Wat GEGEE word, en wat jy KIES

DINSDAG 29 JUNIE 2004

Dis my verjaarsdag vir nog 29 minute, so ek glo dis toelaatbaar om ’n handige, dog onverifieerbare statistiek die lug in te stuur: 99% van die wêreldbevolking funksioneer omdat hulle hul Gegewe Selwe meestal onkrities aanvaar, en slegs onderskeidende identiteit ontwikkel uit die gegewe moontlikhede, en volgens keuses wat direk verband hou met ’n spesifieke tyd en plek. Aan die ander kant, konfronteer 1% van die wêreldbevolking hulle Gegewe Selwe, aanvaar dit wat hulle nie kan verander nie (soos dat die persoon gebore was in Pretoria, in die Republiek van Suid-Afrika op Dinsdag 29 Junie 1971) ongeag of hulle dit anders sou verkies het of nie, en fokus verder op ’n proses van selfdefiniëring, wat altyd binne ’n partikulêre raamwerk sal bly (ek kan nie ’n hond word nie, selfs al wil ek), maar wat nietemin die resultaat tot gevolg sal hê dat die persoon kan verklaar dat hulle hul “eie” mens geword het – ’n poëtiese konsep meer as wat dit tegnies waar is.

Wat is ek dus?

Die begin: Ek is ’n man, gebore in Suid-Afrika, seun van Afrikaanssprekende ouers wat die afstammelinge is van meestal Europese kleinboere, soldate, diensknegte en ambagsmanne wat in Suid-Afrika gearriveer het ’n paar eeue gelede; ek het grootgeword binne ’n partikulêre kulturele omgewing, met partikulêre opvattings oor goed en sleg, en met partikulêre idees oor wat mens behoort te doen met jou lewe, hoe mens behoort te leef, waar, en met wie. Dit is my GEGEWE Self.

Die storie gaan voort: Op 33-jarige ouderdom is ek hierdie Gegewe Self wat myself tuis gemaak het in Kaohsiung, ’n stad op die suidwestelike kus van Taiwan, en wat ’n inkomste verdien en myself derhalwe aan die lewe hou deur Engelse klasse aan te bied by ’n paar plaaslike skole. Ek woon alleen in ’n drie slaapkamer woonstel, in ’n buurt vol Chinese burgeroorlog veterane en hulle afstammelinge. Ek praat soms op enige dag ewe veel Chinees as Afrikaans; ek gebruik ’n fiets as my primêre vervoermedium; en ek spandeer meeste van my tyd deur te skryf. Hierdie dinge is alles verteenwoordigend van my GEKOSE Self – gebou op die fondasie van my Gegewe Self, en binne die beperkte moontlikhede van tyd en plek.

Dit is ek, om 23:47 op die aand van Dinsdag 29 Junie 2004.

WOENSDAG 30 JUNIE 2004

00:11

Hierdie aangeleentheid van GEKOSE versus GEGEWE self sal belangstelling prikkel by die 1% wat reeds deur ’n bewustelike en aktiewe proses van selfkonfrontasie en selfdefiniëring gegaan het, en by nog ’n fraksie van mense wat “dink oor hierdie dinge” maar by wie die proses nog in ’n elementêre fase is.

(Hierdie proses van selfkonfrontasie en selfdefiniëring vind plaas op meer as een vlak. Die verskil in my eie geval is dat ék konstant notas maak daaroor; derhalwe is ek baie bewus van die proses; ek kan ook die spore wat ek getrap het, terug volg, en sodoende vir ander wys hoe een persoon – ek – by ’n sekere punt gearriveer het.)

11:05

As Absolute Gegewe Self – kom ons definieer dit as iemand wat onkrities die bron van sy of haar self, naamlik die omgewing waarin hulle gebore en gevorm is, huldig as voortrefliker as enige ander bron – aan die een uiterste van die spektrum is, wat is op die ander ent? Is dit om uit jou gegewenheid te groei en sover as moontlik die produk te word van jou eie proses van selfdefiniëring? Is dit waarna ons almal moet streef?

Belangrik soos dit mag wees, glo ek nie dit behoort die hoogste strewe te wees vir enige mens nie. Wat belangriker is – en ek het vroeër ook hierdie opinie uitgespreek, is die resultate van jou lewe. Beide (Hoofsaaklik) Gegewe Self en (Tot ’n Groot Mate) Gekose Self is middels tot hierdie doel.

In sommige gevalle is die persoonsmodel wat aan ’n individu “gegee” word, voldoende om positiewe resultate te kan bewerkstellig. In ander gevalle moet die persoon verder gaan as die gegewe model. Hoekom so? Moontlik vir geen ander rede nie as dat die persoon NIE GELUKKIG OF TEVREDE IS (OF WAS) MET SY GEGEWE SELF NIE!

Beide self-modelle het egter ten doel om die persoon in staat te stel om in die eerste plek te kan funksioneer, en in die tweede plek (hopelik positiewe) resultate van hulle lewens te bewerkstellig.

* * *

VRAAG: Wat is die verskil tussen dié wat onseker is oor hulleself, en dié wat (oënskynlik) nie met hierdie tipe persoonlike dilemma opgeskeep sit nie?

ANTWOORD: In albei gevalle kyk die persoon na wie hulle is as gegewe – geslag, voorkoms, sosio-ekonomiese agtergrond, aanlegte, intelligensie en ander genetiese faktore, asook partikulêre verhoudings wat bepaal wie en wat hulle is sonder dat hulle ’n keuse daaroor gehad het; dit wil sê al die faktore wat deur die noodlot aan hulle gegee is sonder dat hulle ’n keuse gehad het daaroor. Keuses oor die jare dra wel, uit die aard van die saak, by tot die wie-en-wat waarmee die persoon gekonfronteer word in hul Groot Eksistensiële Oomblik, maar ook dit is altyd relatief tot die gegewe faktore. (Dit is belangrik om te noteer dat positiewe keuses in ’n konteks waar negatiewe keuses ook maklik genoeg gemaak kan word, tot die krediet is van die persoon wat dit gemaak het, ongeag gunstige gegewe faktore wat bevorderlik was tot die positiewe keuse.)

’n Persoon wat haarself bevind in die “seker oor haarself” kategorie, is tot ’n betekenisvolle graad tevrede met wie en wat sy is, en wil heel moontlik voortgaan om te wees wie en wat sy is. Hierdie persoon se konfrontasie met haarself was, en is steeds, ’n oorwegend positiewe ervaring. Hierdie persoon kan voortgaan om te funksioneer as ’n relatief tevrede wie-en-wat.

Iemand in die “onseker oor homself” kategorie, gaan deur ’n periode wat gekenmerk word deur ’n sogenaamde identiteitskrisis – onsekerheid oor wie en wat hy is, onsekerheid oor sy plek in die wêreld, en onsekerheid oor die waarde van sy partikulêre lewe. Gevoelens van vervreemding van sy omgewing, onvergenoegdheid en selfminagting is in vele gevalle ineengestrengel met hierdie onsekerheid oor homself. Hierdie persoon konfronteer sy “gegewe self” en ag dit as NIE GOED GENOEG NIE.

In beter gevalle is hierdie tipe selfkonfrontasie die begin van ’n soektog na ’n meer bevredigende identiteit, vir wat uiteindelik ’n meer bevredigende bewussyn van die self sal bewerkstellig. Vele ervaar egter dié tipe selfkonfrontasie as pynlik en traumaties. Hierdie individue begryp nie altyd die redes vir hulle gevoelens van vervreemding nie. Hulle diagnoseer te maklik hul onvergenoegdheid verkeerdelik as die resultaat van persoonlikheidsgebreke: “Ek weet nie hoekom ek altyd so negatief is oor alles nie. Daar moet iets verkeerd wees met my.” Uiteindelik intensiveer selfminagting onvergenoegdheid net soveel as wat dit ’n resultaat is daarvan. Verdere vervreemding tussen die individu en betekenisvolle ander – familie, selfs vriende – is ’n byna onvermydelike resultaat.

Duisende, selfs miljoene lewens word elke dag versuur deur wanbegrip aangaande hierdie verskynsels. Talle lewens word ook veels te vroeg, en onnodiglik beëindig deur negatiewe emosies wat die persoon tot so ’n mate oorweldig dat hy of sy voel dit nie langer uitstaanbaar is nie.

EKSTRA NOTAS:

1. ’n Verdere moontlikheid is dat jy dalk relatief tevrede is met jou gegewe self, en tevrede is met jou gegewe omgewing, maar méér wil hê van die goeie waaroor jy reeds beskik. Die redes hiervoor kan te make hê met persoonlike ervarings wat jou steeds, ten spyte van jou relatiewe tevredenheid, honger laat vir bevestiging van jou eiewaarde, of dit kan doodgewoon aangevuur word deur avontuurlus.

2. Daar is sekerlik ook die moontlikheid dat jy nie eens oortuig is van jou gegewe self nie, waar selfs die data wat aan jou ’n aanduiding behoort te gee, so gefragmenteerd en teenstrydig is, dat selfs ’n soeke na wie jy veronderstel is om te wees, jare mag vat.

* * *

Oorwegend Gegewe Self en Tot ’n Groot Mate Gekose Self is albei self-modelle wat die persoon in staat stel om te funksioneer as ’n Individuele Entiteit. Albei self-modelle stel die persoon in staat om keuses te maak en oor te gaan tot sekere aksies wat uiteindelik lei tot sekere resultate. ’n Verskil kan gevind word tussen individuele manifestasies van hierdie twee tipes in die graad van tevredenheid met betrekking tot selffunksionering, asook in die kwaliteit van die resultate wat bewerkstellig word.

Enkele dae gelede het ek myself geag as ’n “1” en iemand wat funksioneer as oorwegend gegewe self, steeds ’n “0”. Nou verklaar ek egter dat ek uiteindelik ook weer ’n “1” is – dieselfde as die persoon wat as oorwegend gegewe self funksioneer.

Wat was ek dan voorheen – of dan in wisselende grade vandat ek hoërskool verlaat het tot op ’n punt in die onlangse verlede? Ek was meestal ’n “0”, vir die eenvoudige rede dat ek soveel van my gegewe self verwerp het, dat ek dit moeilik gevind het om te funksioneer in die tyd en wêreld waarin ek gebore was.

Ek kan dus weer my plek inneem in die “ordinary current of life” [soos Dostoevsky skryf in Crime and Punishment],  omdat my GEKOSE SELF (die resultaat van aanvaarding van gegewe aspekte wat nie verander kan word nie, plus selfdefiniëring, plus keuses) ’n werkbare alternatief is vir wat goed genoeg is vir ’n groot persentasie van die wêreldbevolking (naamlik OORWEGEND GEGEWE SELF).

Ek weet nou wie ek is, omdat ek dit self gedefinieer het. Ek weet wát ek is, omdat ek dit self uitgesorteer het. En ek weet waar my plek in die wêreld is, want ek het dit besluit.

(Is daar ’n kwalitatiewe verskil tussen my “1” en die gemiddelde “1”? Moontlik, en moontlik nie. Wat belangrik is, is dat ek my klassifikasie verander het van “problematiese funksionering” na “bevredigende funksionering”, nie noodwendig van “funksioneel” na “beter” nie.

Was die hele proses die moeite werd as ek nie beter is as die gemiddelde nie? Natuurlik, want ek leef.)

* * *

[Hoogs tevrede met hierdie nuwe insig het ek voortgegaan met die toepassing daarvan op my eie lewe. Verskoon dus asseblief enige herhaling.]

Beginnende plus-minus 1994 het ek nie ’n funksionerende self gehad nie; of, ek het ’n funksionerende self gehad, maar ek was so gevul met onsekerheid (en angs as resultaat daarvan) dat ek nie ’n volhoubare funksionerende self gehad het nie. Die verskil, in my geval, tussen wie-en-wat-1994 en wie-en-wat-2004 is dus tussen “funksionerende self, maar gevul met angs en onsekerheid wat beteken voortgesette funksionering kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie” en “funksionerende self met oortuiging wat beteken voortgesette funksionering is hoogs waarskynlik”.

Is my aantekeninge oor hierdie proses werklik relevant vir enige iemand anders – in ag genome die noue verband met my eie partikulêre lewe, en die faktore wat dit gemaak het wat dit is?

Deels omdat niemand daarvan hou om tyd te mors nie, sal ek noodwendig positief wil antwoord. Maar ek kan verder gaan en sê dat ek nie die enigste individu is wat sekere aspekte van my gegewe self nie wou (of wil) aanvaar nie. Ek glo dus dat my noukeurige aantekeninge, oor ’n proses wat my jare geneem het om te identifiseer, waarde het vir meer mense as net myself. Plus, as ek eendag my kop stamp en ek van vooraf moet begin om myself te leer ken, sal dit uit die aard van die saak weereens vir myself ook van waarde wees.

______________________