11 Februarie 2004

Dis ’n mooi dag.

Ek steek my kop by die kombuisvenster uit, kyk af in die stegie, oor die dakke van ou huise in die blok langsaan. Die stegie, net breed genoeg vir twee bromponies om verby mekaar te kom, is gevul met die oranje skynsel van die laatagtermiddagson.

Die woonstelgeboue is grou, maar die hier-en-daar afgeskilferde verf van die diefwering gee ’n optimistiese kleur aan die buurt. Die potplante in die vensterbanke getuig van geloof in ’n goeie lewe, al het dinge nie altyd uitgewerk soos die inwoners jare gelede gehoop het nie.

Dis nie koud nie, maar iets in die lug voorspel dat dit ’n koel aand gaan wees. ’n Briesie begin optel. ’n Ou oorlogsveteraan verskyn om sy wasgoed van die balkon af te haal.

’n Volmaakte dag is dit nie – watter dag is? – maar dis ’n mooi dag. Dis Woensdag 11 Februarie 2004, ’n wintersdag in Taiwan.

________________