Waarde in die Groter Beskouing

WOENSDAG 1 JUNIE 2005

15:41

Die feodale orde en die georganiseerde samelewings wat gevolg het op die feodale orde is goeie illustrasies van hoe mens gebore word met sekere gegewens – nooit in sement geanker nie, maar waarvolgens mense nietemin hul lewens slyt.

So ook is dit vandag. Tensy jy gebore word met uitstekende – inderdaad, voortreflike – afkoms en ander gegewens in terme van posisie, welvaart en voorgeskrewe rol en funksie – val jy in die groep waarin meeste mense hulself bevind: waar jou posisie asook jou waarde vir alle praktiese doeleindes by verstek neerkom op fokkol in die Groter Beskouing van Dinge, of Slegs van Waarde vir Vriende en Familie.

Dit kom dus daarop neer dat, teen die tyd wat jy ’n funksionerende volwassene is, jy in een van drie groepe sorteer: a) Fokkol in die Groter Beskouing van Dinge, Slegs van Waarde vir Vriende en Familie; b) rol, funksie en waarde wat verder strek as jou Kring van Vriende en Familie; c) Fokkol in die Groter Beskouing van Dinge, en van Geen Waarde vir Enige Lewende Wese. (Trein arriveer. Die punt: as dit nie gegee is nie, maak dit ’n werklikheid.)

16:08

Stelling: Sommige mense se lewens het slegs waarde vir vriende en familie, en per toeval moontlik ook vir enkeles buite hierdie kring. (Kom ons noem dit vir die oomblik Tipe A.)

Stelling: Sommige mense se lewens het waarde vir vriende en familie, en deur eie wil ook vir enkeles buite hierdie kring. (Tipe B)

Stelling: Sommige mense se lewens het waarde vir vriende en familie, en deur eie wil ook vir mense wat hulle nooit persoonlik sal ontmoet nie, op plekke wat nooit deur die persoon besoek sal word nie. Sy of haar waarde oortref dus die tyd en plek waar sy of haar bestaan gevoer word. (Tipe C)

Stelling: Sommige mense se lewens het waarde vir vriende en familie, asook deur eie wil vir mense wat hulle nooit persoonlik sal ontmoet nie, op plekke wat hulle nooit sal besoek nie; hierdie individue se name sal opgeteken word in die amptelike politieke geskiedenis van ’n nasie. (Tipe D)

Stelling: Selfde as Tipe D, maar grootliks vanweë gegewe faktore eerder as eie wil, byvoorbeeld die kroonprins van die Britse koningshuis. (Tipe E)

Nota: Sommige Tipes A aanvaar hulle redelik beperkte waarde. Ander murmureer, maar doen nooit iets om dit te verander nie (kan dus genoem word, onderskeidelik Tipe A en Tipe A2).

Stelling: Sommige mense se lewens het geen waarde vir vriende en familie nie (moontlik vanweë die afwesigheid van die persoon in familie en voormalige vriende se lewens, en/of die afwesigheid van vriende en familie in die persoon se lewe), en het ook geen waarde vir enige ander mens of dier nie. (Tipe A2)

VRYDAG 3 JUNIE 2005

01:45

Ek skryf te min dat sy wonderlik is, dat my lewe sonder haar vaal was, en dat ’n lewe sonder haar wetende dat sy bestaan, ondenkbaar is. […] Ek hoop inderdaad dat sy die einde is van ’n baie lang pad, en die begin van een wat nog veel langer gaan wees.

19:10

[…]

Wonder ek tog:

Moet die lewe geniet word,

of moet die lewe produktief benut word om resultate te bewerkstellig,

of moet die lewe aangewend word tot die verwesenliking van ’n doel wat gegewe tyd en plek transendeer?

Of al drie, miskien?

19:25

Jong Taiwannese bendelede is van die mees konserwatiewe lede van die gemeenskap. Hulle is gehoorsaam aan hul base; hulle doen wat vir hulle gesê word; hulle bevraagteken niks, en hulle dra gedienstig elke dag dieselfde uniforms.

[Bogenoemde is my observasie. Ek het nog nooit tyd spandeer in ’n Taiwannese kriminele sindikaat of organisasie nie, so ek sal nie weet hoeveel jong lede inderdaad rebelleer teen die ouer garde nie, hoe gereeld bevele verontagsaam word, en hoe gereeld planne bevraagteken word nie. Oor die uniforms is ek wel redelik seker.]

______________________