MAANDAG 29 AUGUSTUS 2005
10:40
Wat doen jy as die spektrum van self-modelle wat aan jou voorsien word, onvoldoende is – as jy nie ’n gepaste maat kan vind vir jou proprium* nie?
[Proprium: “The centerpiece of personality serving to help give the individual a sense of self.” The Psychology of Personality: Viewpoints, Research, and Applications, by Bernardo J. Carducci]
17:29
Vrugte van my arbeid. Vrugte van my bestaan.
21:01
Van vanmiddag af is daar een ding waaroor ek goed voel, en een ding wat pla. Ek voel goed oor ’n gedig, “Dag vol beskawing”, wat ek oorgeskryf, of radikaal hersien het. Die ding wat pla: So what? Dis nie asof enige iemand dit nou te lese gaan kry nie! Een digbundel? Twee digbundels? Hoeveel mense gaan dit in werklikheid ooit lees?
’n Volgende gedagte spring toe reeds op en af om aandag te kry (“Pick me! Pick me!” sou die gedagte uitroep as dit ’n kind was): geld, en meer spesifiek die najaag van finansiële welstand. Ek wonder toe wat ek vandag, Maandag 29 Augustus 2005, vir iemand sou sê as hy ’n kaart op die tafel sou gooi wat sê: een uur wat gespandeer is om geld te maak is beter as tien ure gespandeer op kreatiewe projekte ter wille daarvan om kreatief te wees, met finansiële gewin ’n sekondêre motivering en skraal moontlikheid. Ook: enige persoonlike projek, enige studie projek, enige vaardighede wat aangeleer word het slegs waarde as dit meer geld in jou sak gaan beteken. Ook: jy leef in Cloud Cuckoo Land as jy nie hierdie feite van die lewe erken nie, en as jy kosbare tyd – wat jy kon spandeer het om geld te verdien – spandeer deur gedigte te skryf … I mean, come on! Gedigte?! Is jy ernstig?! En die troefkaart: geld is ’n onmiddellike vrug van jou arbeid, ’n onmiddellike resultaat van tyd gespandeer wat benut kan word om kos te koop, en vrugtesap en koffie en tee en klere, en om huur te betaal, en te reis, en om ander dinge te koop wat jou lewenskwaliteit sal verhoog.
“Jy moet dit tog sien, dan nie?” sal die persoon vra. “Amper onmiddellike vrugte van jou arbeid! Maar jy spandeer jou tyd op, wat? Skryfprojekte met wins as ’n vae moontlikheid in die verre toekoms? Engelse handboeke, oukei. Maar gedigte?”
Wat sou ek sê op hierdie kritiek teen ’n lewe wat ek gekies het vir myself, teen oortuigings wat ek as allerbelangrik ag?
DINSDAG 30 AUGUSTUS 2005
15:52
As ek klasgee, weet ek wat die vrugte van my arbeid is – dit word uitgedruk in presiese geldeenhede, en ek het ’n goeie idee wat die konkrete, tasbare waarde is van daai geld.
Die tasbare, ruikbare, eetbare, sigbare vrugte van konvensionele arbeid, in my geval Engelse klasse, moet in ag geneem word as ek praat van “geld”.
20:20
Ek sukkel tans met die vrugte van my arbeid. Ek het byvoorbeeld ses weke lank gewerk aan hersiening van SLOTHOOFSTUK. Is die vrugte van hierdie arbeid sigbaar? Op my rekenaarskerm, ja. Is dit tasbaar? Nee. Kan ek dit deel met iemand? Nie op die oomblik nie. Kan ek dit wys vir iemand? Soort van – op my rekenaarskerm.
Aan die ander kant gee ek ’n uur lank klas. Ek weet wat die vrugte van daai arbeid sal wees: NT$700. Ek weet wanneer ek die vrug sal pluk: volgende Woensdag. Sal ek die vrug van daai arbeid kan sien? Ja, onder andere in ’n bioskoop. Sal ek die vrug van daai arbeid kan eet? Ja, ontbytpap en jogurt, en middagete en aandete. Is die vrugte van my klasgeëry tasbaar en konkreet, vir my? Ja. Is die vrugte van my kreatiewe werk konkreet, en tasbaar? Sal wees na nog ’n paar weke of maande se arbeid …
Ek kan argumenteer dat ek op die oomblik meer klasse wil doen omdat ek meer geld nodig het. Maar ek weet ook ek word deels gemotiveer deur die begeerte om vinniger die vrugte van my arbeid te sien, en te proe, aan my vel te voel, en te ervaar.
20:52
Sê ek dat arbeid noodwendig kontant of ander krediet moet voorsien wat jy kan ruil vir dinge wat gevoel, geproe, gedrink, gesien en moontlik geruik en gehoor kan word?
Nee. Drie voorbeelde: om kinders groot te maak; om aktief liefdadigheidswerk te doen; en om taalvaardigheid aan te leer.
Meeste – by verre die meeste! – van my arbeid die afgelope vyf jaar is geploeg in literêre projekte. Dit sal sekerlik onregverdig wees om te beweer dat geen projekte nog ooit afgehandel is nie (onafgehandelde projekte is nie dieselfde as projekte wat hersien word tot in der ewigheid nie). Ek vra wel: Waar is die vrugte? Wys my die vrugte van vyf jaar se arbeid!
Ek is bietjie hard op myself … ek weet die vrugte sal soet wees … maar ek het nodig om my frustrasie te verwoord.
Ek noem gisteraand vir [N.] die gedagte dat geld – harde kontant – ’n vrug is van jou arbeid wat jy amper onmiddellik kan geniet, en dat ek meeste van my arbeid verrig op werk wat miskien eers oor x-hoeveelheid maande (of jare!) vrugte sal dra. Sy antwoord toe dat my vrugte uiteindelik goed sal wees, al vat dit ’n bietjie lank om te realiseer. En toe die werklike vertroosting: “As jy nie geskryf het nie, sou ek gedink het jy’s net ’n gewone ou … en sou probably nie eers met jou uitgegaan het nie. Jou skryfwerk,” sê sy toe, “maak jou spesiaal.”
______________________