Wie is ek werklik?

SONDAG 12 SEPTEMBER 2004

Teen hierdie tyd beskik ek oor genoeg data oor myself om myself te kan herken as ek verby ’n spieël stap, en om (meeste van die tyd) te reageer as die naam geuiter word wat my ouers 33 jaar gelede gekies het om my te noem, en wat ek oor die afgelope 33 jaar aanvaar het as goed genoeg vir alledaagse gebruik. Ek het ook onlangs ’n plato bereik in my religieus-filosofiese soeke na wat dit beteken om mens te wees. Ek het ’n redelike goeie idee wat my gelukkig maak. Ek kan met ’n aanvaarbare graad van selfvertroue optree in ’n verskeidenheid situasies. En ek kan sonder te veel gebabbelry verduidelik wát ek met my lewe wil doen, wáár, en met wie.

So trap ek laat vanmiddag op my fiets verby ’n kwekery. Die vreemdste gedagte dring homself toe by my op. As ek regtig baie geld het – nie noodwendig biljoene nie, maar veel, veel meer as wat ek nodig het om myself bloot te onderhou, sal ek vir my potplante koop. Nie net een nie, dosyne. Ek sal my hele sitkamer herrangskik; portrette wat op boekrakke staan gemaak is, sal opgehang word; kitare sal geskuif word na ’n ander plek toe, meubelstukke sal stoorkamer toe geskuif word; alles om plek te maak vir al die potplante.

Die data waaroor ek beskik oor die onderwerp van Brand Smit as Persoon sluit die volgende in: “Brand Smit hou van plante, want hy hou van die natuur. Ten spyte daarvan hou hy tans geen potplante aan in sy woonstel nie, omdat al die plante wat hy in die verlede aangehou het, gevrek het vanweë ’n gebrek aan versorging. Die redelike gevolgtrekking kan dus gemaak word dat Brand Smit nie werklik ’n plant persoon is nie.”

Dit daar gelaat.

Ek sit nou al vir ’n geruime tyd met ’n probleem. My emosionele landskap word weer genadeloos geteister deur ’n Storm van Skeptisisme. Tot my eie verleentheid (siende dat ek gereken het dat ek sulke amateuragtige lewenskwessies agtergelaat het in … Julie?) wonder ek weer wat die punt van alles is. Waarvoor lewe ons?!

Freneties slaan my vingers dus op ’n daaglikse basis weer deur die staalkabinet vol antwoorde: Bevrediging van Behoeftes, Wiskunde en Wetenskap, Vind/Definieer en Wees Jouself, Liggaamlike Bestaan as Deel van ’n Baie Lang Proses, Liefde en Samesyn … en voort skiet die een lêer na die ander verby.

Dit is wel so dat ek pas teruggekeer het na Taiwan na vier weke in Bronkhorstspruit. Dit is ook so dat ek net weer gewoond geraak het aan die steenkoollug van die Hoëveld in die laat winter, en aan pekanneut terte vir R27 by die groentewinkel, en aan die mooi vrou wat die til slaan by die Spar. En, goed, ek het my ouers, my jonger suster, en vir die laaste twee weke ook my ouer suster (en haar eersgeborene) elke oggend gesien in my rondtes deur die huis tussen Huisgenoot lees en smoke breaks onder die boom in die hoek van die tuin.

Hierdie is nie Augustus 2003 nie. Dis nie Februarie 2004 nie. Dis nie 2002, 2001, 2000, ’99, of enige ander periode van my lewe nie. Dis September 2004. Ek reageer steeds op dieselfde klanke wat geuiter word as iemand my aandag wil trek, en (behalwe vir die snor wat ek môre gaan afskeer) lyk ek nog steeds dieselfde. Maar my grysstof dikteer deesdae ander ambisies en visioene as “repatriasie na die land van my geboorte, trou en kinders”, ensovoorts. Ek weet dus dit is nie die feit dat ek terug is in Taiwan wat my strot weer verstop met ongeloof nie. Die ongeloof was daar terwyl ek Huisgenoot gelees het in die laatwinterson op die plot buite Bronkhorstspruit. Ek het die irriterende gekrap aan die hol kant van my siel gevoel terwyl ek die waarde van die Hoëveldse wye oop spasies oorweeg het in die dink van diep gedagtes.

Aangenaam was die verrassing dus toe ek vanmiddag verby die kwekery rol oor ’n natgereënde pad, en ek boul my sinisme vir die oomblik plat met so ’n ou grap soos wat ek sal doen met meer geld.

Wetenskaplik soos ek hierdie aangeleenthede gewoonlik benader, het dit my ’n goeie kwartier gevat voor ek die vraag voldoende gekwalifiseer het om te kon antwoord. “Ek sal vir my ’n helse klomp plante koop,” het ek hardop gedink. “Ek sal ook vir my ouers elke maand geld stuur, of hulle dit nodig het of nie. Dan sal ek weer in Desember op vakansie gaan … en vir my twintig VCD’s koop, op één slag … én die Alphaville Greatest Hits CD.” Later die aand (voelende ietwat goed oor my boekrakke wat weer ’n slag reggepak is) gooi ek toe sommer by dat ek ook ten minste een keer per week by ’n deftige restaurant sal gaan eet. (“Omdat ek nog altyd gehou het van goeie kos,” het ek gereken.) Ek sal ook heelwat kapitaal belê in nuwe tegnologie. Ek sal vir my ’n nuwe rekenaar koop, ’n digitale video kamera, en die nuutste tipe selfoon op die mark. Ek sal ook vir my ’n nuwe klanksisteem aanskaf – my getroue Aiwa Discman laat my nie toe om Metallica teen ’n volume te luister wat nie my korttermyngeheue verwoes nie … wat was ek besig om te sê?

Die welbekende frase, “Ek is …”, word gewoonlik voltooi met allerhande brokkies data, wat tradisioneel insluit ’n naam, geboortedatum, familie en vriendskaplike verbintenisse, hoe jy geld maak, waar jy woon en ander inligting wat in die eerste plek vir jouself sê wie jy is, en daarna ook die proses fasiliteer waarmee jy jouself voorstel aan ander mense.

Wat myself aanbetref kan ek noem dat ek, Brand Smit … wag, laat ek dit op ’n ander manier doen:

Ek, Brand Smit … is ’n man … is 188 sentimeter lank, weeg meer as 90 kilogram, wykende haarlyn op die voorkop, hare op my bolip … wil minder as 90 kilogram weeg, sal nie omgee as my hare teruggroei nie … is Suid-Afrikaans … het geen sterk begeerte om ’n burger te wees van ’n ander staat nie … het tot lewe gespring in die etniese groep wat histories geklassifiseer is as óf “Boer” óf “Afrikaner” … is tans woonagtig in woonstel nommer 4~2, Laan 2, Ci Hui Xin Cun, in die stad Fengshan, in die Kaohsiung Distrik van Taiwan … wil hier woon, of in Hong Kong, Guangzhou, Shanghai, Beijing, Londen of miskien Parys, en ek sal nie omgee om ’n tuinwoonstel in Bronkhorstspruit te besit nie … is geleer as kind dat geloof in die leerstellings van hoofsaaklik die Protestantse Kerke die enigste manier is om na fisiese dood voort te bestaan in die “Hemel” … is tevrede met my huidige, vae oortuigings oor God, Jesus, die Onsterflikheid van die Siel, en Lewe na Fisiese Dood … verdien geld as ’n Engelse onderwyser … sal eerder geld wil verdien as ’n entrepreneur in samewerking met ander mense wat ook ’n profyt maak uit my projekte, sodat ek nie die heeltyd betrokke hoef te wees met bemarking en verspreiding nie … is iemand wat tans nie TV kan kyk selfs as ek wil nie … wil wees iemand wat die opsie het om TV te kyk eerder as om stukke soos hierdie op ’n Maandagaand te skryf … is iemand wat nie baie geld spandeer nie, anders as op die nodigste kruideniersware, flieks, sigarette, en goedkoop video CD’s … wil wees iemand wat meer geld het om te spandeer wanneer ek iets wil doen, of ’n artikel wil aanskaf … ensovoorts … ensovoorts … wie stel in elk geval belang in hierdie goed? As die dag langer was, het ek myself heel waarskynlik dood gerook. Net sowel, dus.

______________________