DONDERDAG 31 MAART 2005
’n Fundamentele verskuiwing het plaasgevind in my denke. Vier jaar gelede het ek gepoog om die doel van my eie bestaan te formuleer as “kreatiwiteit”. Ek het geglo dat om kreatief te wees, om te skep, die uiteindelike doel was nie net van my eie bestaan nie, maar van enige mens se bestaan, sou hy of sy ver genoeg ontwikkel van ’n bestaanstoestand van primêre behoeftevervulling.
Die mens se bestaan word gevoer binne ’n spesifieke omgewing met unieke (of semi-unieke) sosiale, kulturele, ekonomiese, politieke en historiese elemente, en met behulp van, en soms gekortwiek deur, ’n unieke mengsel van genetiese eienskappe wat aan elke mens GEGEE word deur die spreekwoordelike noodlot. Soos dinge is, vind sommige mense dit moeilik om ’n lewe met ’n bepaalde betekenis te bewerkstellig binne hierdie omgewing wat aan hulle gegee is. Belangrike KEUSES moet dan gemaak word. Hierdie individue sal moontlik verstellings moet aanbring aan hulle identiteit wat elemente van ander oorde sal benut as wat oorspronklik aan hulle gegee is. Hulle sal heel moontlik – in ag genome die kardinale impak van omgewing op wie en wat ons is en hoe ons ons bestaan aanwend – van omgewing moet verander. Uiteindelik sal die uitvoering van die rolle wat hulle mettertyd vir hulleself definieer neerkom nie net op ’n bestaan met ’n bepaalde betekenis nie, maar op die nastrewing van ’n spesifieke doel van hulle bestaan.
Sou enige iemand my nou tromp-op loop met die vraag van hoe kreatiwiteit inpas in hierdie hele aangeleentheid, sal ek moet bieg dat ek nie ’n antwoord gereed het om te resiteer nie. Om kreatief te wees, om jou aardse bestaan te voer as ’n Skepper, is nie meer vir my goed genoeg as antwoord op die vraag na die doel van my eie bestaan nie.
Die vraag na die Ware Doel van die Mens se Bestaan sny soos ’n ritualistiese lem deur die sagte vlees van dit wat ons noem, “lewe”. Waar kom die mens vandaan? Is daar ’n rede vir ons teenwoordigheid op hierdie planeet? Watse tipe vrae het ons vroegste voorouers gevra? Is hierdie ding van vrae vra ’n byproduk van ons ontwikkeling, of deel van dit wat ons vorentoe dryf? Was dit altyd op die spreekwoordelike kaarte van wat die mens sou word? Is daar ’n onsigbare mag agter die mens se bestaan? Was, en is die veronderstelling van hierdie “mag” dat ons een of ander doel moet dien? Indien wel, hoekom word dit nie duidelik aan ons uitgelê nie? Was dit al aan ons uitgelê, meer as een maal, met vele van ons wat dit eenvoudig bly ignoreer, soos vele van ons voorouers ook gedoen het? Hoekom, as ons vir die oomblik aanvaar dat om ’n doel te dien inderdaad belangrik is, word die doel van ons bestaan dan nie weer en weer en weer aan ons uitgespel as ’n saak van daaglikse kosmiese ritueel nie?
Die mens is tot ’n mate wat nooit oordryf kan word nie, ’n produk van sy of haar omgewing. Die stel klanke waarmee jy kommunikeer en die woordeskat waarin jou gedagtes vorm aanneem, die oortuigings wat jy aanhang, die ambisies wat jy as jou eie definieer, waar jy woon, waar jy werk, hoeveel inkomste jy bewerkstellig elke dag, maand of jaar, waar jy slaap, op watse meublement, onder watse beddegoed, saam met wie, wat jy doen tussen die oomblik van wakker word en die oomblik wat jy tot rus kom, hoe gereeld jy jou tuiste verlaat, vir hoe lank, waarheen jy jouself vervoer en met watse vervoermedium, en hoe al hierdie dinge op jou bewussyn inwerk, kan alles direk, of indirek, teruggevoer word na die omgewing wat aan jou “gegee” is met geboorte. (Selfs as die omgewing waar jou volwasse bestaan gevoer word radikaal anders is as die omgewing wat aan jou gegee is, is jou gekose omgewing steeds onlosmaaklik verbind aan jou gegewe omgewing omdat jou uiteindelike keuse heel waarskynlik beïnvloed was deur jou gegewe omgewing en moontlik tot ’n mate ’n reaksie was daarop.)
Dit is dan ook so dat die omgewing waar jy ontstaan het en waar jy jou vroegste “programmering” ontvang het, die primêre bron is van informasie aangaande die doel en betekenis van die mens se bestaan. Nou, 500 of 1 500 jaar gelede was dit ook so, maar die wêreld waarvan vele van ons bewus is in die 21ste eeu strek natuurlik aansienlik verder as net die grense van die dorp, stad of gehuggie waarbinne ons bestaan gevoer word. Massamedia en die Internet stel ons bloot aan alternatiewe idees oor die moontlike doel en betekenis van ons lewens wat twee of drie geslagte gelede nie op die rustigste van oggende kon besin nie.
Die bronne wat ons kan raadpleeg, sou ons ’n minuut êrens wou afknyp om daaroor te kontempleer, is veel ryker as ’n geslag of tien gelede. Ten spyte hiervan kies vele steeds om antwoorde te soek by plaaslike leermeesters, hetsy dit ouers, grootouers, vriende, pastore, priesters, rabbi’s, imams, selfhelp-ghoeroes of populêre vermaaklikheidsterre is. Antwoorde word sekerlik gevind by hierdie mense. My vraag bly: watse antwoorde? Watse moontlikhede word uitgelê deur die gewone selfaangestelde, of gemeenskapberoepte Gewers van Waarheid en Leiding?
Miskien ’n vraag nader aan die hart van die een wat wegkruip agter ’n rekenaarskerm met woorde wat hy tik terwyl niemand hom steur in die privaatheid van sy eie woonstel nie: WATSE ANTWOORDE SOU EK GEE AS IEMAND MY MOES NADER OOR DIE WARE DOEL EN BETEKENIS VAN DIE MENS SE AARDSE BESTAAN?
[Een-honderd-twee-en-sewentig woorde netjies geweef in vier paragrawe het gevolg, om op te maak vir die feit dat ek nie aan enige duidelike antwoorde kon dink nie. Een-honderd-twee-en-sewentig woorde het derhalwe die spit gedelf.]
______________________