Vrydag 4 Junie 2004

Geen, of min notas beteken nie geen werk nie. Ek was besig die afgelope paar dae op die rekenaar … ek het wel gister die insig gehad dat mense, as jy hulle een-vir-een oorweeg, net weerlose diere is wat hulle bes probeer om aan die lewe te bly, en miskien ’n bietjie geluk te smaak tussendeur al die teleurstellings, en die mislukkings, en al die dinge wat nie heeltemal uitwerk soos wat mens graag wou gehad het nie. (En dan is daar natuurlik die “weerlose” kriminele, die “weerlose” korrupte politici, die “weerlose” onderdrukkers en uitbuiters van ander weerlose diere …)

***

In Maart het ek gereken 4 Junie gaan D-dag wees. Dit sou die einde wees van die Kommersiële Diktatorskap, en naby genoeg aan die begin van my lewe terug in Suid-Afrika.

Die werklike 4 Junie was uiteindelik oorheers deur die feit dat my drukker nie gewerk het nie, so ek kon nie die twintig kopieë van my digbundel produseer wat ek wou uitdeel aan vriende en familie nie. So kom, en gaan die dae van ons lewe …

______________________