Waar trek mens die streep vir moord?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2016

Op Vrydag 5 Oktober 2007 het ek ’n nota geskryf wat soos volg begin het: “Is self-verloëning – die verloëning van jou waardes, van wie jy is – regverdigbaar as die eindresultaat goed is?”

Ek skets toe ’n situasie van iemand wat skynbaar ’n goeie mens is, wat ’n slegte daad pleeg, maar vir goeie redes.

Lang storie kort, ek besluit toe om nie die oorspronklike teks te gebruik nie, want ek reken as ’n “goeie mens” ’n slegte daad pleeg – soos moord, vir ’n goed genoeg rede – soos om honderd mense se lewens te red, hy nie werklik sy morele waardes verloën het nie, en nie regtig sy “goeie gewete” opgeoffer het op dieselfde wyse as wat iemand anders sy lewe of ’n ledemaat opoffer om iemand anders te red nie.

Nietemin, dink ek toe, ’n mens moet sekerlik ’n streep êrens trek.

I

Sê byvoorbeeld iemand red honderd mense se lewens deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Die persoon voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek. Is dit nie ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense nie?

II

Sê byvoorbeeld iemand slaag daarin om langtermyn huisvesting te voorsien aan twee honderd hawelose mense deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Hy voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek – daai twee honderd mense het vanaand ’n warm plek om in te slaap. Is dit ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense?

III

Sê byvoorbeeld iemand red ’n duisend mense se gevoelens deur iemand wat hulle godsdiens beledig het, te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag. Hierdie persoon voel skuldig, maar die wêreld, so glo hy, is ’n beter plek, omdat die gemeenskap voel geregtigheid het geseëvier. Is dit ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense?

Baie mense sal ’n paar minute benodig om die eerste twee scenario’s te oorweeg. Ek glo minder mense sal tyd nodig hê voordat hulle die derde scenario veroordeel. Die vraag bly: Waar trek ’n mens die streep?

______________________