Krapmerke van volwassenheid

DINSDAG 18 NOVEMBER 2003

Die sogenaamde “benchmarks of adulthood” is trou en huiskoop. Volgens hierdie standaard is ek nog ’n kind, vasgevang in die lyf van ’n volwasse man. Sekerlik sal ek een of ander tyd die “benchmarks” tref. Die vraag is, sal ek dan meer soos ’n volwassene voel as wat nou die geval is?

Dis vreemd hoe ek amper daarna uitsien om groot te wees, om uiteindelik, na jare as ’n kind-man vasgevang in my eie vreemde wêreld, te kwalifiseer as ’n volwaardige volwassene in die oë van die gemeenskap. Sal ek ’n motorkar hê? Ek sal sekerlik ’n huis hê. Miskien sal ek selfs elke dag moet skeer! Ek sal ook gras moet sny. Ek sal natuurlik – uit die aard van die saak, want dis ’n vereiste – getroud wees.

My “vrou” sal my voorstel aan mense as haar “man”. Ons sal op Saterdagoggende gaan inkopies doen, ek in ’n ou T-hemp en heel moontlik ongeskeerd (siende dat dit naweek is). My “vrou” sal gevriesde groente en vars vrugte in die waentjie gooi, en die gevriesde pizzas en vars doughnuts uithaal wat ek ingegooi het. Miskien sal ons kerk toe gaan elke Sondag – ek natuurlik skoongeskeer, met ’n netjiese pak klere aan.

Op Sondagmiddae sal ons by vriende kuier, soos ordentlike volwassenes tee drink uit koppies met bypassende pierings, en gesels oor wat die vorige week gebeur het by die “werk”. Na die geselsies sal ons weer in ons motorkar klim. My “vrou” sal die bestanddele van ’n resep met die ander vrou bevestig, en dan sal ek een of twee keer liggies op die toeter druk soos ons wegry, met ’n enkel arm waaiend uit die venster.

Ai. Hoe lekker klink dit nie om groot te wees nie. Ek wonder net, sal dit orraait wees as ek net elke derde dag skeer? En is daar ’n kans dat ons kan onderhandel oor die grassnyery?

______________________

Money is important

MAANDAG 3 NOVEMBER 2003

[Wat maak ’n mens as jy iets reeds honderd keer gesê het, maar dit nog ’n keer wil noem, miskien met een of twee addisionele opmerkings? Jy skryf dit in ’n ander taal. Die ander rede hoekom ek hierdie stuk in Engels geskryf het, is omdat “onkundige lyfeiene” nie so lekker beledigend klink soos “ignorant serf” nie.]

_____________________

To say money is important is the same as to say “It’s cold” when you’re standing stark naked in two feet of snow in sub-zero temperatures. Both are absurd understatements that disregards the severity of the actual situation.

The importance of money cannot and should never be underestimated. But to stop at the realisation of the importance of money would be to only acknowledge half the truth. To remain caught up in the singular pursuit of money when you’re not engaged anymore in a daily struggle for survival is to be an ignorant former serf, too recently released from his servitude to know any better.

I can go one step further. Being in a position to afford more noble and/or creative pursuits in terms of both time and money, and to not pursue them, is indeed to be the most pathetic class of serf imaginable – one in seemingly perpetual mental servitude. And this applies not only to “those rich folks up on the hill”. It is equally valid for the average citizen who wastes his or her life while in actual fact being capable of a life worthy of being called human.

______________________

Nie desperaat genoeg om ryk te word nie

DINSDAG 28 OKTOBER 2003

Ek is nie desperaat genoeg om ryk te word nie. En ek bedoel nie om te sê dat hierdie verlangde toestand moet arriveer op die oomblik wat ek die laaste kleingeld uit my broeksak trek nie. Nee, hierdie desperaatheid moet kom wanneer mens sit met ’n hele lys vol aksies wat jy kan neem, items wat jy kan koop, en ’n aantal verbeteringe wat ’n mens net kan aanbring wanneer jy sit met werklike harde valuta in die bank.

Daar is geen twyfel daaroor dat nóú die tyd is om ryk te wees nie. As jy nie ’n terroris is nie, het jy bykans onbeperkte geleenthede om oral in die wêreld te reis. Die welgestelde man of vrou kan ook op eindelose inkopietogte gaan om ’n verskeidenheid produkte te versamel wat elke behoefte waaraan hulle kan dink, kan bevredig. Hulle kan natuurlik ook lede van die teenoorgestelde geslag, of watse geslag hulle ook al verkies, na hulle toe aantrek.

Ekself volg nie juis mode nie, en ek is geen toegewyde dissipel van die verbruikerskultuur nie. Maar indien welstand onverwags op my moes neerdaal, sou ek wel vir myself koop ’n paar nuwe hemde en miskien ’n nuwe langbroek (my enigste ordentlike broek is versier met veelkleurige spatsels verf). Ek sal ook vir my ’n nuwe rekenaar koop, en ’n nuwe fiets. En dan sal ek Japan toe vlieg, ekonomiese klas, ten spyte van die feit dat ek ’n meer gesogte sitplek sal kan bekostig. Om op so ’n vakansie te kan gaan sal beteken dat ek inderdaad ’n mate van vryheid van beweging bereik het wat tot nou toe net verbeel is tydens periodes van intense rus. Ek sou ook Suid-Afrika toe kon gaan vir ’n paar dae om my voorrade van ordentlike toiletpapier aan te vul, ’n paar bottels Steers knoffelsous te koop, en ’n paar tydskrifte waar ek nie twee Engels-Chinese woordeboeke hoef te raadpleeg net om die titel te verstaan nie.

Nou is nie net die tyd om ryk te wees nie, dit is ook die tyd om ryk te word. Tegnologie wat voorheen buite die bereik van gewone mense was, is in vele gevalle nou so maklik verkrygbaar as ’n nuwe hemp, en nie noodwendig veel duurder nie. Dit het ’n mantra geword wat ek gereeld resiteer vir almal binne hoorafstand dat dit nou minder nodig is as ooit tevore om jou arbeid aan die hoogste bieër te verkoop, asook om jou keuses van kleredrag en jou vryheid van spraak, denke en beweging aan korporatiewe goedkeuring te onderwerp. Inligting oor spesifieke metodes, vaardighede en truuks is oral beskikbaar vir die korporatiewe lyfeiene wat ’n entrepreneuriese ontsnapping beplan, of vir die rebel wat tot dusver onaangeraak is deur die fascistiese kloue van korporatiewe instellings.

Om te soek na hierdie inligting en dit te vind is een ding. Die maagdelike entrepreneur moet ook sy of haar manier van dink oor dinge sorgvuldig analiseer, heroorweeg, en verander waar nodig. Hulle moet verstaan dat om vrye, skeppende werk te doen onder ’n mens se eie beheer selfdissipline vereis, en ambisie, en vertroue in jou vermoëns en talente – en ’n eerlike beskouing van jou swakhede. Dit vereis dat die aspirant-suksesvolle entrepreneur lang ure sal moet werk – amper soos in ’n korporatiewe omgewing, maar hopelik by die huis, in klere tien keer gemakliker as ’n langbroek-das-en-baadjie of ’n stywe rompie, met musiek van sy of haar keuse wat die luggolwe vul wat voorheen besoedel was deur die gille en getjank van korporatiewe gesagsfigure.

Al hierdie nuttige brokkies advies is nie wat ek bedoel het om te sê in hierdie spesifieke stuk nie. Ek wou bloot ’n platform skep om my opinie te lug dat ek nog nie desperaat genoeg is om ryk te word nie. Ek is goed bewus van beide swakhede en sterkpunte wat ek as entrepreneur sal vertoon. Ek is ook baie stoïes – in geval dit handig te pas kom (ek eet ontbytpap selfs wanneer ek geblikte tuna het in my kosboks), en die feit dat ek onwillig is om met mense te sosialiseer, beteken nie dat ek dit nie selfdissipline kan noem nie.

Wat ek egter nodig het, is die begeerte wat brand in ’n man wat pas teruggekeer het na die stad ná jare in die woestyn, wetende dat hy enigiets en alles wat hy gemis het die laaste dekade kan kry as hy net sy hande kan lê op genoeg van die plaaslike geldeenheid. Dit – is wat ek nodig het.

______________________

Produktiwiteit en die leuen

MAANDAG 20 OKTOBER 2003

Die primêre motiverings agter die keuses en aksies wat my daaglikse lewe definieer, is – soos ek vroeër vermeld het – die konsep van PRODUKTIEWE BENUTTING VAN LEWE TERWYL DIT IN JOU ARE VLOEI, en ’n gepaardgaande RENONS IN DIE LEUEN.

Vele sal die idee wil propageer dat om soveel as moontlik geld te maak ’n pragtige voorbeeld van PRODUKTIEWE BENUTTING is. Ek glo egter dat dit eers as sulks sal kwalifiseer as jy iets dóén met die geld wat sal lei tot betekenisvolle verbetering aan jou eie en verkieslik ook ander se lewens.

Om net baie geld te maak, en jouself dan toe te spits op genot en vermaak, is per definisie ’n MORS VAN LEWE TERWYL DIT IN JOU ARE VLOEI. Dit kan ook op ’n sekere vlak, en as die resultaat van ’n argument wat ek nie nou gaan voer nie, bestempel word as ’n LEUEN.

______________________

Een/nul, en hoekom een beter is

SONDAG 12 OKTOBER 2003

Soms maak iemand ’n keuse, en dit kan net beskryf word as die slegter een van, kom ons sê twee, opsies. Wat betref hierdie persoon se besluit, het ek ook ’n keuse: om óf te probeer verstaan hoekom die persoon die spesifieke keuse gemaak het, óf om nie te probeer verstaan nie.

As ek daarin slaag om te verstaan hoekom iemand die slegter een van twee keuses gemaak het en dit dan so verduidelik aan ’n derde party, is laasgenoemde soms geneig om te sê, “Maar dis nie ’n verskoning nie,” en dat ek die persoon verdedig.

My antwoord is dan dat net omdat ek verstaan hoekom iemand ’n slegte keuse gemaak het, nie skielik die keuse minder sleg maak nie. ’n Slegte keuse is ’n slegte keuse, of jy verstaan wat die persoon gemotiveer het, of nie. Maar ek glo ook dat die keuse om nié te wil verstaan hoekom iemand ’n slegte keuse gemaak het nie, óók die slegter een van twee opsies is.

______________________