Verskyning – ken jouself – gebuigde wêreld

WOENSDAG 21 JULIE 2004

Verskyning is die probleem

Insigte en frustrasies van die afgelope week of so, aangehelp deur die feit dat ek skryfmateriaal van so vier jaar gelede hersien op die oomblik, het ’n patroon gevorm van onvergenoegdheid met hoe ek verskyn aan die wêreld op die oomblik – dieselfde probleem as vier jaar gelede, maar grootliks afwesig toe ek in Taiwan gearriveer het en nie nodig gehad het om betekenisvolle sosiale verskynings te maak nie.[1] Hierdie verskyningsprobleem hou direk verband met behoeftes (veral aan intieme kontak) wat nie tans bevredig word nie.

Voorheen – soos vier jaar gelede – sou ek dit nie behoorlik verstaan het nie. Ek sou net geweet het “Ek is nie gelukkig nie” of “Ek is gefrustreerd,” en ek sou gewens het ek het meer geld gehad om beter klere en miskien ’n beter ryding te kon koop, en ek sou lyste gemaak het vol items wat sou dui op ’n meer ideale self.

Nou weet ek die probleem is nie noodwendig wie en wat ek is, of die betrokke omgewing nie, maar spesifiek hoe ek verskyn aan die wêreld – hoewel dit nie geïsoleer kan word van ander dinge nie. Ek is dus relatief gelukkig met myself, op my eie, in my eie privaat herberg in Benewelde Lig, maar wat my pla is hoe ek verskyn. VERSKYNING is die probleem.

Dat ek die probleem nou beter kan identifiseer en duideliker kan verwoord is ’n aanduiding van die ontwikkeling van my begrip van dinge gedurende die afgelope vier jaar.

———-

[1] Vir die leser wat nie die depressiewe prosa van die tweede helfte van 2000 te siene gekry het nie, of wat dit oorgeslaan of geïgnoreer het, kortliks: ek moes in 2000 skielik weer sosiale verskynings maak, wat in 1999 grootliks onnodig was omdat daar feitlik geen ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung was nie.

Net toe jy reken jy ken jouself

Vra vir iemand, “Wie is jy?” Verskerp die druk miskien effens deur by te voeg, “Ek vermoed jy weet nie regtig wie jy is nie.”

Die reaksie van menige persoon op so ’n ongeskikte stelling illustreer die uitdaging waarvoor elkeen van ons staan: Kan jy verwoord wie jy dink jy is? Kan jy uitdrukking gee daaraan?

WOENSDAG 28 JULIE 2004

Die gebuigde wêreld

Gedagte by Gebuigde Dorp stasie: Ek het nie ’n probleem met die “mooi wêreld” nie; ek het ’n probleem met die prys waarteen mense lidmaatskap aan hierdie wêreld aanskaf.

In die verbruikersamelewing offer vele mense daagliks kreatiwiteit en ure op – verloën hul ware natuur, as’t ware – ten einde krediet te bewerkstellig waarmee hulle lidmaatskap aan die sogenaamde mooi wêreld kan koop.

Dit was my posisie ’n paar jaar gelede; dit is my posisie nou.

Skoonheid sonder substansie is, in die finale telling, net ’n mooi dop.

______________________

Voorwoord vir die totale projek

PERSOONLIKE AGENDA bestaan uit drie boeke:

Boek een, ’n versameling notas, korrespondensie en ander stukke, strek vanaf Januarie 1999 tot en met Mei 2003.

Boek twee is geskryf tussen Mei en Desember 2003. In kontras met die eerste boek, is die materiaal in hierdie deel geskryf met die akute bewustheid dat ek besig was om te werk aan ’n projek.

– Die laaste stopteken sou nie ingepons kon word sonder dat ek tevrede was dat ek, vir eers, genoeg gesê het nie. Boek drie is geskryf in Januarie en Februarie 2004.

My aanvanklike werkstitel vir die projek was eenvoudig: “Brand se Boek”. Teen die tyd wat ek die eerste uitdruk gemaak het van wat nou BOEK EEN is, het die titel verander na, “Oor aartappelslaai en ander belangrike sake” (ek het selfs ’n opstel geskryf oor my gunsteling kantgereg).

Nadat ek die tweede naskrif tot die eerste boek afgehandel het, het die idee van die “persoonlike agenda” homself aan my voorgedoen. Ek het gehou van die eerlike aard daarvan. Die frase word gereeld gebruik in skinderpraatjies, om ander te waarsku dat die betrokke individu ’n “agenda” het, en dat hierdie soms geheimsinnige sake sy of haar eerste prioriteit is. Dit was vir my belangrik om nie te wag tot iemand anders ’n lig daarop werp nie, my eie agenda as’t ware vir my verduidelik nie. Ek wou dit van die voorblad af bekend maak: Hierdie materiaal beskryf tot ’n groot mate ’n persoonlike agenda.

Soos hierdie tipe dinge natuurlik gereeld uitwerk, het die proses om die besonderhede van hierdie agenda te ontdek en dit te verwoord, temas aangeraak wat veel verder strek as net my eie soms onbeduidende bestaan.

(28 Julie 2004)

______________________

Brand Smit wou nooit ’n blogger wees nie

Sondag 28 Augustus 2011

Ek was al negatief oor die idee van “blogging” vandat ek die eerste keer gelees het daarvan in ’n koerant in 2004.

“Mense skryf oor hulle lewens en publiseer dit op die internet vir almal om te lees?” het ek gedink, terwyl ek vertroostend oor my notaboek gestreel het. “Wat skryf hulle nogal wat ander mense interessant sal vind?”

Siende dat ek neuroties daaroor was om deel te wees van enige groep, of gesien te word as dat ek dalk net miskien een of ander populêre tendens volg, het ek gereken: “Ek – ’n blogger? Nooit.”

Vroeg 2006 ontdek ek toe hoe om ’n domeinnaam te registreer, en BRANDSMIT.NET maak sy verskyning. Ek het weer gedink aan die idee van ’n blog, maar die outomatiese datering van inhoud – die dag wat jy die inhoud publiseer op jou blog word outomaties aangedui as die dag wat die inhoud ontstaan het – was ’n groot probleem. Daar was geen kans dat ek gelukkig daarmee sou wees dat ’n essay wat ek geskryf het in November 1999, skielik sou verskyn as dat ek dit geskryf het in Maart 2006 nie.

Die moontlikheid dat die datum handmatig verstel kan word, het eers ’n paar jaar later tot my deurgedring. Die publikasie van al die materiaal van my Persoonlike Agenda-projek op hierdie platform is die resultaat.

______________________

Ontvlugting – denkers – stryd

MAANDAG 19 JULIE 2004

Graad van ontvlugting

Dis nie ’n kwessie van ontvlug of nie ontvlug nie – dis ’n kwessie van graad. Ek mag dalk reken ek is nie op die oomblik ’n “escapist” nie, maar as ek kyk na die dinge waarmee ek my dae vul … die roetine, die drie-pap-ontbyt, drinkgoed, sigarette, rekenaar, flieks, koffie dates. Nie een persoon wat ek ken, kan sê daar’s niks wat hulle kan doen, vandag, om iemand se lewe êrens in die lewe te red of drasties te verbeter nie. Ons almal hardloop weg van dinge. Ons almal kruip weg in ons eie wêreldjies. En ek maak nie ’n argument daarteen nie (nie nou nie, in elk geval) – ek noem dit maar net.

Hoekom dink denkers?

Alle denkers – filosowe, skrywers, digters of enige iemand anders wat sy of haar gedagtes vaspen – wat vorendag gekom het met idees wat óf aangesluit het by die idees van ander denkers, óf wat relatief oorspronklik was, het so gedoen omdat hulle nie tevrede was met dit wat aan hulle oorgelewer was nie.

DINSDAG 20 JULIE 2004

Dis ’n stryd, en jy moet jou kant kies

Ek kan nie anders nie as om te dink, na ek Michael Moore se Fahrenheit 9/11 gekyk het, dat jy jou kant moet kies. Daar’s ’n stryd tussen Goed en Kwaad, en jy moet jou kant kies. Die stryd lê veel dieper as wat die gewone mens glo, of vermoed, en dis op die temporale vlak – hierdie wêreld.

Kies jou kant, en maak dit duidelik. Soos dit werk met identiteit – as jy dit nie self definieer nie, word dit namens jou gedefinieer, so is dit ook met hierdie stryd. As jy nie self jou kant kies in duidelike terme nie, mag jy dalk net getel word onder die “silent majority” van die verkeerde kant.

* * *

[George W.] Bush en sy trawante het die mentaliteit en benadering tot politieke mag van Middeleeuse aristokrate. Die gewone man en vrou op straat – of voor die TV, of op kantoor, of in ’n fabriek, of op die oorlogsveld – is so afskryfbaar soos die pagters en lyfeienes van ouds.

______________________

Is “Brand Smit” ’n werkbare Homo sapiens model?

VRYDAG 16 JULIE 2004

Vraag vir bepeinsing: Ons is wat ons is (spesifieke “ek”) ten einde ons behoeftes te kan vervul. Indien ons behoeftes nie vervul word nie, kan dit gesê word dat wie en wat ons is, verkeerd is?

Hoekom is “ek” spesifiek tot omgewing? Indien die Homo sapiens in harmonie is met sy omgewing, as hy naastenby dieselfde lyk en klink as meeste ander Homo sapiens in die omgewing, en indien hy funksioneer binne die grense van aanvaarbare gedrag, sal hy ’n redelike kans geniet om sy behoeftes te kan bevrediging.

Wat beteken dit dan dat Homo sapiens “Brand Smit” migreer het vanaf Habitat Suid-Afrika na Habitat Taiwan? Dit beteken dat sy behoeftes nie bevredig was in eersgenoemde habitat nie; en selfs al het hy tot en met sy migrasie oorleef op ’n daaglikse basis, het hy die rooi lig van naderende vernietiging van sy persoonlike bestaan gesien flikker (ek praat geensins hier politiek nie – ek praat spesifiek van myself as individu).

Wat beteken dit dat Homo sapiens “Brand Smit” in Habitat Taiwan wil aanbly? Dit beteken hy ag hierdie spesifieke habitat as meer gunstig vir langtermyn behoefte bevrediging.

“Maar,” sal ’n mens sê, “van sy belangrikste behoeftes word nie tans bevredig nie, en as geluk hoofsaaklik ’n sintuiglike aangeleentheid is, is hy hoofsaaklik nie gelukkig nie.”

Wat staan ’n mens te doen?

“Brand Smit” het geword iemand wat kan oorleef in die spesifieke habitat waar hy homself tans bevind. Hy reken verder die identiteit wat hy vir homself geprakseer het, sal dit moontlik maak vir hom om ook sy behoeftes te kan bevredig in ander omgewings. Maar onrus broei … sy identiteit is net oënskynlik ’n werkende model!

Is my Homo sapiens model goed genoeg om my behoeftes te kan bevredig op hierdie spesifieke plek en in hierdie tyd? Indien nie, wat doen ’n mens? En wat beteken dit?

SATERDAG 17 JULIE 2004

Gister se punt was, as ’n moderne Homo sapiens se behoeftes nie bevredig word nie, dan is sy identiteit – hoe hy homself verbind met die wêreld om hom, wat as primêre funksie het om die persoon in staat te stel om sy behoeftes te bevredig – nie voldoende nie, of verkeerd.

[Nog ’n moontlikheid is dat daar doodgewoon nie genoeg kos en water vir almal in die omgewing is om hulle dors te les en te eet tot hulle versadig is nie.]

* * *

Die primêre doel van identiteit is om die Homo sapiens in staat te stel om sy behoeftes te bevredig in die spesifieke tyd en plek waar hy óf gebore was, óf waar hy homself bevind op ’n latere stadium van sy lewe.

’n Vraag kan dan gevra word: Werk my identiteit, of werk dit nie? Is wie en wat ek is (gegewe, of self-gedefinieerd na kritiese proses) ’n werkbare Homo sapiens model wat my in staat stel om my behoeftes te bevredig? Indien nie, wat is die probleem? Is wie en wat ek is die probleem – met ander woorde, ly ek aan een of ander ongesteldheid of afwyking wat my verhinder om my behoeftes te bevredig? Of is wie en wat ek is spesifiek in hierdie omgewing die probleem? Indien laasgenoemde, het ek twee opsies: ek moet my identiteit aanpas volgens die norms en waardes van die omgewing waarin ek myself bevind ten einde my kanse op oorlewing te versterk, of ek moet migreer na ’n ander omgewing waar wie en wat ek is ten minste nie my kanse op oorlewing te veel sal ondermyn nie.

______________________

Die voller betekenis van die “gegewe self/gekose self” idee

WOENSDAG 14 JULIE 2004

Ek gaan myself begin irriteer as ek aanhou om dit te sê, maar ek dink nie ek is bewus van die volle betekenis en implikasie van die gegewe self/gekose self idee nie.

Feit is dat mense soms dekades opbrand in ’n poging om uit te sorteer wat hulle veronderstel is om te doen. Hulle spandeer jare opsoek na “regte” antwoorde, hulle “werklike” self, hulle “regte” plek, waar hulle “regtig” behoort … sonder om te besef hulle het basies twee keuses: aanvaar hoofsaaklik jou gegewe self en funksioneer as sulks, binne die partikulêre raamwerk van gegewe tyd en plek, of kies wie en wat jy wil wees, en wáár.

Soos ek voorheen ook vermeld het, sal laasgenoemde keuses altyd ingeperk word deur gegewe self, noodlotsdata en behoeftes van die gemeenskap, en tot veral gegewe tyd. Tog, OPSIES BESTAAN.

Sommige mense sal moontlik altyd slagoffers bly van gegewe tyd en plek, maar vra jouself ’n belangrike vraag: Is ek ’n verslane slagoffer van gegewe tyd en plek, of is daar ruimte vir my om keuses te maak?

______________________