Ek probeer om radikaal te wees, sonder my blou kitaar

WOENSDAG 3 MAART 2010

11:58

Twee (moontlik) onverwante gedagtes:

1. My blou elektriese kitaar wat ek in 2000 aangeskaf het in ’n maniese periode toe ek gedink het ek gaan ’n popster of iets word, het uiteindelik sy ware doel en waarde ontbloot: om na tien jaar verkoop te word vir kosgeld wat moontlik so lank as twee weke sal hou.

2. Vir as ek dit gemis het, die punt is opvoeding, en meer spesifiek, ek wat ander mense se opvoeding fasiliteer. Ek reken die onderwerp is voor die hand liggend: finansiële onafhanklikheid. (Hoe werk dit, as ek self sukkel om kop bo water te hou? Ons leer uit mekaar se foute, en uit wat ons wysraak op pad êrens heen.)

20:39

Dit is beter om psigoties te wees en/of in ’n waan te leef as om op te gee. “One can never be radical enough; that is, one must always try to be as radical as reality itself,” het Lenin blykbaar op ’n dag gesê.

VRYDAG 5 MAART 2010

Drie beelde:

– die suksesvolle persoon – familie en vriende ag hom as suksesvol, so ook kollegas en kennisse, maar bowenal ag hy homself as suksesvol

– die een wat opgegee het – trek lewensenergie uit enige een wat nog probeer om iets te doen; skiet alle pogings en idees af; versuur ander mense se hoop; kritiseer alles; bitter

– die een wat aanhou probeer – selfs as dit op ’n punt kom wat sy vriende en familie begin dink dat hy dit nooit sal “maak” nie, selfs al slaag hy nie daarin om sy doelwitte te verwesenlik in die redelike tyd wat hy vir homself gestel het nie, sal hy aanhou werk daaraan, en hy sal heel waarskynlik aanhou tot die dag wat hy verwelk en in die niet verdwyn

SONDAG 21 MAART 2010

Niks beklemtoon jou skande en verleentheid heeltemal soveel soos om absoluut geen kontant in jou beursie te hê nie, en nie genoeg geld in die bank om dit wat jy het, by ’n OTM te trek nie.

VRYDAG 26 MAART 2010

Ek toon al vir jare hierdie neiging om ongemaklik te wees oor die moontlikheid van oormatige geluk.

Sê ’n stem in my kop: Jy doen op die oomblik omtrent 25 of 30% op die geluk-skaal. Baie mense kan gaan tot so 80% voor hulle ongemaklik begin raak. Jy kan self gaan tot so 60 of 65% voor jou kop sal ontplof, so ten minste vir die afsienbare toekoms het jy niks om oor bekommerd te wees nie.

MAANDAG 29 MAART 2010

Beskerm die gees – dit is jou primêre verantwoordelikheid. Wanneer die gees begin kwyn, begin alles ontrafel.

______________________

Op die regte spoor, maar nog nie daar nie

VRYDAG 5 MAART 2010

“Is ek op die regte pad?” hoor ek ’n stem vra. “Doen ons nou die regte dinge?”

Stel jouself voor jy beplan ’n reis, kom ons sê Pretoria tot Kaapstad. Jy bespreek jou treinkaartjie; jy pak jou tas die dag voor jy vertrek; jy gaan slaap vroeg; jy staan betyds op. Meer as ’n uur voor die trein vertrek, is jy reeds op Pretoria-stasie. Jy boek in, vind jou kompartement, laai jou bagasie en wag geduldig op ’n sitplek langs die venster. Stiptelik op die regte minuut begin die trein beweeg, en jy is op pad na jou beplande bestemming.

As ek myself vra hoekom “ons” nog nie geld maak nie hoewel “ons” blykbaar nou die regte dinge doen, is dit soortgelyk as om te vra in my treinreis storie, wanneer die trein Kimberley binnetrek, “Hoekom is ons nog nie in Kaapstad nie? Iets is nie reg nie. Jy sê ons is op die regte trein, volgens jou blykbaar op pad Kaapstad toe, maar ek sien nog nie eens die buitelyn van Tafelberg op die horison nie! Wat gaan aan hier?”

My advies aan die “reisiger”: Kalmeer. Jy sal wel arriveer wanneer al die regte plekke aangegaan is, en jy geduldig voortgegaan het met die reis en die versoeking weerstaan het om af te klim by Drie Susters of De Aar omdat jy kon sweer ’n ander trein jou vinniger in Kaapstad gaan bring. Jy is op die regte trein. Bly net kalm.

______________________