’n Mees belangrike les

SATERDAG 10 FEBRUARIE 2001

Mense respekteer mag.

Mense respekteer finansiële mag, dit weet almal, maar hulle respekteer ook die mag van ander vermoëns: die vermoë om ander na hulleself aan te trek, die vermoë om karre reg te maak, die vermoë om ’n musikale instrument op ’n meesterlike wyse te manipuleer, om net ’n paar te noem.

Vat byvoorbeeld ’n talentvolle kitaarspeler wat vriend of vreemdeling vir ure lank kan vermaak met sy kitaarspel. Dit mag moontlik wees dat hierdie ou nie te veel belangstel in geld maak nie. Kom ons sê behalwe vir die deeltydse werk wat hy doen gedurende die dag (wat niemand beïndruk nie), speel hy ook in kroeë en koffiewinkels ’n paar nagte van die week. Hy maak genoeg geld om te betaal vir sy spartaanse woonplek en hy kan die mees essensiële kruideniersware bekostig (en elke nou en dan nuwe kitaarsnare). Hierdie ou sal heel moontlik nooit ryk wees nie. Sy ambisie is om mense te vermaak of te inspireer met sy musiek, maak nie saak hoe klein of hoe groot die gehoor is nie. Dat die respek wat sy kant toe kom sal vermenigvuldig as hy goed kitaar kan speel én hope geld daarmee maak, is tot ’n mate onbelangrik. Mense sal hom respekteer vir die mag wat hy het om iets te kan doen wat meeste nie kan doen nie – om kitaarsnare op so ’n manier te druk en te slaan dat die lug gevul word met harmonieuse klanke.

Watse tipe vermoëns of vaardighede dwing respek by mense af? Een voorbeeld: die vaardigheid wat iemand self al vir ’n geruime tyd begeer om te bemeester, maar wat hulle nog nie kon baasraak nie. Om dan te sien hoe iemand wat hierdie einste vaardigheid bemeester het, beloon word met ander se respek, verskerp hulle begeerte om die mag van hierdie vaardigheid vir hulleself op te eien.

Respek bepaal jou plek in die gemeenskap. Om nie gerespekteer te word nie, beteken dat jy as ’n nul op die spreekwoordelike kontrak behandel word. Aan die ander kant, om gerespekteer te word vir iets waarvoor jy gerespekteer wíl word, beteken dat mense met jou wil assosieer. Wanneer mense sien dat ander met jou wil assosieer, behandel hulle jou gewoonlik met meer respek, wat weer jou bewussyn van eiewaarde en dat jy êrens behoort, verskerp. Om nie gerespekteer te word nie, verminder jou sin van eiewaarde. Hierdie verlaagde sin van eiewaarde verhoog dan die waarskynlikheid dat jou verskynings ’n swak indruk sal laat op mense, wat mense derhalwe nog minder rede gee om jou te respekteer. Hierdie onvleiende verskynings het ook die ongewenste effek dat jy nóg minder sal voel dat jy êrens behoort, wat jou gevoel van eiewaarde nóg meer sal ondermyn. Dat die kringloop boos is, is nie te betwyfel nie.

Mense respekteer mag – die vermoë om iets te kan doen wat hulle self wil doen, maar wat hulle nog nie bemeester het nie, of nooit sal bemeester nie. Hierdie is ’n insig wat nou al vir jare by my spook. Dit is inderdaad een van die belangrikste lesse wat ek geleer het gedurende die afgelope meer as ’n dekade van my volwasse bestaan.

______________________

Ballingskap 5?

“You play out your happiness on a piano that is not infinite.” (Uit: The Legend of 1900)

VRYDAG 8 DESEMBER 2000

(Dis drie maande sedert my laaste essay.)

Dis nie altyd maklik om stil te sit, ’n bietjie na te dink, en dan die varsheid van ’n oop stuk papier te vernietig in ’n poging om saam te vat waar jou lewe op ’n spesifieke tydstip staan nie. Om die moeite wat so ’n Groter Beskouing verg, vry te spring, sou ek vroeër die TV wat nie meer programme kon opvang nie aanskakel, en tot die einde van frustrasie Super Mario gespeel het. Toe koop ek my vierde Pearl Jam album. Drie dae later koop ek vir my ’n elektriese kitaar. En ’n paar weke daarna ’n keyboard. ’n Blokfluit en twee mondfluitjies het oor die volgende paar maande gevolg. Wanneer die gewete roep vir ’n hernude klim na die heuwel bokant my lewe – om te kyk in watter rigting die winde waai, om te kan sê, “Oukei, dis waar ek staan,” kyk ek deesdae ander pad, gryp ’n kitaar, en probeer ’n paar nuwe drukke. Die tyd het egter gekom.

Dis die agste Desember. Daar’s nog drie weke oor voor Kersfees, en dan nog net ’n paar weke voor die wintervakansie. Meer as twee maande het ook al verby gegaan sedert ek veronderstel was om, volgens ’n voorspelling vroeg September, ’n “complete physical, mental and spiritual breakdown” te hê. Dit gaan goed met my, ondanks die feit dat daar steeds niemand is om die goeie dinge mee te deel nie.

Maar … BALLINGSKAP! Die afgelope paar weke was baie insiggewend wat hierdie tema aanbetref. Ter wille van verheldering kan dit genoem word dat die idee se oorsprong – in my betrokke geval – lê in Korea, toe ek gesê het ek is in “economic exile”, weg van die druk van die konvensionele middelklas in die Republiek van My Geboorte. Ek het ook gesê dat ek my ballingskap sal ophef wanneer ek “sufficiently empowered” is om in Suid-Afrika op eie terme te kan leef. Ek het uiteindelik teruggegaan na twee jaar, nie omdat ek “sufficiently empowered” was nie, maar omdat ek gevrek het van eensaamheid. Ek het ’n paar idees gehad oor wat ek wou doen – hardly watertight, maar soos die movie gesê het in die vliegtuig op pad terug, “a good idea today is better than no idea yesterday” (of so iets).

Ek is nou al amper twee jaar in Taiwan, en soos die titel van hierdie stuk aandui, is hierdie nie die eerste woorde wat ek skryf oor die onderwerp van ballingskap nie. Ek probeer gewoonlik om nie Sondagaandblues-geïnspireerde idees oor die opheffing van my ballingskap ernstig te vat as dit nie hou tot ten minste Maandagaand nie, maar die afgelope paar weke het die blues-geïnspireerde idees ’n betreklike rypheid bereik (ek skryf immers hierdie essay op ’n Vrydagoggend).

[…]

Ek het ’n paar maande gelede die oortuiging begin verkondig dat die lewe wat ons expat teachers het in Taiwan bevorderlik daarvoor is dat ons onsself bedrieg. Wat het ek bedoel daarmee? As ’n foreign English teacher in Taiwan kan mens lekker geld maak sonder om jouself dood te werk. Jy bly in ’n ruim woonstel; jy’t ’n paar luukshede wat jou lewe gemaklik maak; jy kan bekostig om jouself te bederf met artikels soos Japannese sonbrille en Amerikaanse tekkies; en jy leef ’n eksotiese lewe in die Verre Ooste (eksoties in vergelyking met die lewe waarmee ék in elk geval grootgeword het in ’n soort van middelklas voorstedelike omgewing). Maar niks van hierdie dinge maak jou gelukkig as daai oer-behoefte om êrens te behoort, nie vervul word nie. So dink jy dalk jy’s oukei, tot jy een Sondagoggend wakker word met ’n babelaas van nog ’n Saterdagaand wat jy op jou eie gespandeer het (om die aand saam met ander foreigners deur te bring is ook maar net soos om lekkers vir ’n honger kind te gee). Teen Sondagaand besef jy weereens dat jy jouself baie gemaklik gemaak het op ’n plek waar jy nie werklik behoort nie. Om jouself dan beter te laat voel, ry jy na die naaste musiekwinkel toe om geld op nog CD’s te spandeer, net om te hoor hoe Bob Dylan vir jou preek dat jy nie “paradise” moet verwar met daai “home across the road” nie [uit “Ballad of Frankie Lee and Judas Priest”].

Dit bring my toe op die punt wat ek ’n nuwe oortuiging in die wind wou gooi: dat ek nooit sal voel ek behoort hier nie – met die uitsondering as ek trou met ’n Taiwannese vrou, wat die plek persoonlik sal maak tot so ’n mate dat dit sal kan kompeteer met die land van my geboorte.

In die afwesigheid van enige betekenisvolle verhouding met ’n vrou van hierdie land was dit dus onafwendbaar dat ek weer sou terugkeer na ’n paar ou vrae: Wat presies maak ek hier? Gaan ek hier bly vir die res van my lewe? Indien nie, sal ek terugkeer Suid-Afrika toe? Indien daar wel goeie redes gevind kan word hoekom ek moet teruggaan, wanneer? Die belangrikste vraag wat dan na vore tree is presies wat ek sal doen wanneer ek terug is.

Dit sal dalk waarde hê om myself (en dalk die leser) te herinner aan die redes hoekom ek in November 1998 besluit het om, ten spyte van wat ek gesê het in Mei van daai jaar, weer my rugsak te pak en terug te kom Ooste toe. Ek het dit geniet om tussen my eie mense te wees, om my familie elke paar weke te sien, en om uit te gaan met vrouens met wie ’n man ’n behoorlike gesprek kon voer. Hoekom was ek bereid om hierdie en baie ander dinge weer op te gee? Ek het gewoon in ’n bediendekamer in die agterplaas van ’n vriend se erf; al my meublement was gemaak van weggooiplanke; my matras het bestaan uit ou stukke spons wat ek aanmekaar geplak het; ek het nie ’n kar gehad nie; ek het R2600 per maand verdien, waarvan ek R2000 aan my studieskuld moes afbetaal, en ek het gewerk in ’n administratiewe kapasiteit by die bedryf van reeds genoemde vriend wat so welwillend was om my toe te laat om gratis op sy erf te woon. Daar was sekerlik ander opsies, maar my ambisies en my persoonlike politiek was van so ’n aard dat om terug te kom Ooste toe geblyk het die enigste werklike oplossing te wees.

Wat ek in die afgelope twee jaar hier gedoen het, was veel, veel meer as wat ek gedink het ek sou doen. Die oorspronklike idee was om geld te maak, en om my skuld af te betaal. Ek sou dan een of ander tyd terugkeer Suid-Afrika toe, ’n huis koop, en op die stoep sit en vir almal wat verbystap, middelvingers gooi. Ek wou vry en onafhanklik wees.

Dit het my nie lank gevat voor ek besef het dat ek hierdie doelwitte moes kwalifiseer nie. Om “vry en onafhanklik” te wees, so het ek gereken, kan ook impliseer dat niks en niemand regtig vir my saak maak nie: Geen vrou nie, geen kinders nie, geen verpligtinge of verantwoordelikhede nie.

’n Duideliker formulering het soos volg gelyk: om die vryheid te hê om te kan kies wat ek wil doen, en myself hoofsaaklik daarmee besig te hou; om onafhanklik te wees van base en besighede en instellings wat wil dikteer hoe ek moet lyk, wat ek moet sê, en hoe ek ’n groot deel my dag moet spandeer – net omdat ek afhanklik is van die geld wat hulle na my bankrekening toe kanaliseer aan die einde van elke maand.

Siende dat ek nog nie heeltemal in ’n posisie is om middelvingers te lanseer nie, kan dit dus met betreklike sekerheid gesê word dat ek tans vasgevang is tussen my ambisieuse doelwitte en my werklike situasie.

Twee oplossings bestaan vir hierdie dilemma. Die een is ’n welbekende fantasie: die ontelbare miljoene wat jy jou eie kan noem as jy die Britse Lotery gewen het. Die ander oplossing is om werksgereedskap in te win waarmee jy vir jouself onafhanklikheid kan bewerkstellig van jou ekonomiese meesters. In my geval kom dit tot ’n groot mate daarop neer om ’n goeie rekenaar te besit.

Om oor al die gereedskap te beskik wat jy benodig, en gereeld gebruik te maak daarvan, betaal natuurlik nie outomaties die huur aan die einde van die maand nie. Aanvangskapitaal is dus noodsaaklik. Dit is om hierdie rede dat ek steeds my woonstel elke dag verlaat om ’n diens te lewer waarvoor daar op hierdie plek ’n aanvraag is, naamlik Engelse lesse wat aangebied word deur “an actual speaker of the language” (wat in meeste gevalle neerkom op ’n ander kleur vel, en soms ander kleur oë as al die plaaslike Engelse onderwysers wat soms meer bekwaam is om dieselfde werk te verrig).

Een ding is egter belangrik om te noem in hierdie bespreking van my edel stryd om onafhanklikheid – ek beplan nie meer om genoeg geld te akkumuleer om ’n huis te koop en vir die res van my dae op die stoep te sit en vir mense wat verbystap deuntjies op die blokfluit te speel nie. Die idee is om hierdie gereedskap wat ek bymekaar begin maak het eerder te gebruik om ’n gereelde inkomste te verdien. Hierdie proses om die Skepping van Kreatiewe Werke my inkomste-genererende besigheid te maak, het reeds begin.

[…]

[In die res van die stuk het ek die beginsels probeer verduidelik daarvan om jou kreatiwiteit te gebruik om ’n inkomste te genereer. Ek het egter vasgeval in lang sinne wat nie heeltemal gesê het wat ek wou sê nie, en het die proses gestop in die middel van een van hierdie sinne. Die idee en die argument daaragter word wel voortgesit in ander stukke.]

______________________

Qwert yuio plkj!

SONDAG 10 SEPTEMBER 2000

Qwert yuio plkj hgfdsa zxcv bnmn …

Ek wens dit kon so gewerk het. Ongelukkig is ek vir die soveelste maal in my lewe verplig om woordeskat van ’n werklike taal te gebruik om my gevoelens te verwoord; om die ledemate wat vingers is te gebruik om woorde op papier neer te vel sodat ek, en moontlik jy, kan sien hoe ek voel.

Ek doen dit in die taal wat bekend is aan die wêreld as Afrikaans. Ek kon dit in ’n ander taal ook gedoen het, maar dit sou aan die einde dieselfde effek gehad het. Iemand anders sou daarna kon kyk en sê: Ja, ek dink ek verstaan.

Soos dinge staan, is jy aan die ander kant van hierdie teks. Ek hoop dus die proses werk soos dit moet.

Hoe voel ek? Angstig, en eensaam. Angstig, omdat ek steeds op ’n vreemde manier glo aan die god aan wie my ouers my voorgestel het met goeie bedoelings; die god oor wie ek geleer is dat hy soos ’n goeie vader is – die beste van vaders wat enige kind ooit kan hê.

Toe, in my vroeë twintigs, het die sterk vermoede by my posgevat dat hierdie god gemaak is deur mense, soos die goue kalf wat die Israeliete gemaak het terwyl Moses op die berg was. Ek het oortuig geraak daarvan dat mense oor die verloop van eeue hierdie God van Woorde geskep het om dieselfde redes hoekom die Israeliete die goue kalf gemaak het: Hulle wou ’n god hê wat hulle kon sien, voor wie hulle kon neerbuig, voor wie hulle offerandes kon neerlê. Die god met wie Moses in die Bybelverhaal gaan praat het was eenvoudig te ver – te ver, te onsigbaar, te misterieus, te onaantasbaar. Die God van Woorde, soos die goue kalf, is nie te misterieus nie. Hy word wel misterieus genoem, maar net omdat dit ’n eienskap is wat die mense graag aan hulle god wil toeskryf. Hoe kan ’n god immers misterieus wees as die mense wat hom misterieus noem ook aanspraak maak dat hulle weet wat hy dink, en weet wat hy al gedoen het en wat hy nog gaan doen? (“Maar ons weet niks van hierdie dinge nie,” sal mense met groot verontwaardiging uitroep. “Ons weet nie wat God dink nie! Ons weet nie wat Hy gaan doen nie! Ons weet nie die helfte van alles wat Hy al gedoen het nie, en ons kan nooit Sy planne, of Sy doel met dinge verstaan nie!”) Hierdie God van Woorde kan ook gevoel word. In die regte omstandighede, bygesê, wat gewoonlik plaasvind in kerke met baie instrumente op die verhoog, en ’n prediker wat met ’n mikrofoon rondloop. (“O nee,” sal die mense weer sê, “jy kan God ook voel in die privaatheid van jou binnekamer.”) En soos die goue kalf kan hierdie God van Woorde tevrede gemaak word, kan sy guns vir jou saak gewen word, deur die magiese krag van ’n hele reeks rituele. Jy kan sing en neerval, en jou hande saamslaan, of Bybelstudie doen, of lang gebede doen, en so aan, en so aan. En die verontwaardigdes sal met elke punt my hewig daarvan beskuldig dat ek alles verdraai, dat ek duidelik nie die eerste waarheid oor hulle god ken nie, en mag hulle vir my bid, sommer nou, ek hoef nie eers my oë toe te maak nie.

Waarop dit alles neerkom is dat ek nie meer glo aan hierdie God van Woorde nie. Ek het dit al so in my eie weergawe van ’n amptelike deklarasie uitgespel. En ek het beter gevoel daarna, want woorde kan ’n ding tog so amptelik laat lyk.

Soos die tyd egter verby gegaan het, het ek agtergekom dat ’n mens nie so maklik van jeugtyd oortuigings ontslae raak nie. Ek glo nie meer aan die detail nie – die Persoonlike Verlossing doktrine is een voorbeeld. Maar elke nou en dan, in ’n stil oomblik, het ek hierdie visie van die god waarin ek nie meer glo nie: ’n aller-magtige koning, op sy goue troon, wat in peinsende stilte na my kyk. Ek sal weet die manier hoe hy na my kyk, is nie dié van ’n liefdevolle vaderfiguur nie. Hierdie figuur sal ’n enkele woord nie uiter nie, maar ek sal ’n goeie idee hê wat hy dink: dat ek maar net moet wag, my dag sal kom. “Dan sal ons sien wie’s baas. Dan sal ons sien wat maak jy met al jou goed deurdenkte argumente. Jy wil mý kritiseer? Omdat ek nie wát gedoen het nie? Omdat ek gesê het ek sal wát doen? Wie dink jy is jy?” En ek sal my woorde sluk, en skielik bewus wees van die feit dat dit alles waar is. Wie is ék immers om voor hierdie majestueuse figuur te staan en aantygings rond te slinger? Ek sal stilletjies wil omdraai en gaan wegkruip, maar hy sal sy vinger lig, iets sê wat ek nie sal kan uitmaak as woorde nie, en die volgende oomblik sal ek myself in ’n verskriklike poel vuur bevind.

So much for my arguments.

Eensaamheid: teoloë van ’n sekere denkrigting sal miskien sê dít, hierdie alleen-wees, dit is my hel. Waarop ek sal antwoord dat ek al eensaam was toe ek nog in die God van Woorde geglo het!

Straf-hel of sommer-net-hel, teen dié tyd is ek al moeg vir hierdie ding van alleen-wees. Ek glo as ’n man net iemand in sy lewe het, kan hierdie persoon vir hom sê dat hy nie bekommerd hoef te wees nie, en haar hande op enige van verskeie plekke op sy lyf sal hom dit laat glo. Dit sal al wees wat saak sal maak.

Feit bly egter staan, soos dit gestaan het gister, en die ontelbare dae en nagte voor gister, dat ek alleen is. In ’n ander tyd van my lewe sou ek hard aan die bid gewees het elke dag dat hierdie god vir my iemand moet stuur om die wakker-ure beter te maak, en om my beter te laat slaap in die nag. Siende dat geloof ’n vereiste is voor ’n mens dié metode kan gebruik ter verlossing uit jou persoonlike hel, laat dit my met iets meer banaal: “Hallo, my naam is Brand” – of die meer desperate, “Voormalige gelowige nou in hel van eensaamheid soek iemand in soortgelyke posisie.”

Om in ’n verhouding te wees met iemand beteken dat jy êrens behoort. Jy sal gemis word as jy aan die einde van ’n dag nie huis toe kom nie. Toewyding aan iemand anders behoort ook bevorderlik te wees daarvoor om jou gedagtes weg te hou van ewige verdoemenis, en soortgelyke onaangename aangeleenthede. En hierdie soort kameraadskap kan ook lei tot die bevrediging van een van die mens se sterkste begeertes – om die voortbestaan van lewe te verseker. Om deur die korrekte prosedure te gaan, en dan na ’n lang gewag ’n derde persoon in jou hande vas te hou – wat nie jy is nie, en ook nie die ander vennoot in die verhouding nie, maar ’n aparte lewende entiteit. En jy sal staar na die miniatuur weergawe van ’n mens en jy sal weet, jy was deel van ’n proses wat lewe gegee het.

Konklusie: Ek kan aan heelwat goeie redes dink hoekom ek nie meer alleen wil wees nie.

Genoeg vir nou. Het ek daarin geslaag om met die beperkte medium van woorde te kommunikeer wat ek voel op hierdie Sondagaand? Maak dit saak? Die rede hoekom ek die eerste letters neergevel het was omdat ek ’n bietjie angstig, en tot ’n groter mate alleen gevoel het. Die proses van woorde uitkies en rangskik in sinne was aan die einde wat werklik waarde gehad het. Want soos dit maar gaan met dié dinge, voel ek nou ’n klein bietjie beter.

Hoekom maak dit saak dat jy, die leser, verstaan wat ek hier skryf? Dit sal net saak maak as jy my kon oortuig dat ek nie meer die god hoef te vrees waarin ek nie meer glo nie. En as jy ’n vrou ken met ’n oop hart en ’n oop kop wat wens sy kan iemand ontmoet wat háár sal verlos van haar eie hel van ’n eensame bestaan, sal dit ’n besonders gelukkige toeval wees.

Min dinge is egter ooit so eenvoudig, so qwert yuio plkj! Oftewel, so is dit …

______________________

Om te kommunikeer

WOENSDAG 16 AUGUSTUS 2000

“Daar’s soveel dinge wat op die oomblik aangaan in my lewe, maar hoe sit ’n mens dit om in ’n email? Daar’s groot dinge wat met ’n mens gebeur, soos in julle geval, en jy dra dit doodgewoon oor as feite …

Wat saak maak is dat dit goed gaan met my. Ek wens soms ons kan langs die see gaan stap, dat ek kan probeer om my lewe te verduidelik op ’n manier wat sal maak dat jy sê, ‘Ek weet wat jy bedoel.’

Ek gaan moontlik hierdie naweek ’n trein uit die stad uit vat, na die ander kant van die eiland toe. Of miskien gaan ek by die huis bly. Miskien gaan ek ’n date hê, of dalk nie.

Ek weet nie meer hoe om ’n normale brief te skryf nie. En ek vermoed ek wíl dalk my vermoë verloor om op ’n normale, verstaanbare wyse te kommunikeer.

Ek dink ek raak toenemend vervreemd van plekke wat aan my bekend is, en tot ’n mate is dit hoe ek dit wil hê … en ook nie wil hê nie.

Ek het altyd gesê ek is gebore as ’n gewone ou, wat net die gewone dinge wou gehad het en tevrede sou wees met minder. Maar my lewe het ander draaie gegooi en nou sit ek tussen die boom en die bas. Ek wil alles hê, en ek weet ek mag dalk opeindig met niks. Ek moet óf voortgaan met my lewe en die highway waarop ek geklim het, óf ek moet op een of ander stadium ’n afdraai maak, en hoop dit werk uit.

Dis moontlik nie te laat om te sê, ‘Dis eintlik alles baie eenvoudig’ nie. ‘Doen net dit en dat, en dan sal alles wees soos wat jy tien jaar gelede gedink het dit sou wees.’

Ek het ’n baken nodig, iemand wat kan dien as ’n ligtoring wat die pad kan terugwys na die hawe toe elke keer nadat ek my draaie in die storm gaan maak het.

Hierdie lyk dalk soos ’n goeie plek vir iemand om iets te sê oor godsdiens, maar dis nie goed genoeg nie.

Ek kan selfs kies om nou hierdie hele teks te delete, en dinge te skryf oor my lewe wat meer verstaanbaar is, en meer volgens die konvensie. Maar jy ken my gelukkig beter. En jy skryf altyd terug!

En om te dink jy wou eintlik net gehoor het of dit oukei gaan met my, en of ek darem gereeld eet …”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriendin

______________________

Strofes, joernale, en stukkies papier

SATERDAG 5 AUGUSTUS 2000

Die gedig, soos ’n aantekening in ’n joernaal, is vir my ’n verwysingspunt. Dit vertel hoe ek gekom het waar ek is vandag; hoe dit gebeur het dat ek is wát ek is, op hierdie spesifieke tydstip van my lewe.

Solank ek ’n pen en ’n stuk papier het, kan ek uitdrukking gee aan wie ek is, op ’n bepaalde tyd, in ’n bepaalde konteks, en derhalwe weet dat ek lewe. Ek is verder bewus daarvan dat elke dag ’n voortsetting is van één lewe, en dat hierdie lewe alles insluit wat ooit opgeteken is – in notaboeke, op stukkies papier, op die agterkant van telefonrekeningkoeverte, asook ander dinge wat gebeur het maar wat onverwoord en onopgeteken gebly het.

Al die strofes en stories oor liefde, geloof en hoop, en oor teleurstellings, twyfel en wanhoop, lei uiteindelik tot die belangrikste van alle kennis: die kennis van wie ek is.

______________________