Icarus joernaal, inskrywings # 4 & 5

# 4

[Ek het vir die langnaweek Hong Kong toe gegaan om saam met my ouer suster te kuier (wat vriende in die stad besoek het). Die kuiertjie was nie te veel versuur deur ʼn argument wat ons gehad het oor wat ek doen met my lewe nie.]

DINSDAG 6 APRIL 1999

M. se argument was dat ek probeer om anders te wees. Dat ek net een lewe het, en dat ek my kanse beter moet gebruik. Dat ek net een keer jonk is, en dat ek nie my lewe moet sien in die lig van die geskiedenis nie. Dat ek nie Napoleon is nie.

Sy sê ook dat ek myself te veel isoleer. Ek het nie vriende nie, en ek maak myself los van die wêreld waarvan ek juis nóú deel moet wees. Hoekom moet ek deel wees van hierdie wêreld? Omdat ek jonk is, en omdat ek net een keer ʼn kans het om jonk te wees. Sy reken ook dat ek beter keuses kon gemaak het in my lewe, en dat ek nooit net een opsie gehad het nie.

Ek dink haar grootste oorweging vir hierdie argumente was dat sy glo ek ongelukkig is. Sy’t al hierdie dinge uitgedink omdat sy probeer het om vir my te sê, “Dit hoef nie so te wees nie,” en “Jy kán gelukkig wees.”

# 5

DINSDAG 13 APRIL 1999

Die afgelope tien jaar, hierdie hele dekade van my lewe, is oorheers deur die stryd om een of albei van twee probleme te oorkom, naamlik eensaamheid en gebrek aan geld. Daar was bitter weinig tyd in die afgelope dekade wanneer my bestaan nie fundamenteel oorheers is, en steeds oorheers word, deur een of albei van hierdie kwessies nie.

My belangrikste oorweging om in 1991 Stellenbosch toe te gaan, was om die probleem van eensaamheid te oorkom. Om Pretoria toe te gaan in ’96, gebrek aan geld. Om Korea toe te gaan, gebrek aan geld. Die besluit om in Korea te bly in ’97 was grootliks om te verhoed dat ek weer sonder ’n inkomste sou wees. Net ʼn jaar later het eensaamheid my egter gedring om terug te gaan Suid-Afrika toe. Die besluit, na ses weke terug in Suid-Afrika, om Johannesburg toe te gaan, is gemotiveer deur die beginsels van “Belonging and Commitment” – beginsels wat ek geformuleer het om eensaamheid te oorkom. En die besluit om Taiwan toe te kom? Weereens gebrek aan geld.

Ek het nog nooit werklik die eenvoudige patroon gesien nie.

As jy my voorheen gevra het wat my beskouing van ʼn ideale lewe is, sou ek gesê het om te bemin, en om bemin te word; om finansiële sekuriteit te hê; om die mag te hê om keuses te kan maak en keuses te kan uitoefen. Hierdie insig laat my met ’n duidelike opdrag: Los die probleme van gebrek aan geld en eensaamheid op, en jy sal ’n ander uitkyk op die lewe hê. Dit sal van jou ’n beter mens maak, ’n mens wat die lewe meer sal waardeer, wat aan die lewe sal wil bly, en wat dimensies van jouself en van die lewe en van ander mense sal ontdek wat jy nooit voorheen geken het nie.

______________________