Wat beïndruk jou, en hoekom?

DONDERDAG 9 DESEMBER 2004

Om ander mense in hul sosiale en/of professionele sirkels te beïndruk, is ’n daaglikse ambisie vir talle mense. Dit wat ’n goeie indruk moet skep, wissel van besittings wat aangeskaf is tot aksies wat geneem is, van projekte wat suksesvol afgehandel is tot nuwe arbeidsposisies wat losgeslaan is, van nuwe mense met wie kontak gemaak is tot mees onlangse seksuele verowerings.

Daar is verskeie redes hoekom mense ander wil beïndruk. Daar’s die alledaagse, “As hulle beïndruk is, sal hulle van my hou, en dan sal ek goed kan voel oor myself!” Daar is ook die meer siniese ambisie van ’n spesifieke eindresultaat wat bewerkstellig moet word, en as sekere persone beïndruk is met wat ook al opgedis word, kan die een wat die goeie indruk wou skep, wegstap met nuwe rede om die lug te snuif. ’n Laaste voorbeeld wat genoem kan word, is seksuele behoeftevervulling. ’n Teiken word geïdentifiseer na ’n oorsigtelike verkenning van die omgewing, sinne word uitgedink en gepoets deur peperment tonge lank voor dit die mond verlaat, en algemene liggaamshouding en gedrag word aangepas volgens die nuutste opvattings en modes sodat die behoeftige kan verskyn as een wat veel sterker, slimmer, koeler, en interessanter is as wat ooit in helder daglig die geval kan wees.

Wat beïndruk die beskeie noteerder van hierdie paragrawe? Immuun is hy nie vir die glans van ’n nuwe fiets wat ’n vriend of vriendin onlangs aangeskaf het nie. Projekte wat onderneem is vir persoonlike vervulling en tot suksesvolle konklusie gebring is, is ook iets waaroor hy graag sy mening wil lewer – ongeag of hy enige iets weet van die onderwerp of nie. Nuwe arbeidsposisies wat van tyd tot tyd oor die pad van mense kom, kan soms tot soveel as sestig sekondes se interessante gesprek lei, en moontlik meer as die posisie kreatiwiteit vereis, of aksies wat onderneem sal word wat werklike waarde sal hê buite die finansiële kompensasie wat dit sal meebring vir die nuut bevorderde persoon. Seksuele verowerings, ter wille daarvan om dit die volgende dag aan te wend tot verbetering van selfbeeld en meer indrukwekkende verskyning, val egter, in my beskeie opinie – en ek weet ek loop die risiko om beskuldig te word daarvan dat ek net jaloers sal wees op so ’n persoon se geluk – in swak smaak.

[Jou beurt: Waarmee probeer jy mense beïndruk, en wat probeer jy bereik daarmee? En wat beïndruk jou, en hoekom?]

______________________