aan iets wat aan jou hoër status sal gee in die gemeenskap nie; dink twee keer voor jy aandring daarop om geld te probeer maak met dit waarin jy belangstel – daar’s nie noodwendig ’n mark vir dit waarin jy belangstel nie, en selfs as daar is, mag jy dalk na ’n paar jaar van kommersieel besig wees daarmee, nie meer so passievol wees daaroor nie; moenie jouself verbind aan ’n beroep of ’n kommersiële aktiwiteit waar jy dieselfde ding oor en oor gaan doen nie, Maandag tot Vrydag, tot iemand jou uiteindelik aan die skouers ruk en sê, “Stop! Jy’s 65. Tree af!”
Ek reken, en het nog altyd gereken, die model maak sin. Derhalwe kan ek nooit verstaan as iemand my goed bedoelde raad aanhoor en presies die teenoorgestelde doen nie.
Daar is egter iets wat ek neig om te vergeet.
Mense kry in vele gevalle iets terug as hulle hul eie koppe volg en status in die gemeenskap oorweeg, as hulle probeer om geld te maak met iets waarvoor hulle nog altyd ’n passie gehad het, of as hulle ’n beroep of besigheid kies waarin hulle tot vervelens toe dieselfde ding oor en oor gaan doen. Hulle bewerkstellig ’n gereelde inkomste waarmee hulle kos op die tafel kan sit, en die huur kan betaal. Hulle ontwikkel ’n verhouding met ander mense in die gemeenskap. Hulle raak deel van iets. Hulle sal vir my sê: “Jy weet wat? Dis waar dat die werk soms vervelig is, maar ons hou van wat ons aan die einde van die dag en aan die einde van die maand terugkry. Dit wat ons kry vir ons arbeid, nie net geld nie maar ook samesyn met mense saam met wie ons werk, maak op vir dit waarvan ons nie hou nie. Ons verduur maar net die minder aangename aspekte van ons arbeid.”
My model werk vir die enkeling wat uitgelos wil word, vir die persoon wat nie sy passie wil kompromitteer met kommersiële verpakking nie, en wat baie beslis nie elke dag dieselfde vervelige werk oor en oor wil doen tot hy van sy kop af raak nie. My model werk vir die persoon wat nie ’n familie aan die lewe hoef te hou nie, wat nie vervelige werk wíl verduur nie.
Is ek dus verkeerd?
Nee. Ek neem net nie altyd in ag wat werk vir ander mense, wat hulle wil hê uit die lewe, en wat hulle bereid is om op te gee vir wat hulle terugkry nie.
______________________