Ballingskap 7/Die 22 Oktober 2001 deklarasie

MAANDAG 22 OKTOBER 2001

Ses duisend boksies groentee, ses honderd pakkies dried beancurd, sestig “Finale Planne!” en ses Ballingskap opstelle later is ek nog steeds hier, agter my komper, besig om te skryf oor hoekom ek wel in “ballingskap” is, en wat ek volgende gaan doen.

(Moet ek nou in detail ingaan oor my nuwe post-“Belonging & Commitment” teorie? Moet ek praat oor die boekprojekte wat ek hierdie jaar gedoen het, en die stories wat ek nog wil skryf? Moet ek praat oor die feit dat ek al Level C songs op my keyboard kan speel, en dat dit my twintig minute gevat het om “Battle Hymn of the Republic” uit my kop te leer speel? Moet ek praat oor al die mense wat ek ontmoet het die afgelope paar weke? Moet ek ’n lyn spaar oor die Boney M Gold CD wat ek gekoop het met die eerste geld wat ek as ’n vryskutskrywer verdien het?[1] Moet ek met slim draaie praat oor hoe ek voel dis my morele plig om my ouers met hulle besigheid te gaan help? Moet ek in detail die huidige reeks planne uiteenlê, netjies met kolomme vir voor- en nadele? Moet ek verduidelik hoe ek, as ek nog X-hoeveelheid maande hier bly, al my skuld kan afbetaal? Hoe ek my blou kitaar en ’n klomp boeke saam met my kan vat as ek in April huis toe gaan, en dan einde Augustus – wanneer my skuld afbetaal is – myself lock, stock en res van die boeke verskuif na die plaashuis buite Pongola? Of hoe ek sonder ’n sent op my naam einde Februarie kan teruggaan Suid-Afrika toe, in die goeie geloof dat “dinge sal uitwerk”? Wat van die nuutste een? Ja, al gehoor van hoe hulle teachers soek in Londen? Hoe hulle iets soos £100 per dag betaal word? Kan ek vertel hoe ek al my skuld kan afbetaal in moontlik ’n jaar se tyd, en gedurende vakansies enige Europese stad of enige Eerste Wêreldoorlog slagveld kan besoek? Hoe lekker dit sal wees om gereeld my ouer suster te sien, en ook meer gereeld my ouers en my jonger suster? Is dit werklik nodig om nóg ’n Ballingskap opstel te annekseer met planne, en visioene, en drome, en realiteit? Of kan ek sommer net sê, “Hoesit, hoe hang hulle? Woef.”)

“Uhm … toets-toets, een-twee-drie-vier … kan almal my hoor? Ek dink ek gaan einde Februarie volgende jaar terug Suid-Afrika toe op ’n enkel-kaartjie, dan gaan ek registreer by daai teacher’s agency, en dan einde April, na [M.] en daai ander perd se troue, gaan ek Londen toe vlug, uh … vlieg, en dan my agterent trek deur drie maande van Britse skoolgeëry, en dan Berlyn toe gaan vir ’n week … of ’n Eerste Wêreldoorlog slagveld besoek. Dis al.”

———————-

[1] Ek het vir ’n paar maande lank teks geskryf vir ’n Engelse opvoedkundige tydskrif.

______________________

Arbeiders van antieke tye

DINSDAG 7 AUGUSTUS 2001

In die Middeleeue en antieke tye, hoe het die magte van die dag die arbeiders behou wat hulle grond bewerk het?

Slawerny was een manier. Feodalisme het neergekom op ’n verhouding tussen die landeienaar en die grondbewerker waar laasgenoemde verplig was om arbeid te verrig in ruil vir die landeienaar se beskerming. Daar was ook die verskynsel van “indentured servitude”. Met al hierdie stelsels is arbeiders gebind aan die grond waar hulle arbeid vereis was deur wette wat die grondeienaar bevoordeel het, en deur maatreëls soos belasting, wat die grondbewerker altyd arm en afhanklik gehou van sy Baas.

Hoe word mense vandag gebind aan die “grond” waar hulle arbeid of diens vereis word? Deur onder andere goedkoop krediet, en langtermyn terugbetaalopsies: maandelikse inkomste minus paaiemente op produkte wat reeds gebruik word – soos ’n nuwe sitkamerstel, of ’n kar, laat die gemiddelde burger met min genoeg geld om “weg te kom”.

Natuurlik kom baie weg, en baie val nooit in nie. Daar’s drop-outs, kriminele, en mense wat vir jare in ander lande rondswerf en op verskillende maniere geld verdien. Solank ’n sekere persentasie van die bevolking egter gebind kan word aan die “grond”, kan die res afgeskryf word – of later benut word, soos die drop-out wat ’n musikant of ’n skrywer word en vir die Gebindes vermaak verskaf, of bemoediging.

Dit is belangrik om te noem dat hierdie situasie vloeibaar is. Mense maak aan die einde van die dag hul eie keuses. Dus impliseer ek nie grootskaalse manipulering, of sinister agter-geslote-deure beplanning nie … nee wag, manipulering wel. Soveel as moontlik mense móét bereik, en “gedraai” word …

~ Uit die Pers Notaboek

______________________

Die amperse einde

DONDERDAG 5 JULIE 2001

Ek het myself gisteraand amper doodgeskiet met ’n speelgoedpistool.

Vir die afgelope drie dae al kampeer ek uit op my sitkamervloer, met die een oog op die TV, en die ander een op my boek oor die geskiedenis van die KGB. Die hele doel van hierdie oefening was om ’n poging aan te wend om belangrike besluite te neem oor my lewe, en oor ’n moontlike toekoms. Op een stadium strek ek toe uit na ’n kassie – gerieflik bereikbaar vanuit ’n sittende posisie – om ’n pakkie hoofpynpille vas te vat, en ek vat toe die speelgoedpistool raak wat ek ’n paar maande gelede in ’n oomblik van verveling aangeskaf het. Die motivering agter die kopie was om myself te vermaak – om ’n paar teikens te probeer raakskiet in my woonstel wanneer my grysstof kookpunt bereik. Die hoofpynpille was op daai oomblik benodig vir presies hierdie rede.

’n Uur of twee na ek die speelding ontdek het, telefoneer my ouer suster uit Londen. Binne die eerste sekondes het ek, tot haar irritasie, genoem dat ek altyd aan háár dink wanneer ek probeer uitsorteer wat die volgende stap in my lewe moet wees. Sy het geen klad van ydel maande op haar professionele reputasie nie, het ek haar herinner; sy het die regte besluite op die regte tye geneem, en haar lewe in die laaste halwe dekade het ’n konstante opwaartse kurwe getoon. In vergelyking met haar relatiewe reguit pad na sukses, het ék ’n meer ongekarteerde roete geneem.

Slim soos sy is, raai sy my toe aan om nie tyd te mors deur aan die verlede te dink nie, en om myself nie te veel te bekommer oor “verkeerde besluite” wat ek oor die jare geneem het nie. Ek het instinktief ’n jonger-broer-wat-drooggemaak-het-en-ouer-suster-wat-hom-die-pad-probeer-wys-argument aangevoel. Die gevolg was onvermydelik: Ek moes my oënskynlike rigtingloosheid verdedig.

En dit is presies wat dit is – oënskynlike rigtingloosheid, want daar was definitief ’n doel agter alles in my lewe tot op hierdie punt. Ek het verduidelik dat ek die afgelope vyf jaar nodig gehad het om uit te sorteer waaroor die lewe gaan, wat ek graag wou doen met my lewe, en miskien die belangrikste – hoe om laasgenoemde te versoen met die noodsaaklikheid van ’n gereelde inkomste.

Ons gesprek was kortgeknip toe sy ’n ander oproep moes beantwoord (sy’t van die kantoor af gebel). Die volgende vyf minute het ek gespandeer in ernstige kontemplasie oor die middelklas dogma wat dikteer dat enige persoon ouer as 24 wat nie geld maak nie, geklassifiseer moet word as ’n “loser”.

Ek het egter beter geweet as om die intelligensie en verdraagsaamheid van middelklasburgers te onderskat. Hulle verwag byvoorbeeld nie dat álmal in kantore moet werk nie – só kortsigtig is hulle darem nou ook nie! Hulle hét immers hulle helde wat rocksterre en skrywers en akteurs is. Meeste van hierdie mense maak natuurlik geld, en in sommige gevalle hope daarvan. Soveel meer rede natuurlik om hulle te idealiseer.

Toe my suster terugbel het ek sonder versuim voortgegaan met die verdediging van my eiesoortige uitkyk op die lewe. Sy noem toe dat ek haar ’n bietjie deurmekaar gepraat het, maar laat blyk ook opregte simpatie. “Hoekom kom jy nie Engeland toe nie?” bied sy uiteindelik haar standaard advies van baie jare aan. Ek het verduidelik dat ek tans aan ’n meesterplan skaaf, dat ek dit oorweeg om terug te keer Suid-Afrika toe aan die einde van die jaar, en dat ek besluite moet neem oor hierdie sake voordat ek kan dink aan dinge soos vakansies. Of sy agtergekom het dat ek doelbewus vaag was en die skyn probeer voorhou het van iemand wat weet waar hy gaan wees teen sy volgende verjaarsdag, sal ek nie kan sê nie.

Die gesprek het einde se kant toe begin staan. Ons albei het hoop uitgespreek dat alles goed sal gaan met die ander een, en totsiens gesê. Ek het na die vloer bly staar, met geen spesifieke gedagtes in my kop om my op te beur nie.

Die volgende oomblik weerkaats die lig van die TV op die speelgoedpistool. Om uitdrukking te gee aan my misnoeë oor my alewige verwarring, tel ek die ding toe op, druk die koue plastiekloop teen my natgeswete voorkop, en trek die sneller. Niks, soos ek verwag het. Ek stap toe oor na die kassie en krap ’n paar van die harde, plastiek koeëltjies uit ’n laai, skielik opgewonde oor die afleiding wat ’n tweegeveg met die boks ontbytpap sal voorsien. In my poging om die magasyn uit te haal, trek ek toe per ongeluk weer die sneller.

Tot my verbasing, en skok – in ag genome dat ek sekondes gelede die loop teen my voorkop gedruk het, bars daar ’n sarsie koeëls los. Met ’n slag wat herinner aan ’n Wilde Weste skietgeveg tref dit eers die geiser, ’n hele paar meter vanwaar ek steeds verstom vasgenael gestaan het, en toe skram dit weg badkamer toe. Na verskeie hoppe het die koeëls tot ruste gekom in die bad.

“Ek kon myself vrek geskiet het,” mompel ek toe senuweeagtig na my weerkaatsing in die spieël.

’n Paar oomblikke later kom ek egter tot my sinne. Wat was werklik die moontlikheid dat ’n klein, harde plastiek koeëltjie eers deur my kopvel kon penetreer, dan deur my skedel, om homself uiteindelik te kon verdiep in my verwarde grysstof? Die redelike gevolgtrekking word toe gemaak dat ek myself kon beseer het, maar dat meer noodlottige gevolge onwaarskynlik was.

Eers omtrent ’n uur later dink ek toe aan die kort beriggie wat moontlik sou verskyn in ’n plaaslike koerant, as ek wel in ’n hospitaal moes opeindig sodat dokters ’n stukkie plastiek uit my voorkop kon verwyder: “’n Dertigjarige man het laat gisteraand, nadat hy ’n telefoongesprek met sy loopbaangerigte ouer suster gevoer het, ’n onsuksesvolle poging aangewend om selfmoord te pleeg met ’n speelgoedpistool. ’n Klein, plastiek koeëltjie het in sy voorkop vasgesit vanweë die poging, en die man is kort daarna in die hospitaal opgeneem om dit te laat verwyder. ’n Verpleegster sê dat hoewel hy in ’n bestendige toestand is, die fisiese en emosionele letsels van die insident moontlik sigbaar sal vertoon tot hy sy middeljare-krisis tref in ’n dekade of so.

Oortuig daarvan dat ek ’n tweede kans op die lewe gegun is, gooi ek toe die speelding terug in die laai, en sweer daar en dan geweld af as ’n manier om my pad in die lewe te vind. Ek het die verbryselde oorblyfsels van die amper vervloekte koeëls bymekaargemaak, en soos ek die stukkies in die asdrom gooi, kon ek sweer ek hoor hoe die boks ontbytpap net so effens agter die bottel koffie uitskuif.

______________________

Oor “Harte” en die lewe

MAANDAG 18 JUNIE 2001

Microsoft Hearts in Windows 7

My strategie vir die kaartspel “Harte” is op die oog af teenstrydig met die doelwit van die spel. Dit lyk aanvanklik asof ek afstuur op selfvernietiging – net ter wille daarvan om myself te vermaak, terwyl die ander spelers besig is met ’n ernstige spel. Teen die tyd wat die ander spelers egter besef dat ek besig is om ’n spel – waarvan hulle my nie as ’n ernstige deelnemer beskou het nie – te wen, is dit te laat. Hulle pogings om hulle eie posisies te red is dan reeds gedoem, en ek is op pad na ’n skitterende oorwinning, behaal op ’n onortodokse wyse.

Dit moet egter genoem word dat ek nie hierdie onkonvensionele strategie met elke rondte volg nie. Sodra ek sien dat ek nie ’n spesifieke rondte gaan wen op my manier nie, verander ek my strategie. Ek is dus pragmaties genoeg om nie my werklike oogmerk te verslaan ter wille van om anders te wees nie.

Hierdie benadering tot die spel verg durf, en amper oordadige vlakke van selfvertroue. ’n Mens moet ook aanvaar dat jy gaan verloor van tyd tot tyd, en dat sulke tye hanteer moet word met soveel grasie as ’n oorwinning.

Aan die einde kan dit gesê word dat ’n oorwinning behaal op jou eie manier en teen die verwagtinge van die ander spelers veel meer vervullend is as om die spel te wen volgens beide die gesproke en ongesproke reëls en konvensies.

As jy egter verloor, keer op keer, deur jou eie onortodokse metodes te volg, is dit gewoonlik ’n goeie idee om jou primêre doelwit, en so ook jou metodes, te heroorweeg. Die illusie van selfvernietiging is immers – en dit moet nooit uit die oog verloor word nie – veronderstel om slegs ’n illusie te wees.

______________________

Hoe die kragte dans

VRYDAG 1 JUNIE 2001

Dat alles om mag wentel, is een van die belangrikste dinge wat ek geleer het op die bedrieglike pad na volwassenheid. Hierdie waarheid geld nie net op die politieke en ekonomiese terreine nie, dis net so geldig op die terrein van persoonlike verhoudings.

Enige persoon wat ooit gelukkig genoeg was – of ongelukkig, hoe dit ook al sy – om in ’n intieme verhouding met iemand anders te kon wees, sal vir jou kan sê dat beide partye altyd geweet het waar hulle staan in die magsbalans. In die ideale verhouding is albei partye natuurlik gelyk, selfs al is die een soms in ’n beter emosionele toestand as die ander, en derhalwe beter in staat daartoe om sake, vir die oomblik, te dikteer. Maar die feit dat die party in beter gemoed elke nou en dan wissel, bevestig die basiese gelykheid van die twee partye.

Hierdie beginsel geld ook vir vriendskappe. Daar mag tye wees wat die een vriend meer in beheer is van ’n situasie, en meer oortuig is van hom- of haarself. In sulke gevalle sal die ander vriend amper instinktief die onderdanige posisie inneem. Hierdie rolle kan verander so gou as wat die onderwerp van bespreking verander, of wanneer ’n situasie ontwikkel waarmee die een persoon meer gemaklik is, of wat hy of sy met meer selfvertroue kan benader.

Dieselfde verskynsel manifesteer ook op subtiele wyses in sosiale omgang tussen vreemdelinge. Wanneer twee mense mekaar vir die eerste keer ontmoet, sê by ’n braai of by ’n drink-en-dans ruimte, onderneem die brein ’n spoed profiel samestelling. Feite word gesoek en gerangskik in ’n voorlopige begrip van magsbalans. Is die persoon vriend of vyand? Is hy cool, of is hy ’n loser? Is sy iemand wie se naam ek behoort te onthou, of moet ek net haar hand papperig skud terwyl ek oor haar skouer soek na iemand wat my belangstelling meer prikkel?

Afhangende van die voorlopige antwoorde op hierdie vrae, besluit ons waar ons staan met hierdie vreemdeling. As die persoon gereken word as ’n nie-bedreigende, potensiële vriend wat die indruk skep dat hy of sy weet watter woorde om in watter konteks te gebruik, dan word die volgende stel vrae opgestuur na die Hoër Orgaan toe: Moet ek hom/haar as ’n gelyke behandel, of as iemand wat ek nie sal omgee om saam te sleep as ’n bewonderaar nie? Of, moet ek my bes probeer om hierdie persoon se guns te probeer wen omdat, a) die persoon meer weet as ek, b) meer ervaring het as ek, c) iets het wat ek wil hê, of d) ek die persoon beskou as my meerdere om al drie redes en nog ’n paar ander?

Jy mag dalk dink dat hierdie hele denkproses die grootste deel van ’n minuut opneem, maar in vele gevalle is al hierdie vrae reeds beantwoord teen die tyd wat die handdruk verby is, of die kop ophou knik. Die faktore wat die antwoorde van hierdie vrae bepaal sluit in voorkoms, die intensiteit van ’n glimlag, die entoesiasme of afwesigheid daarvan wanneer die ander persoon gegroet word, mense saam met wie jy of die ander persoon is wanneer julle aan mekaar voorgestel word, of enige inligting wat die persoon oor jou beskik het voordat hy of sy jou persoonlik ontmoet het, of inligting wat jy oor die ander persoon beskik.

In sommige gevalle is dit moontlik dat ’n aanvanklike swakkerige beskouing van jou verander sodra die ander persoon sekere dinge oor jou wysraak. As die persoon byvoorbeeld moet uitvind dat jy ten spyte van jou eksentrieke voorkoms, sal ons maar net sê, finansieel baie gemaklik is, sal jy heel moontlik ’n onmiddellike houdingsverandering teëkom op jou terugkeer van die badkamer af.

Natuurlik kan die teenoorgestelde ook gebeur. Jy mag dalk reken jy’t ’n blywende indruk gelaat met die fyn sinchronisasie tussen kleredrag en fantastiese mites wat jy oor jouself versprei het, maar teen die derde keer wat jy iemand raakloop wat aanvanklik gedink het jy’s ’n held, vind jy tot jou ontsteltenis dat die persoon intussen onder ’n sterker figuur se vlerk ingekruip het. Of miskien het jy te veel geleun op jou staaltjie van die tyd toe jy en ’n lid van die onttroonde Birmaanse koningshuis gevlug het deur die oerwoud van Viëtnam, net om te vind julle is in werklikheid in Thailand, en dat hy jou persoonlik verantwoordelik hou vir die feit dat hy malaria het. “Van wanneer af het almal sulke stories?” sal jy wonder, terwyl jy die vertrek deursoek na ’n nuwe groep mense om te beïndruk.

Dit is helaas, nie net die onaantasbares van Indië wat ’n stryd voer met ’n kastestelsel nie. Alle gemeenskappe het hiërargieë en klasse wat kruis-en-dwars oormekaar vleg. Almal, van die rykstes tot die armstes, van die koelste boekhouer tot die verveligste popster, moet probeer byhou met wat hulle plek bepaal op die magshiërargie in die omgewings waarbinne hulle hulself vertoon.

Iemand moet eintlik ’n sproei ontwerp wat ’n mens oor ’n sosiale bymekaarkoms kan spuit om werklike opinies en vlakke van respek wat mense het vir dié rondom hulle, bloot te lê. ’n Paar geheime bewonderaars mag dalk ontmasker word, maar die kanse is aansienlik beter dat ’n paar opgeblase ego’s die nietigheid in geprik sal word.

______________________