Die keer toe ek weggehardloop het vir ’n vrou in Taiwan

DONDERDAG 14 MAART 2019

01:19

Dinsdagaand staan en wag ek by ’n besige kruising in die stad. Soos die mense verby my jaag op hulle bromponies en motorfietse, dink ek hoe elke een van hierdie mense ’n storie het – waarvan jy iets kon uitvind as jy ’n minuut of twee met hulle sou spandeer.

Min sou ek geweet het hoe ek net die volgende aand ’n geleentheid sou hê om uit te vind hoe waar dit is.

11:24

So stap ek en my vrou gisteraand so sewe-uur se kant van die restaurant af waar ons aandete geniet het, na ’n dokter se spreekkamer in ons buurt waarheen sy wou gaan vir haar verkoue. Soos ons op die loopgang stap verby ’n reeks besighede, sien ek uit die hoek van my oog ’n vrou stap uit by ’n psigiater se spreekkamer. (Ek het haar opgelet want sy het vir ’n oomblik gelyk soos iemand vir wie ek vir ’n tyd lank klasgegee het.)

Ons stap toe nog ’n paar besighede aan, en kom uit by die dokter. Ek sê totsiens vir my vrou, en stap voort op dieselfde loopgang.

Nie dertig sekondes later nie, hoor ek ’n stem uitroep: “Hey!” Siende dat ’n mens min Engels hoor in die strate van Taiwan, het ek onmiddellik vermoed dat ék die teiken was van die roep. Toe ek omkyk, sien ek ’n vrou naderstap, wat baie lyk soos die vrou wat by die psigiater uitgestap het.

“Where are you from?” val sy met die deur in die huis in.

Hier moet ek verduidelik dat ek na twintig jaar in Taiwan ’n beleid het oor hierdie vraag. As jy my beleefd nader, en sê, “Excuse me, may I ask, where are you from?” sal ek jou antwoord. As jy op my skree van ’n afstand af, en dan sonder enige inleiding inligting van my eis, gaan ek jou nie antwoord nie. Of, ek gaan nie die gesprek voer wat jy gedink het ek gaan voer nie. “Where are you from?” vra ek haar toe terug.

Geen antwoord nie, net ’n herhaling van háár vraag.

“Why do you want to know?” vra ek haar toe met ’n sweempie van ’n glimlag op my gesig. “Are you the police?”

Die volgende uur en ’n half sou dit duidelik maak dat dit die verkeerde vraag was.

Sy raak toe aggressief. “Why you don’t want to talk to me?” En toe, ’n paar sekondes later, ’n meer bisarre vraag: “Why you and you wife so poor?” Hierdie vermelding van my vrou het bevestig dat sy ons saam gesien het, voor sy met my begin praat het; heel waarskynlik, soos ek vermoed het, toe ons verby haar gestap het by die psigiater. Ek ignoreer haar, en soos ek om die hoek van die gebou gaan, begin ek toe vinniger stap, nou net omtrent een minuut van ons woonstel af.

Op hierdie punt het sy wegbeweeg van my af, maar het voorgegaan om vrae in my rigting te skree van die ander kant van die straat af. “Why you look down on me?” (Interessante wending, het ek gedink: Eers was ons “poor”, en nou voel sy ek sien neer op haar.) ’n Reeks woorde wat ek nie kon uitmaak nie, het die Engels gevolg.

Nog so tien meter verder, hoor ek hoe hardloop sy nader.

Wat doen ’n man wanneer hy in die publiek is, hy op aggressiewe wyse gekonfronteer word met ’n vrou wat hy nie ken nie – wat hy toevallig gesien het by ’n psigiater se spreekkamer, en die vrou kort daarna van ’n afstand af op hom afstorm? Nie net wou ek nie aangeval word nie, ek wou nie in ’n posisie wees waar ek myself met moontlike mag moes verdedig nie.

Die welbekende advies, “Run, Forest, run!” het die afgelope paar dae in my gedagtes rondgesweef. En so hardloop ek toe maar, in my plastiek sandale, met die vrou warm op my spoor. In die waas van die oomblik hoor ek ook iets soos ’n plastiekbottel wat in my rigting gegooi word. Om een of ander rede hol ek toe nie reguit op in die straat na ons stegie toe nie, maar af in die straat agter ons woonstelgebou. Ek hoor hoe sy gil, “I’m going to call the police!” Soos ek hardloop, vertaal my onderbewuste wat sy toe verder gil in Chinees: Stop hom! Stop hom! Hy’t …

Amper aan die ander kant van die straat sien ek ’n man wat die petalje dophou. Hy kyk toe eers na haar, toe na my, en gryp toe na my arm. Ek ruk weg, en sê vir hom in Engels, “She’s crazy! Call the police!” Dit laat hom toe twee keer dink, en ek gebruik die geleentheid om verby haar te hardloop in die rigting vanwaar ek gekom het, om die hoek, verby nog ’n paar winkels, om nog ’n hoek, af in ons stegie; sluit oop die deur van ons woonstelgebou, hol op by vier stelle trappe, en bel my vrou soos ek by ons woonsteldeur aankom.

Hygend sê ek vir haar: “Daar’s ’n crazy vrou wat my nou net aangeval het in die straat! Ek dink sy’s dalk op pad na jou toe!” My vrou was onseker van wat aan die gang was, maar ek kon hoor hoe skree die vrou in die agtergrond. “Sy’s klaar daar!” waarsku ek toe.

In die woonstel sit ek toe my vrou se sop-en-kluitjies en haar bottel Coke op die koffietafel neer (“Forest” het nog ge-“run” met ’n plastieksakkie ook in sy hand), kry vir my sokkies en trek my tekkies aan – om beter te kan hardloop, en bel die polisie soos ek weer die woonstel verlaat om moontlik my vrou te gaan red. Ek gee toe vir die offisier aan die ander kant ons adres, en vertel hom van die onstabiele ene wat my aangeval het. Ek lig hom toe ook in van my kommer dat my vrou dalk haar volgende teiken gaan wees.

Nie meer as ’n minuut later nie, is ek weer in die loopgang op pad na die dokter se spreekkamer toe. Soos ek verwag ek, staan die vrou wat my gejaag het, buite die spreekkamer, nou omring deur vier polisie-offisiere. “Dis hy! Dis hy!” skree sy in Chinees, met ’n kwaai vinger gelig in my rigting. Ek stap toe kalm verby die polisie, in by die spreekkamer, en sê vir my eggenote: Dís die vrou van wie ek gepraat het.

Vir die volgende paar minute verduidelik ek toe vir die polisie – een het my klaar aan die arm beetgehad – my kant van die storie. Siende dat my vryheid – in die waarste sin moontlik – op die spel was, reken ek toe dat dit pertinent is om hulle in te lig dat haar vertelling, onwaar soos ek geweet het dit was, dalk nie ’n kwaadwillige leuen was nie, maar die versinsel van ’n gees wat dalk nie een honderd persent gesond is nie. Ek sê toe vir hulle – kom saam met my. Ons stap toe af in die loopgang in die rigting van die psigiater se spreekkamer. Daar gekom, lig ek hulle toe in, in ietwat inkorrekte Chinees, dat ek 99 persent seker is daarvan dat ek haar gesien uitstap het by die spreekkamer nie meer as een minuut voor sy my gekonfronteer het nie.

Seker noodsaaklik om te noem op hierdie punt dat ek heeltemal goed verstaan dat daar mense is met geestelike steurnisse, en mense wat lei aan chemiese wanbalanse. Ek sien nie neer op mense met gesondheidsprobleme nie – fisies of andersins. Die feit dat ek na haar verwys het as “crazy”, was nie ’n mediese diagnose nie, maar ’n eenvoudige opmerking gebaseer op haar bisarre gedrag ten koste van my in die publiek. Ek hou dit ook nie teen enige iemand indien hulle ’n psigiater wil spreek nie. Hoekom sou ek? Sien ek neer op my vrou wat ’n dokter wil sien vir haar hoes en seer keel? As ’n persoon egter aggressief teenoor my optree in die publiek, en my vrou se welstand bedreig, en die polisie bel en vir hulle ’n storie vertel dat ek haar aangeval het of iets (later het dit uitgekom dat ek kwansuis geld by haar gesteel het terwyl sy met my gepraat het, wat die “Why are you so poor?” opmerking verduidelik), gaan ek dit beslis nie vir myself hou dat ek reken sy in staat is om versinsels van haar verbeelding te glo nie, gebaseer op die feit dat ek haar gesien het by ’n psigiater.

Die polisie-offisiere – daar was drie van hulle saam met my, seker vir in geval ek besluit het om weer aan die hardloop te gaan, vra toe vir die ontvangsdame by die sielkundige of daar ’n vrou by hulle was enkele minute gelede. Die ontvangsdame kom toe uit op die loopgang, kyk af in die rigting waar die luid ene steeds staan en wag saam met die ander offisier, en knik stadig haar kop.

Ek kon sien hoe die offisiere se houding jeens my verander. Ek verduidelik toe weer in Chinees (waarvoor ek sekerlik ten minste ’n C+ sou gekry het) wat gebeur het, hoe sy met my ’n gesprek probeer aanknoop het, hoe sy onbeleefd was en ek nie met haar wou praat nie, hoe sy op my geskree het van die ander kant van die pad af en my met ’n bottel gegooi het, hoe sy op my afgestorm het en ek ge-run-Forest-run! het, hoe ’n man my gegryp het in die straat (het sý jou gegryp, wou die offisier in Chinees eers weet), en hoe ek by die huis eers my vrou, en toe die polisie gebel het. Die een offisier wys toe op die CCTV-kameras in die omgewing, met die implikasie dat dit sekerlik sou bevestig wie se weergawe korrek is.

Ons stap toe terug na die ander dokter se spreekkamer toe. Die ander pasiënte wat saam met my vrou gewag het in die klein vertrek, kyk toe meer simpatiek na ons, en wys dat ons moet kalmeer en moet sit – dit sal alles oukei wees.

Omdat ék ook die polisie gebel het, wil hulle toe hê ek moet saam met hulle na hulle stasie toe gaan om ’n verklaring af te lê. My vrou sou egter agterbly om die dokter te sien, so ek wou eers versekering hê dat die Chinese vrou nie in die omgewing gaan wees nie. Hulle verseker ons toe dat sy reeds weg is saam met ’n vroulike offisier.

Ek klim toe agter in die polisie-motor, en ry die kilometer of so na hulle kantoor toe. Daar aangekom, lei die een my na wat duidelik die agterkant van die gebou is, in by ’n deur na wat lyk soos ’n kelder, verby ’n blaffende hond in ’n hok, en in by ’n lang, smal kantoor met opgestopte mure, ’n paar lessenaars, en ’n TV hoog op ’n rak met ’n blou skerm en twee Chinese karakters wat oor die skerm gly. Die een offisier verduidelik toe dat alles oukei is, en ek net ’n verklaring moet aflê. Ek gee toe vir hom my Taiwannese ID-kaart, en hy vra toe vir my om weer die hele storie te vertel. Wat ek toe weer doen, in my beste Chinees. Na nog ’n paar vrae, lees hy toe vir my terug wat hy geskryf het, met my wat hier en daar vra vir ’n verduideliking.

Saam met my ID-kaart, sien ek toe ook die vrou se ID-kaart, en ek vermoed toe hoekom ek in die kelder is: Die vrou is ook in die gebou, en hulle wou waarskynlik nie hê dat sy weer moes opvlam nie.

’n Polisieman in gewone klere het intussen my vrou gebring, en na ek die offisier wat my verklaring geneem het, se blad geskud het, het ons die paar blokke huis toe gestap.

Alles in ag genome, het die storie seker heel goed verloop. Vier dinge het in my guns getel, en ek reken die vrou het nie een van hulle verwag nie. Ek was binne ’n paar minute terug op die toneel, ten spyte van die teenwoordigheid van die polisie, en ten spyte daarvan dat sy op ’n afstand al na my gewys het as die een wat X, Y of Z gedoen het; ek het self die polisie gebel, en vir hulle genoem dat ek bekommerd is oor my vrou se veiligheid vanweë hierdie persoon se gedrag; ek kon in Chinees my kant van die storie vertel; ek kon dit met hulle deel dat ek vermoed sy ’n gesondheidsprobleem het wat haar vertelling sterk kon beïnvloed het.

Een ietwat onaangename gevolg van die insident is dat ’n hele paar mense in die buurt waar ons al amper vyf jaar woon, my straat-af gesien hardloop het met ’n sakkie kos in my hand, en ’n vrou wat ewe entoesiasties agter my aanhardloop terwyl sy gil dat sy die polisie gaan bel, en dat ek iets aan haar gedoen het. Ek moet natuurlik weer gesig wys in hierdie buurt, in dieselfde strate en stegies, en verby dieselfde winkels stap waar ek agter in ’n polisie-motor geklim het.

’n Mens moet seker maar net ’n dik vel hê, praat ek myself moed in, en jou kop hoog hou. Watse ander keuse het jy immers?

O ja, en ek moet dalk twee keer dink voor ek met vreemdelinge praat in die straat.


Die loopgang waar ons afgestap het
Die straat waar die vrou op my afgestorm het
Die straat agter ons woonstelgebou waar ek myself verbeel het ek is in ‘n 1990’s film

______________________

Positiewe denke en ’n geïntegreerde wêreldbeeld

SATERDAG 9 MAART 2019

Soos seker meeste denkers buite die hoofstroom, het ontwikkelingsbioloog Bruce Lipton sy kritici. Nietemin, alles waarna ek geluister het en wat ek gelees het die laaste paar jaar van Lipton, gee vir my die naaste wat ek gekom het aan ’n geïntegreerde wêreldbeeld sedert my vroegste programmering as Evangeliese Christen: ’n Verduideliking wat die fisiese wêreld verbind aan die nie-fisiese wêreld, die waar-jy-vandaan-kom met die waarheen-jy-op-pad-is – of waarheen jy op pad kán wees as jy die regte dinge doen.

* * *

Een van die aantreklikste aspekte van Lipton se verduideliking van hoe dinge werk, veral soos beskryf in sy boek, Biology of Belief, is dat dit die individu bekragtig. Jy is verantwoordelik vir jou eie lewe – veel meer as wat jy ooit kon dink jy is.

Ek verstaan dat die gedagte uiters onaangenaam kan wees vir sommige mense, wat alreeds voel dat hulle nie goed genoeg is nie, of dat hulle nie goed genoeg doen nie. En nou moet hulle nog hoor is dalk self verantwoordelik vir hulle eie ellende!

Natuurlik is dit ingewikkeld. Die mens is immers ’n komplekse organisme. Die wêreld is kompleks. Talle faktore speel ’n rol in hoe goed of hoe sleg jy doen in jou lewe, insluitende jou gesondheid.

Geloof in jou eie vermoëns om jou lewe positief te affekteer, en erkenning dat jy tot ’n groot mate verantwoordelik is vir jou eie lewe, het wel praktiese waarde. As mense reeds met hierdie punt verskil, is daar ’n goeie kans dat hulle hul eie vermoëns om hulle lewens positief te affekteer, gaan ondermyn.

Sommige mense sal jou wys daarop dat daar ander faktore is wat ook ’n rol speel in jou fisieke welstand – soos gifstowwe in die omgewing, of genetiese mutasies wat affekteer hoe selle funksioneer. Natuurlik is daar! Dis nie ’n swart-en-wit saak nie. Selfs as gifstowwe in die omgewing jou gesondheid aantas, of as genetiese mutasies lei tot siekte, gaan geloof in jou eie vermoëns om jou lewenskwaliteit en gesondheid positief te affekteer, steeds ’n verskil maak.

* * *

Dis soos ’n sirkel wat voltooi word. Jy kyk na biologie, fisika, chemie, wiskunde, en so aan, en uiteindelik na kwantum fisika – protone, elektrone en neutrone wat op allerhande onverwagse maniere optree; energie wat die basiese element is van alles wat bestaan, en persepsie wat affekteer hoe selle funksioneer. Jy beweeg dus weg van godsdiens en die “geestelike” wêreld wat jy nie kan aanraak nie maar wat veronderstel is om jou lewe te beïnvloed, en jy eindig op met wonderlike dinge wat wetenskaplikes soms moeilik vind om te verduidelik, en wat, as jy mooi daarna kyk en goed daaroor dink, nie te ver is van die betekenis van die woord, “magies” nie.

______________________