Wat is liefde – kruipende grysheid – persoonlike religie

SATERDAG 23 APRIL 2005

Wat is liefde?

Liefde is ’n bereidwilligheid en ’n vryewilskeuse om iemand anders se behoeftes, welstand en belange op die hart te dra*. Romantiese liefde is wanneer hierdie bereidwilligheid gekombineer word met ’n sterk begeerte* om saam met die persoon te wees, om wat jou lewe is, te deel* met hom of haar, en om aan hierdie persoon die geleentheid te gee om sy of haar lewe te deel met jou.

Definisies:

op die hart dra = om iets te ag as van groot belang; om ten minste medeverantwoordelikheid te aanvaar vir iets

sterk begeerte = ’n behoefte wat, indien dit nie vervul word nie, lei tot emosionele ongemak

te deel = om nie wat jou gelukkig maak, of wat vir jou belangrik is, of wat jou hartseer maak, of wat pyn of ander ongemak veroorsaak, vir jouself te hou nie

MAANDAG 25 APRIL 2005

14:17

Ek verstaan nie ALTYD, ONMIDDELIK, ALLES nie …

18:34

Daar’s insidente wat uit die bloute kom, en ’n reaksie ontketen. Dan’s daar die kruipende variasie, ’n grysheid wat van ver af kom, wat weerstand stukkie vir stukkie wegvreet tot jy op ’n Maandag in April weer aan jouself moet erken: Ek is nie altyd ewe oortuig van dinge nie.

* * *

Dis soos dit is: jy werk en jy werk en jy werk, en dan, een oggend, verskyn ’n beeld uit die mis. Jy sien ’n man se gesig, en jy sien hy grinnik, of glimlag oor iets. Jy trek jou skouers op en vra, “Wat?”

Antwoord die man: “Ek sien jy werk jou gat af. Het jy al ooit die moontlikheid oorweeg dat niks ooit gaan kom daarvan nie, dat dit alles verniet is?”

20:28

Ag shame en so aan. Van wanneer gee ek myself oor aan sulke goedkoop slenters?

Plus, ek weet waar dit vandaan kom: van dieselfde brak spruit as waaruit dit verlede April gevloei het.

Oplossing: SKRYF.

DINSDAG 26 APRIL 2005

18:03

“Life in the city is merely a wormlike biological existence where man lives and dies meaninglessly.” ~ Muammar Qaddafi

[Die feit dat hy so geglo het, het dit heel waarskynlik makliker gemaak vir hom om dit die werklikheid te maak vir baie mense in Libiese stede.]

21:23

Om “Brand Smit” te wees, is my persoonlike religie.

As iemand tot “bekering” kom, gaan die gebeurtenis gewoonlik gepaard met gevoelens van euforie, en ’n verbeterde sin van persoonlike welstand en sekuriteit – plek in die kosmos, identiteit, sonde en verlossing, “Ewige Lewe” ensovoorts. Die Nuwe Bekeerde kan egter nie net een Vrydagaand by ’n samekoms tot bekering kom en – voila! – die wonderlike euforie en welstand en sekerheid hou vir ewig nie. Hy of sy moet van Dag Twee af gereeld sekere rituele uitvoer om sy of haar nuwe identiteit en kosmiese status te bevestig.

DINGE MOET GEREELD GEDOEN WORD OM IDENTITEIT EN KOSMIESE STATUS – JOU PERSOONLIKE VERHOUDING MET DIE HOOGSTE REALITEIT – TE BEVESTIG!

Ek kan nie net weet ek is “Brand Smit” nie. Dis doodgewoon nie goed genoeg nie. Die afgelope week of drie se kruipende grysheid het weereens bevestig wat ek ook voorheen besef het: AS EK NIE SKRYF NIE, IS EK NIE WIE EK SÊ EK IS NIE.

______________________