Wildernis – Oomblik van Geboorte

SATERDAG 5 MAART 2005

As jy iets vir ewig in jou hande wou vashou, en dit gly deur jou vingers, is jou hande ooit weer daarna dieselfde? Laat dit agter, nie soseer littekens nie, maar iets moois wat jou sal herinner aan die wonder waaraan jy wou vasklou?

WOENSDAG 9 MAART 2005

01:51

Jakobus die Woestynloper strompel die wildernis binne. Hy was al daar. Hy’t ’n rowwe kaart in sy kop. Maar wildernis, dit weet hy, is nie woestyn nie. En woestyn … is beslis nie die wildernis nie.

21:49

Die beroep wat ek vir myself gedefinieer het, of gekies het uit die talle moontlikhede waarmee ek gekonfronteer is sedert ek verneem het dat ook ék eendag ’n werkende volwassene sal wees, was dié van Digter.

Sal vele vra, “Digter? Jy moet sekerlik weet dat jy nooit bokant die broodlyn sal leef nie!”

Dit is dan ook so dat ek oor die jare bewus geraak het daarvan dat die wêreld waarin ek my plek in die son moet oop baklei, nie “digters” beloon met vaste betrekkings, ’n gereelde inkomste, ’n maatskappymotor of ’n mediese fonds nie. Ek moes derhalwe my gekose pad effens verbreed sodat ek, benewens gedigte skryf, ook ander genres kan benut om in fyn detail die wêreld te kan kritiseer waar ek nie dieselfde kompensasies kan geniet vir mý beroep as ’n tandarts, ’n straatveër, of ’n bankklerk nie.

DONDERDAG 10 MAART 2005

’n Mens bestaan net, tot jy gebore word.

Oftewel: Sommige mense bestaan slegs as dít wat aan hulle gegee is plus die resultaat van hul keuses tot op ’n punt – die resultaat van introspeksie, van kennis opdoen oor hulleself, van hulleself konfronteer, hulleself waarneem, van definieer wie en wat hulle wil wees. Indien hierdie proses van ’n bepaalde kwaliteit is, en indien hulle lank genoeg tyd daaraan spandeer, kan die oomblik wat daai bepaalde punt bereik word vir alle praktiese doeleindes beskou word as die Oomblik van Geboorte.

VRYDAG 11 MAART 2005

Vele dinge in my pad – littekens, vrese, onsekerhede, ervarings van die verlede wat maatreëls laat rys het soos forte in die woestyn … alles word onthou, maar agterweë gelaat ter wille van een ding – as jy weer glo, ten spyte van vrese en onsekerhede, weet jy dat jy jouself toelaat om te leef.

______________________