[Die volgende gedeelte is oorspronklik genoteer in my notaboek op die naweek van Vrydag 27 Junie tot Sondag 29 Junie 2003, in my gunsteling plek in dié geweste, Hong Kong.
Daar was ’n probleem met die bespreking van my vlug tussen Hong Kong en Johannesburg. Ek het die Vrydagoggend elfuur al in Hong Kong gearriveer, maar omdat ek onmiddellik ’n ou vriend op die lughawe moes ontmoet, het ek nie my vlug Johannesburg toe (later die aand) gaan bevestig nie.
Nadat ons brunch in die stad gehad het, moes my vriend homself haas terug na die lughawe. Ek het die res van die dag rondgeloop, en myself behoorlik geniet. So teen nege-uur die aand terug by die lughawe, het ’n dame by die aanmeldtoonbank te vertelle gehad dat hulle “overbooked” was. Sy’t verduidelik dat ek moes wag vir die volgende vlug – wat eers Sondagaand sou vertrek.
Ek was eers uit die veld geslaan. Ek het net twee ure geslaap die vorige nag, en ek was uitgeput van al die rondloop die middag en vroeër die aand. Die dame stel my toe gerus dat hulle ’n kamer in ’n goeie hotel vir my beskikbaar sal stel, en ’n limousine sal my direk soontoe neem. En vir as ek miskien gedink het daaraan om kwaai briewe te sit en skryf vir die lugdiens, het hulle ook HK$2500 byderhand waarmee ek myself kon amuseer (’n bedrag geld rofweg gelykstaande aan soveel Suid-Afrikaanse rand).
Ek sê toe, ek is baie kwaad want dis my verjaarsdag Sondag, en wat nou? Maar die pret wat ek gehad het op een dag in Hong Kong weeg toe swaar op my gemoed, en wie’s ek om ongeskik te raak as ’n groot maatskappy my wil betaal om nog twee dae in een van my gunsteling stede te spandeer? Ek sê toe nee maar goed, kry my tasse en wys my waar ek daai limousine moet kry.
Ek het die volgende nota begin skryf kort na my aanmelding by die toonbank vir wat ek gereken het regtig ’n lang slap kar gaan wees om my persoonlik na die hotel te karwei.]
SONDAG 29 JUNIE 2003
Ek bevind my in een van daai belaglike situasies waar ek, die Armblanke Digter, behandel moet word asof ek ryk en belangrik is. Al die partye, ek ingesluit, is effens verward.
“But everyone can see there’s a tear in his shirt,” verbeel ek myself die jong dame fluister aan haar kollega.
“I know. Shush …” adviseer die ouer man haar waarskynlik.
Telefoniese bevestigings word gemaak in gedempte gesprekke. Sweet word van ’n voorkop afgevee. Uiteindelik besef almal die onaangenaamheid moet eenvoudig verduur word.
“Please come with me … sir,” beveel die man met die geswete voorkop huiwerig.
Die Armblanke Digter huiwer self vir ’n oomblik, mik eers in die verkeerde rigting in, en word dan teruggeroep na ’n ry gemaklike rooi stoele. ’n Oranje plakker word in sy hand gestop. Korrek interpreteer hy die plakker as ’n kenteken van sy nuwe status as iemand wat soos ander mense behandel moet word wat in weelderige hotelle tyd spandeer. Hy plak dit teen sy ligblou “Tokyo III” hemp. Dit bly afval. Die ander beplakkerde individue sit etlike stoele van die digter af. Hy spekuleer dat dit mag wees oor die klein skeurtjie in sy hemp, maar neem nie onmiddellik die moontlikheid in ag dat, na ’n dag se rondlopery in warm, vogtige Hong Kong, hy nie meer ruik na die eau de cologne wat hy die oggend ewe verwaand onder sy arms gespuit het nie.
Na vyftien minute kom die man wat aan hulle die plakkers gegee het, weer nader gestap. “This way please,” wink hy vriendelik aan die groep wagtendes. Die Armblanke Digter stap dié keer voor. Dan onthou hy van die spuitgoed in sy boeksak, en is skielik vies dat hy gesit en notas maak het eerder as om homself op te fris.
Oor die volgende twee dae kom die digter een belangrike ding agter: ’n Mens leer. Feit is, die hele deftige hotel storie, soos die deftige restaurant en sekerlik al die onderdele van ’n weelderige lewe, is ’n spel. Mens kan die reëls en truuks van ’n komplekse video game vir jouself uitwerk, en dit tot ’n mate bemeester na ’n paar oefenlopies. Soveel te meer met weelderigheid.
Dit gaan oor selfvertroue. Hoe meer jy blootgestel word aan situasies waar jy, soos in ’n video game, sekere “bewegings” moet maak, hoe meer leer jy om dit reg te doen. En hoe meer jy leer, hoe minder foute maak jy. En hoe minder foute jy maak, hoe meer word jou selfvertroue – en hoe minder is jy bewus daarvan dat jy eintlik ’n vreemdeling is in ’n omgewing waar jy nie regtig hoort nie.
——————–
[Die digter bereik na twee dae en drie nagte die dorp waarvan hy al droom vir maande lank – Bronkhorstspruit, vyftig kilometer noord van Pretoria. Vergete was die maande van adolessente vernederings en groeipyne (het ek al genoem hy was hier op laerskool?). Die skooltjie waar hy op sy dag prefek was, lyk anders, kleiner. Die Vetkoek Hoekie is nog steeds op die hoek, maar met ’n ander naam. Die dorp lyk oor die algemeen kakkerig, maar daar was tog ’n lekkerte daaraan om terug te wees. En dit was winter, die man se gunsteling seisoen. Dooie geel gras, ’n kilheid in die laatmiddagluggie, en die reuk van steenkool het die sintuie oorweldig met ’n skamerige vragie: “Welkom tuis?”]
______________________