Brousel vol gedagtes

MAANDAG 28 JUNIE 2004

00:02

Kinders is die maklikste “resultaat van ’n lewe” om te produseer. Die moeilike deel kom daarna.

00:09

Ouers laat – in die ideale ouer-kind scenario – kinders agter as ’n resultaat. Besigheidsmense laat profyt en besighede agter. Entrepreneurs en uitvinders laat produkte agter. Kunstenaars laat kuns agter. Skrywers laat boeke agter. Argitekte laat geboue agter. Siviele ingenieurs laat infrastruktuur agter. Rewolusionêre laat ’n nuwe politieke bestel agter.

En dan is daar die rewolusionêr wat ook kinders agterlaat, die uitvinder wat kinders én profyt agterlaat, die skrywer wat ook ’n suksesvolle onderneming opbou waarby ander kan baat tot lank nadat hy aanbeweeg het …

______________________

Bewys die SELF – formule en resultaat

SONDAG 27 JUNIE 2004

Bewys jou … nee, bewys die SELF

Twee dosyn uitlanders sit om tafels vol bier en kos, oë gefokus op ’n groot skerm met lewendige rugby-aksie. Die uwe sit so te sê met sy neus teen die skerm, sy mond vol vars pizza toe hy reken: “Dis goed om weer tussen mense te wees. The proof of the pudding is, after all … nee wag, the proof of self is, after all, in the eating … ook nie, the proof of self is in appearing!”

Die formule wat lei tot resultaat

Wat is die verskil tussen my en Josef Stalin, of tussen my en Bill Gates? Die verskil is resultate van ons lewens.

Ek, Josef Stalin, en Bill Gates was al drie gebore in partikulêre plekke, op partikulêre tye, in gemeenskappe met partikulêre behoeftes. As Stalin in 1979 gebore was in plaas van 1879, in dieselfde dorp in Georgië, met ’n relatief soortgelyke huislike agtergrond (aangepas vir 1979 werklikheid), sou sy lewe ander resultate opgelewer het. Dieselfde kan gesê word as ek in 1771 gebore was, en nie in 1971 nie. Die belangrikheid van noodlotsdata – waar jy gebore is, wanneer, en as wie se kind, asook gebeure later in jou lewe waaroor jy geen beheer het, of gehad het nie – asook die behoeftes van die gemeenskap kan NOOIT onderskat word as bydraende faktore tot die eindresultate van ’n partikulêre mens se lewe nie.

Die enigste ander faktor wat ’n betekenisvolle rol speel, is keuses. Stalin het gekies teen die pad wat sou gelei het daartoe dat hy ’n priester sou word, en gekies ten gunste van aansluiting by Lenin en die Bolsjewiste. So ook het ek byvoorbeeld gekies teen watse betrekking ek ook al in Suid-Afrika kon losslaan, en gekies ten gunste van English teaching in Taiwan om myself aan die lewe te hou. Die keuses wat Josef Stalin gemaak het, het ’n dramatiese invloed gehad op wie en wat hy geword het, en op die resultate wat hy bewerkstellig het van sy bestaan. Die keuses wat ek sover in my lewe gemaak het, het ook ’n dramatiese invloed gehad op wie ek is op die huidige oomblik, en op die resultate wat ek sover bewerkstellig het van my bestaan.

Die volgende formule kan dus voorgestel word: RESULTAAT VAN JOU LEWE = NOODLOT + BEHOEFTES VAN DIE GEMEENSKAP + PERSOONLIKE KEUSES.

______________________

Oor wedergeboorte, en ’n “nuwe” SELF

[’n Term het teen hierdie tyd my bewussyn binnegedring wat my so opgewonde gehad het dat ek amper een middag vriendelik was met ’n taxibestuurder. Voor ek egter voortgaan om dit te gebruik, laat my toe om weereens die betekenis toe te lig.

Die “gegewe self” is ’n handige term om die betekenisvolle invloed te beskryf van sekere faktore – soos genetika, kulturele agtergrond, taal, en tyd en plek van geboorte – op wie en wat ’n individu is, lank voor hy of sy groot woorde leer soos “identiteit”, “selfbewussyn”, of “doel van my bestaan”. Die “gegewe self” is dus ’n persoonlike realiteit jare voor die individu kritiese vrae begin vra soos “Wie is ek?” en “Wie wil ek wees?”]

VRYDAG 25 JUNIE 2004

Om ’n vlak van persoonlike ontwikkeling te bereik wat ek noem VERLIGTING, moet die gegewe aspekte van wie en wat jy is eers gekonfronteer en tot ’n groot mate aanvaar word. Die GEGEWE SELF kan egter nooit ten volle vervang word met die VERLIGTE SELF, of enige ander vorm van die self wat beskou kan word as meer “eie” en derhalwe meer “eg” nie. Die GEGEWE SELF – of dan aspekte daarvan – bestaan tot die oomblik van fisiese dood.

* * *

Die Gegewe Self – die produk van onder andere noodlotsfaktore soos geslag en tyd en plek van geboorte, en sterk beïnvloed deur die persoonsmodel wat voorgehou word as die mees toepaslike in ag genome noodlotsfaktore en kulturele waardes en behoeftes van die gemeenskap – kan gemanipuleer word volgens alternatiewe persoonsmodelle.

Een voorbeeld wat genoem kan word is die jong vrou van ’n konserwatiewe familie, wat in haar vroeë twintigs haar huis op ’n klein plattelandse dorpie verlaat vir die groot stad waar sy haarself na ’n paar jare transformeer in ’n flambojante aktrise. ’n Meer radikale voorbeeld sal wees die persoon wat gebore is as ’n man, ’n geslagsoperasie ondergaan, trou, en die res van sy/haar lewe slyt as ’n vrou. ’n Minder dramatiese voorbeeld is die geval van ’n man, afkomstig uit ’n Calvinistiese familie, wat op ’n stadium gereken is as iemand wat die spirituele behoeftes van sy gemeenskap sal dien as ’n prediker, wat as ’n volwassene sy geboortegrond verlaat om heil (en verbeterde identiteit) te vind op ’n ander kontinent, met beelde van ou filosowe en afgestorwe skrywers wat dien as sy alternatiewe self-modelle.

Wat gebeur is dat die individu die gegewenheid van wie en wat sy is, konfronteer. As hierdie eksistensiële oomblik bereik word, kan die persoon weereens kyk na die wêreld om haar, en haarself (weereens) twee vrae vra, “Wie is ek?” en “Wie wil ek wees?” Fisiese beperkinge van die Oorspronklike, of dan Gegewe Self wat nie verander kan word nie, asook partikulariteit van ontstaan (tyd en plek van geboorte, asook sosio-ekonomiese agtergrond, en so meer), moet noodwendig aanvaar word.

Die oomblik wat die persoon die punt bereik wanneer sy verklaar dat sy haar gegewenheid sien, wanneer sy aanvaar waaroor sy nooit ’n keuse gehad het nie en wat sy (werklik) nie kan verander nie (ongeag of sy wil of nie), kom sy te staan voor ’n nuwe waardering van haarself in haar partikulêre omgewing – MITS sy glo aan die potensiaal om haarself te kan transformeer, al is dit steeds binne die raamwerk van werklike gegewe beperkinge.

* * *

Om gegewenheid te konfronteer, te erken, en te glo aan die asemrowende moontlikhede wat binne die bereik is van ’n redelik intelligente persoon, is onontbeerlike bestanddele van die Proses van Wedergeboorte – en moontlik, maar nie noodwendig nie, die geboorte van die VERLIGTE SELF.

* * *

Terloops, wat beteken dit as iemand sê hy’s ’n “wedergebore Christen”? Dit beteken dat hy sy “ou self” “gekruisig” het, met ’n “nuwe self” wat die plek van die oue inneem. Dit word uit die aard van die saak veronderstel dat die “nuwe self” beter is, skoon van die “sonde” van die “ou self”. Die geloofsgemeenskap verwag ook dat hierdie persoon – die nuwe bekeerde – sy “nuwe self” moet wéés, om geloofwaardigheid te verleen aan sy aanspraak op “wedergeboorte”. Filosofies, en literêr, is dit briljant, en kleurvol …

______________________

Die GEGEWE SELF, en die rol van intellektuele

VRYDAG 25 JUNIE 2004

(Hoe min kan mens van jouself weet, en nog steeds funksioneer, as ’n volwasse mens, binne die grense van wat as “normaal” gereken word deur die gemeenskap?)

Sonder mense kan geen gemeenskap staande bly nie. Sonder voldoende getalle mans en vrouens, en mense met verskillende talente en vermoëns, kan geen gemeenskap gesond bly en vooruitgaan nie.

Die Gemeenskap – die liggaam van mense wat ’n stel kulturele, linguistiese en ander waardes deel op ’n partikulêre plek – verskaf aan die individu ’n soms voorlopige maar nietemin werkbare identiteitsmodel/self-model wat saamgestel is uit noodlotsdata, kulturele data, en soos die jare aanstap, behoeftes van daai partikulêre gemeenskap in daai partikulêre tyd. Meeste mense aanvaar hierdie GEGEWE model van wie en wat hulle is – tot verskillende grade, maar die vereiste minimum kwota word behaal onder die bevolking vir die gemeenskap om ten minste staande te bly.

Wat dan gemaak met mense wat skepties is, en krities, wat alewig rondkrap vir antwoorde op wat vele reken onnodige vrae is; mense vir wie dit oënskynlik ’n lewenslange strewe is om die formules te ontdek van hoe dinge werk, mense wat nie dinge wil aanvaar soos dit tans is nie? Die Gemeenskap kan uiteindelik nie staande bly sonder ook die bydrae van hierdie mense nie – insluitende sommige wetenskaplikes, sielkundiges, sosioloë, historici, filosowe en akademici uit ander velde, skrywers, digters, kunstenaars en musikante.

Die primêre bydrae van hierdie individue is om voortdurend aan mense idees te bied waardeur hulle moontlik ’n beter begrip kan ontwikkel oor hul eie bestaan. Hierdie individue moet ook dien as teenwig vir irrasionele groepspolitiek, en verwante destruktiewe bewegings wat in onseker tye aan mense ’n vaster begrip gee van wie en wat hulle is, van wat hulle rolle in die gemeenskap behoort te wees, en van die waarde en betekenis van hulle lewens. Natuurlik is daar intellektuele wat juis sulke destruktiewe idees die wêreld injaag. Vir presies hierdie rede is dit belangrik om konstruktiewe idees te bevorder, en die advokate van hierdie idees aan te moedig.

Intellektuele neem dit dan op hulleself om die lede van die breë gemeenskap bewus te maak van die destruktiewe aard van sekere opvattings, ideologieë en verwante bewegings. Hulle speel ook ’n leidende rol in die voortdurende proses waardeur onderskeid getref word tussen dit wat Beskaafde Gemeenskap staande hou in grond vrugbaar vir groei en vooruitgang, en wat dit by die nate laat lostrek.

———–

[Hoeveel verstaan die “gewone” man of vrou op straat reeds van wat hulle gemeenskap by die nate sal laat lostrek, en op watter punt moet die Intellektuele Voorhoede in die Stryd vir Gesonde Gemeenskap op die seepkassies spring?

Ek glo dat as meeste werkende volwassenes te besig is om sogenaamd meer akademiese vraagstukke soos byvoorbeeld die verhouding tussen taal en “waarheid” te bepeins, hulle heel moontlik ook te besig sal wees om Rome om hulle te sien val – wat soos meeste mense weet, nooit in een dag gebeur nie.

Intelligensie is nie wat hier ter sprake is nie – ’n mediese dokter is nie noodwendig slimmer as ’n chemiese ingenieur net omdat hy verstaan hoekom laasgenoemde se maag aanhou pyn nie. So ook met die Intellektuele Voorhoede, wie se belangstellings, en passie vir sekere sake hulle oë beter instel daarop om dinge raak te sien voor dit pynlik sigbaar is vir almal, en moontlik te laat is.]

______________________

Identiteit, die SELF, en die resultaat van alles

WOENSDAG 23 JUNIE 2004

Vier jaar gelede het ek ook aan myself gedink as ’n skrywer, maar op ’n daaglikse basis, van opstaan tot slaap, was ek vir alle praktiese doeleindes my inkomste genererende professie. Wat was hierdie inkomste genererende professie? Ek was ’n Engelse onderwyser wat, in alle eerlikheid, meestal misluk het in die taak wat ek gehuur was om te doen, vyf dae uit elke week. Ek het aan myself gedink as ’n skrywer, en ek hét geskryf (die hele “Persoonlike Agenda: Boek EEN” is ’n bewys daarvan), maar ek het nie die oortuiging gehad oor myself en my identiteit wat ek nou het nie. Ek was, tot ’n groot mate, ’n onvervulde, gefrustreerde persoon omdat ek onvervuld en gefrustreerd was in my beroep.

Vyf honderd jaar gelede in Europa – tydens die pre-industriële era – was die posisie van die familie in die feodale hiërargie een van die belangrikste bepalers van persoonlike identiteit, ten minste sover dit die gemeenskap aangegaan het in wie se midde die persoon hom- of haarself bevind het. Die arbeidsrol wat ’n persoon vervul het (indien dit enigsins nodig was dat hy of sy enige arbeid moes verrig), was ook gekoppel, tot ’n betekenisvolle graad, aan geboorte.

Dit kan dus gesê word dat identiteit, in die Europa van 500 jaar gelede, hoofsaaklik gedikteer is deur noodlot – waar die persoon gebore is, en die posisie wat sy of haar familie beklee het in die feodale hiërargie, en ook deur die behoeftes van die gemeenskap – wat tesame met noodlotsdata, die persoon se arbeidsrol bepaal het.

Sedert die ontdekkingsreise, en die gevolglike ekonomiese, politieke, wetenskaplike en industriële rewolusies, het professie ingetree as ’n addisionele, en kardinale bepaler van identiteit. Die mens wat sy of haar bestaan slyt in die geïndustrialiseerde wêreld het tot ’n mate ’n keuse van watter rol hulle wil speel in die gemeenskap, watter spesifieke behoeftes van die gemeenskap hulle wil vervul, en selfs waar hierdie rol gespeel en die behoeftes vervul sal word, of dan in watter gemeenskap. Finansiële mag kan genoem word as ’n verdere faktor wat mense se beskouing van hulself affekteer, asook hoe hulle hul identiteit definieer. Geld is ook ’n groot gelykmaker – verhale van mense wat in slote gebore was en in paleise opeindig is wel steeds raar, maar dit gebeur.

As dit kom by die vraag na wie jy is, kyk meeste mense dus steeds na die kaarte wat aan hulle uitgedeel is – plek van geboorte, geslag, voorkoms en talente, sosio-ekonomiese status van familie, en spesifiek in die geval van volwassenes, ook na professie – wat status en rol in die gemeenskap definieer.

Meeste van bogenoemde gedagtes was voorheen genoteer in hierdie literêre projek, so wat is die punt daarvan om dit weer te noem?

Dit was tot onlangs vir my ’n private plesier om te glo ek wys die “waarheid” uit aan mense wat miskien geglo het ’n goeie werk en baie geld is die beste waarna hulle kan strewe in die lewe. Ek wou sulke mense nader roep, ’n antieke trommeltjie oopsluit, en binne in sou hulle dan ’n Groter Waarheid sien: “Jy ken nie jou WERKLIKE self nie! Wat jy op hierdie stadium van jou lewe is, is net ’n resultaat van noodlot, omgewing, en gebeure wat jóú lewe onderskei van die volgende persoon s’n. Jy leef onder die illusie dat jy weet wie jy is; ’n illusie wat jou nietemin in staat stel om te funksioneer as ’n Mens-in-Hierdie-Tyd-en-Plek.”

Die bedoeling was dat eers wanneer ’n mens in jou eie siel terugkyk en jou “ware self” identifiseer, kan jy aanspraak maak op volle mensheid, op die feit dat jy (uiteindelik) weet wie jy “werklik” is. Ek het gereken dat om jou “ware self” te ontdek – of dan te definieer – die Groot Prys is aan die einde van ’n lang, en baie persoonlike reis.

Nuwe insigte het egter bogenoemde beskouing begin ondermyn. (Ook hierdie vars insigte is reeds genoem, maar siende dat dit immers die onderwerp aanspreek van die waarde van ’n enkele menslike lewe, reken ek dis in die haak om weer die saak aan te raak.) Wat, sou ek dan reken, is belangriker as die ontdekking en definiëring van die “ware self”? Die antwoord: RESULTATE VAN JOU LEWE.

Ons almal arriveer as klein bondels vlees en bloed op hierdie planeet, ons gil ons mensheid uit aan almal wat wil hoor, raak ouer en groter, en uiteindelik breek die dag aan wat ons weer die toneel verlaat. Die vraag, aan die einde, behoort nie te wees of jy bestaan en gefunksioneer het as jou Eie Ware Self nie, maar watse resultate jy agterlaat van jou tyd op aarde.

Het jou lewe meer positiewe as negatiewe resultate opgelewer? Sal die wêreld ’n sug van verligting slaak wanneer jy jou laaste woorde uiter? Het jy net daarna gestreef om jou eie behoeftes te vervul, en so lank as moontlik so gelukkig as moontlik te wees? Is dit belangrik vir jou om positiewe resultate van jou bestaan agter te laat? Wat ís positiewe resultate? Hierdie is vrae wat elke persoon vir hom- of haarself kan, en behoort te beantwoord.

Ek het ’n paar beginsels ontdek en ’n paar maatreëls geïmplementeer wat dit vir my moontlik maak om as ’n redelik normale volwassene te kan funksioneer in die tyd en wêreld waarin ek gebore is. Ek het ook ontdek dat die lewe buite my woonsteldeur tot ’n groot mate ’n spel is, en dat as jy die reëls kan ontsyfer en jouself tot ’n bevredigende graad kan versoen daarmee, jy moontlik ’n gelukkige lewe kan lei, en aan die einde sal kan verklaar dat jou lewe die moeite werd was.

Tog, as ek kan kies, sal ek my lewe wil leef as ’n bewustelike poging om meer positiewe resultate as negatiewe resultate te bewerkstellig wat ek kan agterlaat, eerder as net om te weet ek was gelukkig en my lewe was die moeite werd, of selfs dat ek geslaag het daarin om my “ware self” te vind. (Wat is die waarde van ’n hoogs ontwikkelde bewussyn van jou eie self, as dit nie uiteindelik positiewe resultate oplewer van jou tyd op hierdie planeet nie?)

Kan ’n mens verder gaan en vra na die resultate van elke dag? Elke week? Goed dan, die gemiddelde resultate van elke jaar? Kan ’n mens “positiewe resultate” koop kort voor die einde van jou lewe? Wie bereken die kwaliteit van die resultate? En wat is die moontlikheid dat die mooiheid van ’n enkele dag of selfs ’n enkele oomblik verlore kan gaan in die gejaag om ’n positiewe erfenis agter te laat van jou bestaan?

Ongeag wat jy glo oor die waarde en betekenis van jou eie lewe, of oor wat die lewe vir jou die moeite werd maak, ongeag die belangrikheid wat jy heg aan resultate van jou lewe, bly een ding aan die einde staan: JOU LEWE SAL UITEINDELIK RESULTATE OPLEWER. Of hierdie resultate meer positief as negatief gaan wees, hang tot ’n baie groot mate af van jouself, en van die keuses wat jy maak op ’n daaglikse basis.

______________________