Weerkaatsing van die vrou met die roller op haar voorkop

SATERDAG 25 FEBRUARIE 2012

Ek sit vanmiddag op die moltrein op pad huis toe. In die venster oorkant my sien ek die weerkaatsing van ’n jong vrou, twee sitplekke van my af. Ek merk op dat sy ’n reusagtige pienk roller op haar voorkop het, in plek gehou deur ’n sliert hare wat om dit gedraai is.

Een moontlikheid, skiet die gedagte deur my kop, is dat sy ’n modeslaaf is. ’n Jaar gelede het die breë samelewing, insluitende modeslawe, dit as belaglik beskou om rond te loop met ’n groot pienk kruller vasgeplak teen jou voorkop. Toe, uit die bloute, daag ’n gesagsfiguur in die modewêreld by ’n modeskou op met een op haar voorkop, en sedertdien het elke dissipel van die gesagsfiguur wat sy of haar sout werd is, die tendens slaafs nagevolg.

Indien dit die geval is, indien die jong vrou inderdaad ’n slaaf is vir alles wat modieus is, het ek nie veel agting vir haar nie, want sy is duidelik nie iemand wat vir haarself dink nie.

(Ek het ook gewonder wie aan die einde bepaal wat belaglik is. Ek druk elke dag ’n stuk lap op my kaal kop en noem dit ’n keps. Is dit nie belaglik nie?)

Die tweede moontlikheid, dink ek toe, is dat sý die een is wat die modeneiging begin het – of in die proses is om dit te begin. Dit sal beteken sy kyk nie na die arbitrêre belaglikhede wat ander mense aanvang en volg dit dan slaafs na omdat die persoon gesien word as ’n gesagsfiguur nie.

Is dit die geval, sal my beskouing van haar betekenisvol styg. Sy sal dit duidelik gemanifesteer het dat sy iemand is wat vir haarself dink en haar eie besluite neem, en dan verskyn in die openbaar op ’n manier waarin sy glo en wat sy goedvind – al sien ander dit, vir eers, as belaglik.

Soos ons Formosa-stasie nader, kyk ek een laaste keer in die rigting van my potensieel interessante medepassasier. Ek sien die roller is weg. Dit het blykbaar net ’n praktiese doel gedien.

’n Half-minuut later staan sy deur se kant toe, en ek kry vir die eerste keer ’n behoorlike kans om na haar te kyk – maar net vir ’n oomblik, want toe die deure oopskuif, druk sy effens verby ’n ander passasier. Kort daarna verdwyn sy in die stroom mense in, met haar kuif wat nou met so ’n astrante boog wegstaan van haar voorkop af.

Nota aan myself, dink ek toe: Aannames oor mense voor jy die hele storie ken is dalk nie vreeslik slim nie, maar ten minste is dit beter as om na jou eie weerkaatsing te staar in die moltrein se venster.

______________________

Tyd om op te gee

WOENSDAG 22 FEBRUARIE 2012

Een van die min populêre frases wat ek aanhang soos ’n universele waarheid, is dat mens nooit moet opgee nie. Ek glo dit nou al vir baie jare, en resiteer dit gereeld aan myself asof dit gebed is. Almal wat ek respekteer wat enige iets te sê het oor die lewe, bevestig dit ook. Jy gee nie op nie. Jy mag nooit, ooit opgee nie. As jy opgee, is dit verby. Jy sit plakkate teen jou mure op wat jou daaraan herinner. Jy koop vir jou T-hemde met bewoording wat dit bevestig. Jy stuur skakels aan na video’s wat dit preek. Jy deel kort stories op Facebook sodat ander mense dit nie dalk vergeet nie. En as dit nodig is, skryf jy dit met ’n swart pen op jou tekkies se sole: “Never give up.”

Die opgee waarna ek hier verwys, is die fatale tipe, die eksistensiële tipe. Ek verwys hier na ’n besluit om nie meer dinge te doen nie – jy’s klaar met alles, klaar met probeer.

Tog, ten spyte van die lewensnoodsaaklike oortuiging wat so na aan ’n mens se hart lê, het jy soms nie veel van ’n keuse nie. Verskil is, dit wat jy opgee is nie lewe nie, en dit beteken nie dat jy nooit weer sal probeer nie.

Soms moet ’n mens opgee op dinge wat nie meer werk nie, of nog nooit regtig gewerk het nie. Soms gee mens op op ’n verhouding, of op ’n huwelik. Soms, na jy jare lank probeer het om uit te hou by ’n maatskappy want die hemel alleen weet jy’t die geld nodig gehad, gee jy op. Jy bedank, en vee jou hande af aan iets waaraan jy jou bes gegee het om te laat werk. En soms los jy die stuur van projekte wat jy oor ’n duisend klipperige paaie gery het. Jy los die stuur, maak jou sitplekgordel los, en spring uit die kar uit voor dit oor die afgrond stort.

Want soms moet mens opgee om te oorleef.

______________________