DONDERDAG 13 APRIL 2006
Ek voel soms soos ’n marionet wie se verstand lewendig geraak het (die idee kom uit Fritz Leiber se boek, You’re All Alone): intelligent genoeg om te sien wat ek sien, maar onbevoeg om die volle waarheid te weet of te verstaan, vasgevang in ’n skemeragtige half-lewe.
Watse advies sou ek gee vir iemand in my posisie?
Ek sal sê, vat wat jy wel weet en verstaan, en poog om resultate van jou bestaan te bewerkstellig wat meer positief is as negatief.
Ek reken dis goed genoeg vir ’n mens vasgevang in die skemer, of hoe?
WOENSDAG 19 APRIL 2006
Ek het gister hierdie gedagte gehad dat as mense met my praat en hulle versoeke of opinies nie redelik is nie, gaan ek bloot alles ignoreer wat hulle sê, ’n tipe van skrap-die-klanke-uit-my-korttermyn-geheue oordeel.
Vanoggend heroorweeg ek dit: Soms het mense net nodig om uitdrukking te gee aan emosie wanneer hulle ’n versoek maak, of ’n opinie uitspreek of ’n stelling maak. Soms is dit nodig dat jy net moet luister.
* * *
Enige behoefte wat die mens het – na kos, slaap, liefde, seks, kreatiewe vervulling of finansiële sukses – het te make daarmee om iets stil te maak. Hierdie “stilte” waarna die mens streef, is spanningloosheid, om ’n bestaanstoestand in te gaan wat in ekstreme vorm geassosieer word met óf voor-geboorte, óf dood.
DONDERDAG 20 APRIL 2006
Elke mens se “wêreld” kan vergelyk word met ’n sirkel – kompleet en, tot ʼn groot mate, geslote. Binne hierdie sirkel van mense, waardes, begrip, ensovoorts speel sy of haar daaglikse bestaan af.
Ek lees tans ’n boek wat afspeel in 1988 Suid-Afrika, met die hoofkarakter wat uitgebeeld word as ’n goeie ou van die Veiligheidspolisie. Die boek dien as voorbeeld van ’n volledige sirkel waarbinne dinge sin gemaak het en georden was op ’n spesifieke wyse. Dit dien ook as Dokument van ’n Spesifieke Kultuur-Historiese Konteks – op soortgelyke wyse as wat Dostoyevsky se Crime and Punishment ’n dokument is van die spesifieke kultuur-historiese konteks wat St. Petersburg was in die 1860’s.
______________________