Oukei, die latrine tref die air conditioner

Dinsdag 14 Januarie 1997

Oukei, dis hoe dit is. Dis die veertiende, en my payday vir Desember was op die derde. Hulle skuld my nog steeds meer as die helfte van my salaris vir Desember. Uit al die brokkies informasie wat ek tussen die lyne lees, is my salaris nie ’n prioriteit nie.

Vanoggend vra ek [die eienares van die skool se seun] of ek op die derde Februarie my salaris sal kry vir Januarie. Sy antwoord was, en ek haal aan: “Sure, maybe …”

“Sure, maybe”? Wat de fok beteken dit?! Sure, maybe doen ek op die oomblik ’n job wat so vervelig is dat ek iets kan oorkom, en toe ek vra oor die betaling vir die werk wat ek doen, word daar vir my gesê ek sal maybe op datum betaal word daarvoor!

Ek sê jou wat ek sal maak met hierdie inligting: Ek sal enkele dae na ek my geld gekry het vir Februarie, terugvlieg Johannesburg toe. Dit is wat ek sal doen met hierdie informasie!

Woensdag 15 Januarie 1997

Feit is, selfs al word ek láát betaal vir ’n spesifieke maand, het ek nog steeds daai geld nodig. Al grief dit my grensloos dat my salaris oënskynlik nie ’n prioriteit is nie, sal dit binne die afsienbare toekoms net deel wees van nog ’n hoofstuk in my lewe, en ek sal op ’n vlug êrens heen sit met ’n gin-and-tonic in my hand – moontlik gemaak met geld wat ek hier verdien het. Al kry ek dit eers twee weke na ek veronderstel was om dit te kry.

______________________

Ek wil so graag … nie hier wees nie

Sondag 12 Januarie 1997

Oukei, ek begin die vermoede kry … hey, jy kan nie nou al hierdie inskrywing lees nie – ek is nog besig om dit te skryf! Jeez, give me a break!

Nota: ’n Tydreiservaring – wat ek nou skryf, en nog gaan skryf in die volgende paar minute, is bestem om deel te word van die verlede. Maar daar’s ’n tyd vir alles, so ek moet eers deur die formaliteit gaan om die inskrywing te maak, al weet ek hierdie inskrywing, soos al die ander, gaan weer besoek word deur myself in die toekoms.

Soos ek besig was om te sê voor ek deur myself besoek is, ek vermoed dat ek ietwat verveeld is met Korea. Wat eintlik ’n mooi manier is om te sê dat ek so gatvol is vir die plek dat ek iets kan oorkom.

Eintlik is dit nie wat ek wou sê nie. Ek het net gevoel dis tyd vir ’n inskrywing, en toe kry ek die tydreis idee vir ’n inleiding.

* * *

Dis die twaalfde dag van die eerste maand van nog ’n jaar.

Die naweek was te lank. Ek wil werk. Ek wil by daai Moeder van Verveling in my klaskamer sit en sien hoe die tyd S-T-A-D-I-G maar seker verbygaan.

Ek is verveeld, en ’n bietjie moedeloos oor die feit dat dit nog soveel maande is voordat ek kan huis toe gaan. (Van betroubare bronne wat self al Korea verlaat het, het ek verneem dat daar waarheid agter die mite sit – daar is inderdaad ’n wêreld aan die ander kant van Kimpo Lughawe!)

Ek meen, dit is immers al amper die middel van Januarie, maar ek wil net so fokken graag ’n ander taal as Koreaans in die openbaar hoor! Ek wil so graag Europese flieks kyk met Engelse onderskrifte. Ek wil so graag weer braaivleis en pap, en aartappelslaai eet. Ek wil so graag ’n Black Label geniet saam met vriende, saam met my ouers TV kyk, en rugby kyk op ’n Saterdagmiddag.

Ek wil so graag weer die opwinding ervaar om op ’n vliegtuig te klim en êrens heen te vlieg. Ek wil so graag in ’n kroeg sit in Stellenbosch, terwyl ek Afrikaans praat, en Afrikaans en Xhosa en Zulu en … Engels om my hoor. Ek wil so graag weer opgewonde raak as ek ’n tweedehandse boekwinkel of ’n straatverkoping sien.

Ek wil so graag nie meer na gestaar word as ek by die straat afstap nie. Ek wil so graag nie meer Engels probeer teach vir Koreaanse twaalfjariges wat my ’n “pabo” noem in die klas, en nie besef ek wéét hulle noem my ’n idioot nie.

______________________