Drie breë moontlikhede vir hoe jy jou lewe kan leef

MAANDAG 12 MAART 2012

Ek dink al vir lank dat ek alles wat ek tot nou toe geskryf het, op ’n punt moet trek om ’n antwoord te kan gee vir die vraag: Wat nou?

Een gedagte wat dalk ingewerk kan word: Ek glo daar is drie breë moontlikhede vir hoe jy jou lewe kan leef.

Opsie een: Jy leef vir jouself, vir jou eie geluk, en vir jou eie welsyn.

Opsie twee: Jy onttrek, en spandeer soveel tyd as moontlik op jou eie. Dalk doen jy dit omdat jy jou eie geselskap verkies, of omdat jy jou lewe eenvoudig wil hou. Dalk doen jy dit as deel van ’n spirituele eksperiment, wat sommige mense noem, ’n “soeke na God” of “om naby God te wees”. En dalk doen jy dit net vir ’n periode van jou lewe om dinge vir jouself uit te sorteer.

Opsie drie: Jy leef vir iemand anders, of vir iets waarin jy glo. Jy kies om jou eie geluk en welsyn, en die vervulling van jou eie drome en ambisies tydelik op te skort, of permanent op te offer, ten einde ’n ander persoon of persone in hulle stryd by te staan, of om jouself te bearbei vir die groei van ’n instelling, of om ’n saak te bevorder waarin jy glo.

Soms domineer een van bogenoemde drie leefstyle ’n persoon se lewe tot so ’n mate dat dit nie moeilik is om te sien in watter groep hierdie mense sorteer nie. Daar is wel ook baie mense wat aspekte van al drie maniere van leef kombineer. Sommige mense glo dis verkeerd om net vir hulleself te leef, so hulle gee Nommer Drie sterk oorweging. Hoewel meeste mense daarvan hou om deel te wees van iets groter as hulleself, en werklik ander mense se geselskap geniet, droom vele van ons ook soms van Nommer Twee – wanneer “alles” “te veel” raak. En selfs al offer mense die beste deel van elke dag op vir hulle kinders of vir vriende en familie, sal hulle soms iets doen net vir hulleself – selfs al moet iemand anders ’n bietjie swaarder dra vir ’n rukkie as gevolg daarvan.

______________________

Heel waarskynlik nie wat jy dink jy is nie

DINSDAG 6 MAART 2012

Soos ek deur my Julie 2004 notas oor die SELF lees, word ek herinner daaraan dat die konsep van die “persoon” moeilik is om vas te vat.

Fisies is ’n persoon ’n versameling selle (meer as tien triljoen van hulle), wat op hulle beurt bestaan uit proteïne en nukleïnesure en ander biomolekules, wat op hulle beurt bestaan uit nog kleiner dele genaamd atome, wat weer bestaan uit subatomiese deeltjies. Meeste van die selle waaruit die mens bestaan, wat hare vorm, en vel, en naels en bloed en geraamte, word vervang teen wisselende spoed – van elke paar dae tot elke paar jaar. Fisies is ’n betekenisvolle persentasie van jou dus nie werklik ouer as ’n paar jaar nie. Jy is tot ’n groot mate nie dieselfde versameling selle wat jy was tien jaar gelede nie!

As jy dink die fisieke aard van die mens is moeilik om vas te vat, gaan die psigiese aard van die mens jou nog meer laat gryp na iets om aan vas te hou. Hoe presies werk geheue? Hoe weet jy wie jy is? Hoe vorm persoonlikheid, en hoe verander dit? Hoe maak jy keuses? Hoe besluit jy op jou voorkeure en jou afkeure? Hoekom hou jy van sekere dinge of van sekere mense of plekke, en jy haat ander dinge of plekke, en vermy sekere mense soos die pes? Hoeveel besluit jy, en hoeveel ontdek jy? Tot watter mate is sogenaamde vrye wil ’n illusie?

WOENSDAG 7 MAART 2012

Moontlikhede vir die onstaan van die SELF:

Moontlikheid een: Binne enkele oomblikke nadat die kind gebore word, is daar ’n “wind” wat deur die vertrek waai. Die pasgebore kind se bewussyn van self word kort daarna geaktiveer, as’t ware. In hierdie geval sal dit sin maak om te vra, “Wie of wat het dit veroorsaak?” Dit maak verder sin dat mens by hierdie bewussyn-aktiveerder (of Bewussyn-Aktiveerder) antwoorde, of dan ten minste leidrade, sal soek oor die doel en betekenis van jou bestaan.

Moontlikheid twee: Dit is ’n stadige proses wat in klein inkremente gebeur: aanvanklik niks, of amper niks; later sal ’n mens kan sê dat “êrens tussen Maart en Junie” die kind ’n bewussyn van homself ontwikkel het. Dit sal dalk verduidelik hoekom ’n pasgebore baba soveel skree. As hulle die woorde geken het, sou hulle heel moontlik wou gil: “Wat de hel?! … was die een oomblik nog deel van iets … en die volgende oomblik … Wat gaan hier aan? Wat is ek?!” In hierdie geval is daar geen dramatiese oomblik waar die bewussyn geaktiveer is nie, so daar is niemand of niks om te probeer kontak vir antwoorde nie.

______________________