Weerkaatsing van die vrou met die roller op haar voorkop

SATERDAG 25 FEBRUARIE 2012

Ek sit vanmiddag op die moltrein op pad huis toe. In die venster oorkant my sien ek die weerkaatsing van ’n jong vrou, twee sitplekke van my af. Ek merk op dat sy ’n reusagtige pienk roller op haar voorkop het, in plek gehou deur ’n sliert hare wat om dit gedraai is.

Een moontlikheid, skiet die gedagte deur my kop, is dat sy ’n modeslaaf is. ’n Jaar gelede het die breë samelewing, insluitende modeslawe, dit as belaglik beskou om rond te loop met ’n groot pienk kruller vasgeplak teen jou voorkop. Toe, uit die bloute, daag ’n gesagsfiguur in die modewêreld by ’n modeskou op met een op haar voorkop, en sedertdien het elke dissipel van die gesagsfiguur wat sy of haar sout werd is, die tendens slaafs nagevolg.

Indien dit die geval is, indien die jong vrou inderdaad ’n slaaf is vir alles wat modieus is, het ek nie veel agting vir haar nie, want sy is duidelik nie iemand wat vir haarself dink nie.

(Ek het ook gewonder wie aan die einde bepaal wat belaglik is. Ek druk elke dag ’n stuk lap op my kaal kop en noem dit ’n keps. Is dit nie belaglik nie?)

Die tweede moontlikheid, dink ek toe, is dat sý die een is wat die modeneiging begin het – of in die proses is om dit te begin. Dit sal beteken sy kyk nie na die arbitrêre belaglikhede wat ander mense aanvang en volg dit dan slaafs na omdat die persoon gesien word as ’n gesagsfiguur nie.

Is dit die geval, sal my beskouing van haar betekenisvol styg. Sy sal dit duidelik gemanifesteer het dat sy iemand is wat vir haarself dink en haar eie besluite neem, en dan verskyn in die openbaar op ’n manier waarin sy glo en wat sy goedvind – al sien ander dit, vir eers, as belaglik.

Soos ons Formosa-stasie nader, kyk ek een laaste keer in die rigting van my potensieel interessante medepassasier. Ek sien die roller is weg. Dit het blykbaar net ’n praktiese doel gedien.

’n Half-minuut later staan sy deur se kant toe, en ek kry vir die eerste keer ’n behoorlike kans om na haar te kyk – maar net vir ’n oomblik, want toe die deure oopskuif, druk sy effens verby ’n ander passasier. Kort daarna verdwyn sy in die stroom mense in, met haar kuif wat nou met so ’n astrante boog wegstaan van haar voorkop af.

Nota aan myself, dink ek toe: Aannames oor mense voor jy die hele storie ken is dalk nie vreeslik slim nie, maar ten minste is dit beter as om na jou eie weerkaatsing te staar in die moltrein se venster.

______________________