DINSDAG 6 DESEMBER 2005
Ek het nodig dat my lewe ’n doel moet dien. Hierop sal sommige mense dalk ietwat skepties reageer. “Doel?” sal hulle vra. “Doel in die lewe is ’n primitiewe religieuse konsep. Dit veronderstel dinge wat nie bewys kan word nie. Dit impliseer ook dat jou lewe waardeloos is tensy dit ’n doel dien”
My reaksie: Gestel jy het twee mans, Meneer A en Meneer B. Laasgenoemde het geen begeerte om te voel dat sy lewe ’n doel dien nie. Sy fokus is meestal op homself, en op sy eie materiële en emosionele behoeftes. Hy werk – want hy het die geld nodig; hy trou – want dis beter as om alleen te wees; en hy maak vriende – want hy hou van die gevoel dat ander mense van hou, hy hou van die geselskap, en dit verlig sy verveling. Sy lewe bestaan dus uit familie, vriende, werk, en ander dinge wat hy geniet om te doen. Hy streef nie aktief daarna om enige iets te doen of om deel te wees van enige iets wat hom na sy eie lewe sal laat kyk met die oortuiging dat hy een of ander (goeie) doel dien nie (Die kans is dat hy sonder om te probeer ’n goeie doel dien, of al gedien het, maar ter wille van hierdie argument is dit belangriker om sy geval te illustreer as een waar geen doel aktief en doelbewus gedien word nie.)
Meneer A, aan die ander kant, is een van daai mense wat glo om bloot te bestaan – om te werk, ’n gesin van sy eie te hê, om vriend te wees en vriende te hê, en om dinge te doen wat hy geniet – nie genoeg is nie. Hy voel ’n sterk drang om ’n goeie doel te dien – iets wat sy lewe meer waarde en betekenis sal gee. Gestel hy kies as sy doel in die lewe om regsdienste te lewer aan mense wat nie oor die finansiële hulpbronne beskik om hierdie diens te kan bekostig wanneer hulle dit nodig het nie. Oor die verloop van dertig jaar verskaf hy regsadvies – direk, of indirek deur ’n organisasie wat hy begin het – aan honderde, selfs duisende mense. (Dit mag wees dat hy hierdie doelgerigte lewe nastreef as ’n volger van een of ander godsdiens, wat ook aan hom die satisfaksie sal verleen dat sy diens gesanksioneer word deur ’n spesifieke godsdiensgemeenskap. Dit mag ook wees dat hy ’n ateïs is, en dat hy gemotiveer word deur die selfrespek wat sy diens inspireer, en deur die respek en dankbaarheid wat ander mense hom gee. Sy keuse om ’n doelgerigte lewe na te streef sal ’n positiewe resultaat hê op mense ongeag of sy keuse gemotiveer word deur een of ander religieuse oortuiging.)
Kom ons sê beide Menere A en B is gebore in dieselfde jaar, in dieselfde stad, met soortgelyke kulturele agtergrond en sosio-ekonomiese status, en kom ons sê verder hulle albei sterf in dieselfde jaar na ’n kort siekbed. Meneer B se lewe was goed. Hy sal gemis word deur sy kollegas, sy vriende, en sy familie. Meneer A het ook ’n goeie lewe gehad, en hy sal ook gemis word deur kollegas, vriende en familie. Wat is die verskil? Meneer A se lewe het honderde, selfs duisende mense se lewens verbeter. Sy lewe het waarde gehad wat die lewenswaarde van die gemiddelde persoon wat nie aktief ’n doelgerigte lewe nastreef nie, ver oortref. Hy sterf met die vervulling dat sy lewe ’n doel gedien het. Hy het sy lewe geleef met die vervulling dat sy kollegas, vriende en familie nie die enigste mense was wat voordeel getrek het uit sy bestaan en die keuses wat hy gemaak het nie. Meneer B het geleef sonder hierdie vervulling, en hy het gesterf wetende dat benewens sy binnesirkel nie veel ander mense veel voordeel getrek het uit sy bestaan nie. Hopelik het dit nie veel aan hom saakgemaak nie, siende dat hy reeds vroeg in sy volwasse lewe dit duidelik gemaak het dat hy nie die begeerte voel om enige doel te dien nie, of dat sy lewe waarde en betekenis moet hê buiten wat hy, of sy binnesirkel daaruit kry nie.
Hierop reageer my debatsvennoot: “So dit gaan oor persoonlike vervulling? Of gaan dit oor nommers – die een ou se lewe raak honderde, selfs duisende ander mense, en die ander ou se lewe raak miskien twintig ander mense?”
My antwoord: Een ou se lewe het twee dosyn of so ander mense se lewens positief geaffekteer. Die ander ou het honderde, selfs duisende mense se lewens positief geaffekteer. Wat presies is jou vraag? [*]
Debatsvennoot: “Gestel ek vertel jou daar’s ’n nuwe pil op die mark wat geen newe-effekte het nie, wat uiters bekostigbaar is, en dit bevat ’n natuurlike bestanddeel wat jou brein voorsien van presies dieselfde gevoel as wat ’n mens sal kry van ’n doelgerigte lewe. Dit sal jou dus dieselfde skop gee, sonder enige moeite!”
Ek: En die mense wie se lewens ek dalk positief kon beïnvloed het, bly ongeaffekteer. Werklike resultate van die aksies wat ek beplan het, bly ongerealiseer. Ek sal sê, nee dankie. Ek sal eerder die moeite doen.
* [Die vraag is dalk, is dit beter om twee mense se lewe positief te affekteer as net een? Wat van om 2 243 mense se lewe positief te affekteer teenoor 2 242 mense? Wat van een persoon wat 50 000 mense se lewens positief affekteer en die ander persoon wat positief en konstruktief bydra tot slegs 76 mense se lewenskwaliteit?]
WOENSDAG 7 DESEMBER 2005
Vir baie mense is die idee dat daar geen intelligente, kreatiewe agent is agter alles wat bestaan nie, die mees verregaande ding waaraan enige mens kan dink. Wat, of wie hierdie agent is – of wat of wie hierdie agente is, is iets waaroor mense al wonder, argumenteer, oorlog voer en sterf sedert mense begin dink het aan dinge. Ons het hierdie veronderstelde agent – of agente – name gegee. Ons het hom/haar/hulle menslike eienskappe gegee. Ons het selfs gedink aan die geslag en voorkoms van hierdie veronderstelde agent – of agente. Vele mense is tevrede met ’n eenvoudige term: “God.”
Ons kan voortgaan om te dink, te redeneer, te baklei en te sterf vir spesifieke oortuigings oor hierdie agent – of hierdie agente. Dit is blykbaar in ons natuur om so te doen. En as dit vir mense ’n gevoel gee van doel en sekerheid en betekenis in hul lewens, dan maak dit seker sin tot ’n mate dat ons voortgaan om dit te doen. Een ding bly egter staan: vir baie mense is daar niks wat enige iets kan wegneem van die feit dat ’n intelligente, kreatiewe mag die enigste redelike verduideliking is vir ons eie bestaan, en vir die bestaan van alle ander vorme van lewe nie.
Waarom hierdie veronderstelde intelligente, kreatiewe mag ons bestaan veroorsaak het, of ons bestaan ’n doel dien, en selfs die moontlike aard van hierdie veronderstelde agent, of van hierdie agente, hierdie is vrae wat so boeiend sal bly soos hulle nog altyd was.
______________________