Chonju City, Suid-Korea – Sondag 7 Julie 1996

Presies ’n maand na my laaste inskrywing, en hoe het dinge nie verander nie! Op Vrydag 28 Junie het ons my verjaarsdag gevier in Pretoria, en op Sondag 30 Junie het ek gearriveer in Seoel.

Ek was ’n bietjie gespanne oor my bagasie. Pamflette is uitgedeel op die vliegtuig wat almal in kennis gestel het dat mens geen kassette die land mag inneem nie, want wie weet – jy’s dalk ’n Noord-Koreaanse agent wat die mense in die Suide se waardes wil kom ondermyn met jou Appetite for Destruction of Eddy Grant Greatest Hits tapes.

Ek is toe wel deur die doeane en paspoortbeheer met al my bagasie in takt – insluitende ’n sak vol kassette. ’n Koreaanse man en ’n ou van Suid-Afrika in ’n 1995 Rugby World Cup T-shirt het my ingewag. Toe ons by die lughawegebou uitstap, het die reuke en die hitte en die mense en die geboue dit werklik gemaak – ek is weer in ’n vreemde land!

Na omtrent twintig minute se ry deur swaar verkeer (omtrent al die motors op die pad was Koreaanse modelle, en geen kar was meer as ’n paar jaar oud nie) het ons gearriveer by wat vir my gelyk het soos ’n kantoorgebou. Op die tweede en derde verdiepings was ’n taalskool – soos die een waar ek sou werk, en op die dak was daar ’n klein kamertjie waar die Suid-Afrikaanse ou gewoon het.

Twee ure later het die eienares van die skool wat vir my vliegtuigkaartjie betaal het, by ons aangesluit. Die man wat my op die lughawe kom haal het se vrou – wat voorgestel is aan my as iets wat geklink het na “One Gum” – het vir ons tee bedien, en ons het gesels oor die skool, klasse, studente, en so aan. Toe kom die opdrag dat ek die vrou vir wie ek sou werk se storie moet bevestig in Chonju dat ek ’n Amerikaner is. Dit sou later vir ’n paar probleme sorg.

Teen omtrent sesuur het ons na die busterminaal toe gegaan, en ek en Mrs. Kim – wat amper nie ’n woord Engels kan praat nie – het ’n bus gehaal Chonju toe. Na omtrent twee ure het ons gestop vir verversings. Sy’t vir my ’n blikkie koue koffie gekoop, en ’n pakkie mini doughnuts. Teen omtrent elfuur het ons in Chonju gearriveer. Haar seun, omtrent my ouderdom, het ons ontmoet. In die kar op pad na hulle huis toe het hy plaaslike popmusiek gespeel, en my gevra of ek die groep ken. Ek het hom ingelig dat ek nog nooit voorheen in my lewe Koreaanse popmusiek gehoor het nie.

My eerste nag in Chonju was nie fantasties nie. Ek het nie geweet wat die situasie gaan wees met my verblyf nie, maar ek was nie voorbereid daarop om saam met ’n familie in dieselfde huis te bly nie – ’n paar aande sou oukei gewees het, maar ek is hier op ’n twee-jaar kontrak! Ek het ook nie die vaagste benul gehad hoe die gemiddelde Koreaanse familiehuis lyk nie.

Die huis is geleë in ’n nou stegie, agter ’n staalhek. Daar’s ’n klein binnehof, en ’n paar trappies wat lei na die voordeur. Toe ons instap, word ek ’n klein kamertjie gewys langs die kombuis – wat ek duidelik kon sien tot daai middag nog die seun s’n was.

Na ’n uur of so het ek die glasdeur agter my toegeskuif, en myself op die bed tuisgemaak. Dit was warm, en vogtig. Muskiete het elke nou en dan nog ’n oop stukkie van my vlees ontdek. Die enigste venster was omtrent so groot soos ’n koffietafelboek en was hoog teen die plafon. Van buite het ’n rooi neonkruis flikkerend ’n kerk in die gebou langsaan geadverteer.

Die volgende dag het ek deur my co-teacher by die skool uitgevind dat die kamer net ’n tydelike situasie is, en dat ek oor twee maande my eie “room” gaan kry. Teen Dinsdag het die seun darem die klerekas in die kamer ontruim – wat ten minste vir my ’n stukkie persoonlike spasie gegee het waar ek ’n foto of twee kon opsit.

* * *

Ek het begin werk die dag na ek hier aangekom het. Ek gee klas saam met ’n Koreaanse onderwyseres, wat aan die een kant oukei is, maar dit plaas my ook onder druk omdat my Engels die heeltyd perfek moet wees. Sy let op elke woord wat ek sê.

Die eerste week se klasse het aan die einde sonder enige groot probleme verbygegaan. Die kinders lyk asof hulle gretig is om te leer. Hulle is ook heel vriendelik – een klas het selfs vir my koek gegee vir my verjaarsdag.

Ek moes ook hierdie week vir ’n mediese ondersoek gaan, wat oukei verloop het tot by die urine-toets … waar ek nie ’n druppel kon uitkry nie.

So teen Dinsdag het ek ’n Kanadese ou ontmoet wat by ’n ander skool in dieselfde straat as ek werk. Hy het my vertel van ’n plek genaamd SE Jazz, naby by die universiteit, en die Koreaanse warmwaterstelsel aan my verduidelik (na ’n week se koue baddens).

Meer oor die Jazz plek. Ek het Vrydagaand saam met die Kanadees en ’n ander ou van Amerika soontoe gegaan – ek is seker daarvan al die Westerlinge in Chonju was daar. Aanvanklik het dit gevoel soos uithangplekke op Stellenbosch, maar na ’n hele paar biere het dit aansienlik beter geraak. Ek het soort van vriende gemaak met ’n paar Kanadese dames. Aan die einde was ons die laaste mense om die plek te verlaat (net voor sonsopkoms).

Was ook gisteraand by ’n “open house” by my kollega se huis. Baie aangenaam, en heelwat rustiger as die Jazz. Die kos was heerlik. Ek vermoed sy’t die heeldag agter die stoof gestaan. Ek was baie beïndruk.


Stegie wat lei na die huis toe – Chonju, Suid-Korea
Buite-toilet – Chonju, Suid-Korea
Kombuis van die huis in Chonju, Suid-Korea
Kombuis van die huis in Chonju, South Korea
Ek en my kollega by Samtur Hagwon – Julie 1996 – Chonju, Suid-Korea

______________________

Sonder geld is jy ’n boemelaar

Maandag 27 Mei 1996

Ek leef nou al vir dertien en ’n halwe maande die lewe van ’n swerwer: min geld, geen inkomste, skuldeisers wat my reuk probeer optel, geen tuiste van my eie nie, besittings wat oor die hele land versprei is, en geen bevredigende antwoord op die lastige vrae by sosiale geleenthede nie.

“Wat,” sal ’n belangstellende persoon vra, “het jy geleer uit die lewe wat jy hierdie afgelope dertien en ’n halwe maande geleef het, en steeds leef?”

Die antwoord is eenvoudig – geld. Sonder geld het jy niks, en is jy niemand nie. Sonder geld kan jy nie jou lewe konformeer tot die styl en standaarde van die gemeenskap nie; gevolglik word jy nie ernstig opgeneem nie. Sonder geld is jy afhanklik van, en oorgelaat aan ander se genade; gevolglik moet jy jou leefstyl en jou persoonlikheid aanpas (of inperk) om nie jou beskermer en voorsiener te ontstel nie.

Die wêreld is nie gemaak vir mense sonder geld nie. Tydskrifartikels word nie geskryf vir mense sonder geld nie. Sonder geld bly drome net … drome. Sonder geld kan jy nie werklik jouself verbeter nie. Jy kan nie inskryf vir ’n kursus in interior design of gourmet cooking nie, want jy kan nie betaal daarvoor nie, jy’t nie ’n adres nie, en jy’t nie fasiliteite nie.

Sonder geld is jy basies … ’n boemelaar.

______________________

Die pion en die orde van konings en biskoppe

Saterdag 4 Mei 1996

Orde berus op een ding, naamlik die aanvaarding onder die meerderheid van die bevolking dat dinge is hoe dit moet wees. Veral van kardinale belang is aanvaarding van die orde deur die “soldaat”. As die soldaat dit nie aanvaar nie, kan die hele orde inmekaar tuimel.

Dit is hoekom die 1917-Rewolusies in Rusland geslaag het – die soldate het nie meer aanvaar dat die tsaar noodwendig aan bewind hoef te wees nie. Die persoon wat ’n wapen in sy hand het, is die sleutel tot die voortbestaan of verval van ’n spesifieke orde. Toe die tsaar se soldate nie meer sy bevele wou uitvoer nie, het die hele orde in duie gestort, en was Tsaar Nikolaas II skielik net ’n gewone man in sy laat veertigs.

Beteken dit die pion is eintlik die belangrikste figuur op die skaakbord? Solank hy die orde van die “koning/koningin” en die “biskoppe” aanvaar, en hulle bevele uitvoer, is hy net ’n pion in hul hande. Maar die oomblik as die pion (of genoeg pionne) nie meer die orde aanvaar en bevele gehoorsaam nie, verander die situasie. Dan is die pion en die koning skielik albei net gewone mense, met die enigste verskil dat die een ’n wapen in sy hand het.

______________________

“Jakob” skryf ’n storie

Donderdag 18 April 1996

Aangesien ek nog steeds wag vir die groen lig om Korea toe te gaan, moet ek iets kry waarmee ek myself sinvol kan besig hou en waarmee ek my onrustigheid kan kalmeer.

Hier volg dus nou ’n storie wat goed moet wees, want dit moet opmaak vir die feit dat ek nog in Pretoria sit. Ek moet myself kan troos dat as ek nou al in Korea was, ek nie hierdie storie sou geskryf het nie.

Die storie is natuurlik heeltemal fiktief.

———–

Jakob is nou al drie weke by sy suster in Pretoria, wagtende vir iets om te gebeur sodat hy kan vertrek – weg, na ’n vreemde land toe. (Sy suster is finansiële bestuurder by ’n plaaslike konstruksiemaatskappy. Sy woon in ’n klein woonstel – een slaapkamer, sitkamer en ’n kombuis – in ’n woonstelbuurt op die rand van die middestad. As die oudste kind het sy al geleer om geduldig te wees met haar jonger broer en suster, veral siende dat hulle skynbaar geen idee het wat om te maak met hulle volwasse lewens nie. Dis reeds die tweede keer in drie maande wat sy aan een van hulle haar spaar matras, ’n kussing, ’n paar komberse en spasie op haar sitkamervloer moet voorsien.)

As Jakob ver genoeg terugstaan van die hele situasie, sien hy dit vir wat dit is: ’n gewag op iets groters in die lewe, iets wat miskien ook aan hóm ’n plek in die son sal gee. Hy weet ook die huidige situasie is bloot die volgende hoofstuk in sy verhaal, ’n voortsetting van ’n fase in sy lewe wat begin het die dag toe hy sy laaste vraestel op universiteit geskryf het. Die tyd het toe aangebreek wat hy moes besluit in watter rigting hy sy lewe gaan vat, siende dat sy vriendin op universiteit, Karien, hom oortuig het om tydelik af te sien van sy ideaal om ’n kluisenaar te word – wat sy hare en baard sou laat groei, en net nou en dan sy gordyne sou ooptrek om te sien watse seisoen dit is. (Dan weer, selfs kluisenaars het deesdae ’n inkomste nodig.)

Enkele maande voor sy gradeplegtigheid het hy besluit om die onvermydelike lewenslange stryd om geld, huis en kinders tydelik op die agtergrond te skuif. Hy sou eers gaan reis vir ’n paar maande. Hy’t geweet dit sal nie noodwendig aan hom ’n plek in die son besorg nie, maar soos hy aan iemand verduidelik het oor ’n bier een aand, die landskap van ’n vreemde bestemming sou hom hopelik moed gee vir lewe in die hoofstroom, en ’n bietjie inspirasie.

So het hy Europa toe vertrek. Die plan was om êrens te werk vir ’n paar maande, ’n paar lande te besoek, en dan op ’n mooi lentedag terug te keer en sy jonger suster in Stellenbosch te verras. Hy sou haar by Bakoven inwag op haar pad terug van die skool af. Dan sou hy haar die middag vertel van alles wat hy gesien het, en van al die interessante mense wat hy ontmoet het. Sy sou luister soos een wie se wêreld, met elke woord, voor haar oë verbreed. Sy sou ’n opmerking maak oor sy lang hare en sy baard, en van mening wees dat mense hom nie eers sou herken nie. Hy sou ’n pelgrim wees wat skielik huis toe gekom het.

Vyf weke na hy Europa toe vertrek het – nie lank genoeg om veel van ’n verskil aan die hare of die baard te maak nie, was hy terug. ’n Paar mense wat verbaas gevra het, “Nou al?” het hy geantwoord met dieselfde illusie waarmee hy sy eie teleurstelling probeer verdoesel het: Hy het net sy “sake kom afhandel”. Hy sou weer vertrek “binne die volgende maand of drie”.

Maande van armoede en vervaagde hoop het gevolg.

Mense wat hom uitgevra het oor hoekom hy steeds in Stellenbosch is, het hy geantwoord met nog ’n halwe waarheid: Hy’t besluit om eerder sy suster deur matriek by te staan aangesien hulle ouers nou in ’n ander deel van die land woon.

Teen Kersfees was hy platsak. Sy suster was toe reeds weg – na hulle ouers se nuwe blyplek in KwaZulu-Natal. Hy het agtergebly in die munisipale woonstel met maande se onbetaalde elektrisiteitsrekeninge, en huurgeld wat driftig op pad was in dieselfde rigting. Om aan die lewe te bly het hy die meubels verkoop, totdat net ’n paar komberse en kussings, en ’n geleende swart-en-wit TV oorgebly het. Die krag – soos hy verwag het – is afgesny vroeg in Januarie. Hy’t die aande op sy beddegoed op die andersins kaal sitkamervloer in donkerte deurgebring.

“My lewe het begin stagneer,” het hy een aand gedink. Dat hy vorendag moes kom met ’n plan om uit die gemors te kom waarin hy gesit het, was nie altemit nie.

’n Maand na Kersfees het hy sy oorblywende goed in bokse gepak, meeste daarvan by ’n vriend gestoor, en sy 1967 Wolseley wat al vir amper ’n jaar gestaan en blare vergaar het onder ’n boom, te koop aangebied in die Eikestadnuus. ’n Paar dae na die kar verkoop is, het hy die trein gevat noorde toe. Dié jaar sou anders wees, het hy geglo. Hy was gereed, inderdaad uitgehonger, vir nuwe ervarings.

Nie lank na hy in die stowwerige dorp, Pongola, in KwaZulu-Natal, aangekom het nie, kry hy ’n oproep van ’n Suid-Afrikaner wat woon en werk in Seoel, Suid-Korea. Hy’t onmiddellik teruggedink aan die dag in Desember toe hy die advertensie vir Engelse onderwysers in die Cape Times gesien het (“Teach in Korea,” het die opskrif gesê, met ’n naam en ’n nommer). Hy kon onthou hoe entoesiasties hy hom teruggehaas het woonstel toe om te reageer op die advertensie. Die Suid-Afrikaner in Seoel het hom gevra of hy nog belangstel. “Dit sal ongeveer vyf weke duur om al die reëlings af te handel,” het die stem belowe. Jakob was verseker hy was eerste op die lys van nuwe onderwysers.

“Die oplossing vir al my probleme het gearriveer!” het Jakob opgewonde gedink.

Vyf weke is vinnig besig om drie maande te word. Intussen wag hy maar, meestal op die bank in sy suster se woonstel. Hy slaap op die sitkamervloer, rook die goedkoopste sigarette op die mark, drink koffie, en eet toebroodjies. Hy lees oor modes en verhoudings in sy suster se tydskrifte, probeer volg wat in die wêreld aangaan op ’n TV wat meer strepe en kolle wys as enige iets anders, en stap elke oggend OK Bazaars toe – vir die oefening, maar ook omdat dit soms beter is om na enige plek toe te gaan as om nêrens heen te gaan nie.

Jakob het ’n lang pad gekom ná sy laaste vraestel op universiteit. Miskien, reken hy, sal dit ’n goeie idee wees om ’n paar draaie te gaan loop deur die bekende landskap van sy geboortestad.

———–

Goed, dis nie ’n meesterstuk nie … en dis nie heeltemal fiktief nie.

Dalk moet ek gaan koffie drink êrens om die illusie te skep dat ek nie die hele dag in my suster se sitkamer spandeer nie.

______________________

Terug na 15 April 1996 om 19:56 en 25 sekondes

Maandag 15 April 1996

Ek is amper 25 jaar oud, amper halfpad deur wat beskryf word as die beste jare van mens se lewe. Ek het al glimpses daarvan ervaar, maar ook die downside – die rusteloosheid, die onsekerheid, en die finansiële en emosionele onstabiliteit. Ek is oortuig daarvan dat as ek my twenties kan oorleef, ek oukei sal wees.

[…]

Ek oorleef somber oomblikke met ’n versigtig optimistiese geloof in my toekoms. En ek praat nie van die verre toekoms nie; ek praat hier na die volgende vyf jaar, wat oorbly van my twintigerjare. Ek glo dat ek voor ’n opwindende periode van my lewe staan. Ek glo ek gaan meer van die wêreld sien. Ek gaan ook skaaf aan my identiteit op kreatiewe wyses. Dalk sal ek die immer ontwykende “liefde van my lewe” ontmoet. En ek glo, of hoop, dat ek somewhere down the line, binne die volgende vyf jaar, stabiliteit in my lewe sal ervaar.

Terug na 15 April 1996 om 19:56 en 25 sekondes, 26 sekondes, 27 sekondes, 28 sekondes … 58 sekondes. Hierdie is ’n vlietende oomblik en dag in my lewe, en in hierdie tydperk van my aardse bestaan. Dit sal verbygaan. Ek sal ’n metamorfose ondergaan en uiteindelik wakker word in ’n nuwe tyd van my lewe. As ek eendag terugkyk na 15 April 1996, sal ek sien dat dit net ’n vlietende oomblik, net ’n deeltjie van ’n groter geheel was, of ’n porsie van ’n groter deel wat uiteindelik deel sal word van ’n nog groter geheel.

Om nou op te gee, net omdat ek ’n onseker, onstabiele, ietwat eensame bestaan voer, is nie realisties nie. Ek het al baie sulke dae, en sulke tye in my lewe ervaar. In fact, van daai tye was erger as nou, en somehow het ek dit oorleef! Ek is bly ek was sterk in sulke tye, al het ek nie altyd hoop gehad nie. Of miskien is die volgende stelling nader aan die waarheid: Ek is bly ek het nie die moed gehad om in daai tye op te gee nie, want sterk was ek nie altyd nie.

______________________