Woordeskat – die Bron – gevaarlike frekwensie

VRYDAG 21 JANUARIE 2005

Dis Vrydagoggend. Ek maak ontbyt, gaan sit op die bank, skakel die TV aan, flits deur die kanale en … Notting Hill, met William Thacker wat aan die begin deur die mark stap, met die begin credits wat nog rol.

Ek besef toe: dit is my movie metafoor. Ek is die ou met die “boek besigheid” wat nie geld maak nie – maar dis my lewe, en sy is die ster.

“And miracles,” soos die vrou by die aandete sê, “do happen.”

SATERDAG 22 JANUARIE 2005

00:42

Eers bestaan iets, en dan vind jy woorde om uitdrukking te gee daaraan. Bestaan gaan taal en spesifieke woordeskat vooruit.

Vraag: Wat bestaan waaraan ons nog nie woordeskat etikette kon hang nie? Wat bestaan, wat nog nie aan ons verskyn nie?

Taal is noodsaaklik vir begrip, om iets te kan “sien” of om dit te kan “hoor”. Indien iets wel in ons visie verskyn of opgetel word deur ons gehoor, maar ons beskik nie oor die gepaste woordeskat nie, word hierdie dinge maklik geïgnoreer of verwerp as nutteloos – as geraas rondom dit wat wel sin maak omdat ons reeds weet wat om dit te noem of hoe om dit te beskryf.

02:45

Die repatriasie tema in “Persoonlike Agenda” gaan daaroor dat dit soms nodig is om die Bron te verlaat, en hoekom dit belangrik kan wees om terug te keer na jare buite die Bron – selfs hoekom mens dit kan regverdig om nie “permanent” terug te keer nie.

* * *

Uit ’n artikel oor Nawal el Saadawi in die China Post van 18 Januarie 2005 getiteld, “Egyptian secular writer battles religious state”: “I’m still living in exile because I cannot speak, I cannot work, I cannot have my potential here.”

09:21

Ek is op ’n gevaarlike frekwensie! Gistermiddag het ek amper my skouer uit sy potjie gestamp omdat ek nie gefokus was op die meganika van broek uittrekery nie – en derhalwe die muur stormgeloop het met my broek rondom my enkels.

Nou staan ek hier met ’n seer voet met ’n opgeswelde groottoon omdat ek gisteraand my ritme met die trappe verloor het, gedink het, “Toemaar, daar’s nog net ’n paar trappe oor,” en gespring het.

Vanoggend dink ek aan hierdie frekwensie ding terwyl ek naarstiglik soek na my sleutels … net om te vind ek het dit reeds in my baadjie se sak gesit.

Ek weet op watse frekwensie ek is, en dat dit gevaarlik is, is nie debatteerbaar nie. Ek is bedwelmd; bedwelmd met ’n idee…

12:53

Ek ís bedwelmd met ’n idee, dis waar. Dit is ook waar dat hierdie idee te make het met ’n sekere jong vrou se bestaan. Dit kan egter ook gesê word dat indien hierdie jong vrou nie ’n soortgelyke idee koester oor ’n spesifieke Skrywer van Notas nie, sal genoemde skrywer ’n rougedig komponeer, dit plegtig verbrand, en aan die einde van so ’n vaal dag gaan slaap … om die volgende oggend op te staan en ontbyt te nuttig met sy gebruiklike, en onblusbare Geloof – en sal mens waag om te sê, Hoop? – in die Onvervangbare Derde Een.

______________________