Dankie tog vir musiek

SONDAG 29 JULIE 2012

Ek is seker daarvan ek het al voorheen ’n soortgelyke stelling gemaak op Facebook – of aan totale vreemdelinge op Twitter, maar hier’s dit weer: My persoonlike 1972-playlist skop stof in die oë van enige iets wat enige iemand anders op hulle iPod kan optower.

Goed, dis effens kinderagtig. In die eerste plek skep dit die vals indruk dat ek ’n iPod besit, en in die tweede plek kan ek self aan ’n hele paar ander goeie jare dink, in terme van populêre musiek – en dis net tussen die jare 1960 en 2010.

Nietemin, wat maak 1972 so spesiaal? Cat Stevens, Elton John, Pink Floyd, David Bowie, Neil Young, Stevie Wonder, Paul Simon, Lou Reed, Carly Simon, en om die lys af te sluit, onvergeetlike bydraes van Johnny Nash (“I Can See Clearly Now”), Bill Withers (“Lean On Me”), Al Green (“Let’s Stay Together”), Stealers Wheel (“Stuck In The Middle With You”), en een van die eerste melodieë wat my regop laat sit het op die agtersitplek van ons groen Datsun, Hot Butter se “Popcorn”.

En die kersie op die ryk sjokolade-en-vanilla koek van 1972? Die feit dat dit naatloos oorgaan in 1973 – meer Pink Floyd, meer Elton John, meer David Bowie, en dan Springsteen, Tom Waits, Aerosmith, Billy Joel, Lynyrd Skynyrd, Gladys Knight & The Pips, ZZ Top, en ’n lied wat my altyd aan my pa sal herinner, “My Friend The Wind” deur die Griekse sanger, Demis Roussos.

Dankie tog vir musiek.

______________________

MUZORIAN: 1972 from MUZORIAN on 8tracks.

______________________

Die groen Datsun

______________________

Nagmark in my kop

SATERDAG 28 JULIE 2012

Aag tog … sestien voor middernag.

Die woord “haat” is sterk, so kom ons sê maar net hierdie tyd van die aand is nie my gunsteling tyd van die dag nie. Ek is moeg … en my ooglede is op die punt om op te gee. Maar binne in my kop is daar steeds ’n suising van dinge wat gedoen kan word, wat gedoen móét word, wat lekker en interessant sal wees om te doen.

In my geestesoog sien ek ’n bazaar, of ’n nagmark in Taiwan. Jy hoor honderde stemme, kos wat op warm plate gegooi word, gebraaide hoender en pannekoek en vetkoek en samoesas wat voorberei word vir mense wat honger by plastiektafels sit en wag. Jy weet dis daar, maar jý is nie.

Dit is hoe dit is vir my, laat in die nag.

______________________

Geluk, geld en skryfwerk: ’n Bekentenis

DINSDAG 24 JULIE 2012

Ek put geen besonderse geluk daaruit om geld te spandeer nie. Ek is bewus daarvan dat om genoeg geld te hê om te spandeer op klein luukshede of ’n bietjie vermaak, in teorie belangrik is vir persoonlike geluk. In die praktyk het ek egter al baie persoonlike geluk opgetower, vir maande aaneen, sonder om oor geld te beskik om te spandeer op dinge wat ek nie absoluut nodig gehad het nie. Ek kan opoffer persoonlike gemak, beter klere, ’n fiets wat nie kraak wanneer ek daarop ry nie en wat nie staangemaak hoef te word teen ’n paal nie, selfs tot ’n mate my gesondheid. En ek het al baie opgeoffer, net sodat ek die beste ure van elke dag met my eie projekte besig kan wees.

Tog, vir meer as vyf jaar het ek ses, en gereeld sewe dae per week gewerk aan my eie projekte – sonder die gepaardgaande geluk wat ek verwag het daaruit. Hoekom so? Feitlik al my projekte oor daai periode het gegaan oor geld maak. Alles het gegaan daaroor om goed te verkoop of te bemark aan mense. Ek het dit gedoen, omdat ek vir my en my lewensmaat ’n beter lewe wou bewerkstellig. Ek het week in en week uit vir haar gesê, wag maar net ’n bietjie, binnekort vloei die geld in. Vir meer as vyf jaar het ek bly resiteer, bly voorspel, bly verduidelik: Wag net ’n bietjie langer.

Ek weet om te skryf, maak my gelukkig. Ek glo ook om te skryf, is vir my deel van ’n hoër vlak van bestaan. Ek kan selfs glo ek dien ’n hoër doel wanneer ek skryf – veral indien ek oor sekere onderwerpe skryf. In die meer as vyf jaar wat ek omtrent al my tyd gespandeer het daarop om te probeer om meer geld te maak, het ek my skryfwerk merendeels op die agtergrond geskuif. Dit het my ontneem van die geluk wat altyd die resultaat was daarvan wanneer ek skryf. Dit het my ontneem van die oortuiging dat ek ’n bestaan voer op ’n hoër vlak as wanneer ek net stry vir oorlewing.

Februarie verlede jaar [2011] het ek besluit, of besef, ek kan lewe nie langer as vanselfsprekend aanvaar nie. Lewe eindig elke dag vir ’n menigte mense wat nog besig is om te dink daaraan om te doen wat hulle werklik gelukkig maak. So, beginnende verlede Februarie, het ek weer amper elke dag tyd gespandeer aan my skryfwerk. En weer het ek die geluk ervaar wat ek geweet het die resultaat sal wees daarvan.

Maar dit bly hang soos ’n meulsteen om my nek, soos ’n skandalige letter teen my bors: Ek maak nie genoeg geld nie.

Wat beteken my maat – die vrou wat ek liefhet – moet harder werk om geld te maak.

Wat beteken ek is gelukkig, ten koste van haar.

______________________

Deurweek met spesifieke doel en funksie

VRYDAG 20 JULIE 2012

Stel jouself voor ’n dik sny witbrood. Jy smeer ’n dun lagie botter op, en dan gooi jy omtrent sewe eetlepels goue stroop oor die sny brood. Sewe eetlepels. Dan gaan kyk jy TV vir so ’n uur. Wat kry jy as jy terugkom in die kombuis? Soos verwag kan word, kry jy ’n sny brood absoluut deurweek met stroop.

So is dit met doel en alle lewe op aarde. Alles van die oog van die vlieg tot die onderdele van ’n mikro-organisme, tot by jou eie oë, vel, tone, bloed en beendere – alles is absoluut deurtrek met spesifieke doel en funksie. [Eintlik nogal ’n komplekse saak. Eers het wetenskaplikes gedink heelwat van die menslike genetiese struktuur is “gemors DNS” met geen funksie nie, toe ontdek hulle dat hulle dalk ’n paar dinge misgekyk het.]

Hoe op aarde kan elke onderdeel van elke klein en groot organisme en kreatuur op hierdie planeet ’n spesifieke doel hê, maar die geheel van die vis of die kokkerot of die renoster het nie ’n doel nie? Hoe kan elke klein onderdeel van die mens ’n spesifieke “taak” hê om te doen, maar die mens as geheel nie? Hoe kan iemand sy skouers optrek en beweer dat sy of haar lewe nie juis ’n doel dien nie? En as dit wel ’n doel dien, weet hulle nie wat dit is nie.

Natuurlik word niemand gebore met ’n nota vasgemaak om hulle nek wat verduidelik wat die doel van hulle lewe veronderstel is om te wees nie, maar hoeveel mense is nie juis vreeslik entoesiasties om te soek na wat dalk die doel van hulle lewens kan wees nie?

Het menslike lewe ’n doel? Het elke individu ’n spesifieke rol om te vervul? Indien wel, wie – of wat – bepaal wat dit is? En na watse moontlikhede kyk ons?

Vele mense wat wonder hieroor, sal draai na hulle plaaslike dominee, pastoor, priester, imam of rabbi, en verwag dat hierdie figure vir hulle sal sê wat die doel van hulle lewe veronderstel is om te wees, om dit vir hulle uit te spel, om vir hulle duidelike instruksies te gee.

Ek dink dit is lui. Ek dink dis die maklike pad. Ek dink dis ’n kort pad wat te veel mense vat.

’n Vraag: Berei die opvoeding wat ons kry van ons ouers, en op skool, en by die breë gemeenskap, ons voor om uit te sorteer of te ontdek wat die doel van ons lewens is?

Indien nie, wat kan ons as volwassenes doen om dit vir die volgende geslag makliker te maak? Wat moet ons as volwassenes doen, vandag, om hierdie soektog ’n redelike kans te gee op sukses – vir die volgende geslag, en ook vir onsself?

———–

Hierdie aantekening is geïnspireer deur Dokument 1_181104_2359.doc.

Sien ook: Die doel van bestaan 310305.doc

______________________

Een gedagte oor godsdiens, en een oor geld

WOENSDAG 11 JULIE 2012

Ek dink vroeg vanaand op pad terug van die buffet-plek af, heelwat van my volwasse lewe sover was in verset teen die waardes wat my ouers gehandhaaf het – spesifiek in terme van godsdiens, en die belangrikheid van geld.

Twee gedagtes spruit toe daaruit:

1. Dat ek opgehou het om tradisionele Christelike leerstellings te bely, was ’n direkte gevolg van die erns wat ek voorheen gemaak het met tradisionele Christelike leerstellings. Mens kan selfs so ver gaan om te sê dat my uiteindelike “ongeloof” die resultaat was van my eertydse “geloof”. Ek het geglo aan die tradisionele Christelike leerstellings omdat die waarde van Waarheid aan my geleer is. Ek het geglo aan die tradisionele Christelike leerstellings omdat ek geglo het dit wás die Waarheid. Toe ek leer hoe die “waarhede” afgewater en verander is oor die eeue om menslike agendas te dien, het ek die enigste opsie gevat wat my toegelaat het om my integriteit te behou: verlaat die pad van tradisionele Christelike doktrines, en volg steeds die Waarheid na.

2. Ek sê graag geld is nie alles nie. Vir my ouers, dertig jaar gelede, met drie kinders om te voed, gesond te hou, te klee, van beddens en ’n dak oor hulle koppe te voorsien, en te ondersteun in hulle opvoeding, was die sentiment dat geld nie alles is nie ’n groter luukse as ’n nuwe karavaan, ’n groter luukse as ’n vakansie by die see. Om te sê geld is nie alles nie, was ’n sentiment wat hulle doodgewoon nie kon bekostig nie.

______________________